Wetenskaplike vereer vir studie oor vlermuise in landbou

Alexandra Howard (Foto: Verskaf)

ʼn Navorser verbonde aan die Departement Dierkunde en Entomologie aan die Universiteit van die Vrystaat het onlangs ʼn internasionale beurs ontvang vir haar navorsing oor vlermuise in die landboubedryf.

Alexandra Howard wou spesifiek bepaal hoe vlermuise vrugteboere deur landbou-ekologie kan bystaan met pesbeheer.

Howard het hierdie navorsing vir haar doktorsgraad onderneem weens “ʼn behoefte om ekologiese navorsing en landbou beter te verbind”.

“Terwyl vlermuise ʼn kritieke komponent van ons biodiversiteit is, benodig hulle meer bewustheid en opvoeding onder lede van die publiek weens hul onregverdige negatiewe reputasie.”

Deur haar navorsing wou Howard dus die ekologiese en ekonomiese waarde van vlermuise demonstreer terwyl sy die misplaaste openbare vrese vir vlermuise, vererger deur die Covid-19-pandemie, help teëwerk.

“Dit is ook ʼn lekker uitdaging om mense te probeer oortuig dat vlermuise so wonderlik is soos wat ek dink hulle is!”

Howard se passie en liefde vir vlermuise het reeds tydens die voltooiing van haar meestersgraadstudie ontwikkel. Prof. Peter Taylor, onder wie sy haar doktorsgraad voltooi het, was self ook ʼn pioniersnavorser oor die impak van vlermuise as pesbeheerders op makadamiaplase.

Sy meen die rol van vlermuise spesifiek in die landbou is onvoldoende bestudeer en relatief onbekend in die Vrystaat – een van Suid-Afrika se belangrike landboustreke. Daarom beplan sy om die projek te gebruik om die waarde van vlermuise as deel van geïntegreerde plaagbestuurstrategieë te beklemtoon.

“Deur insekte wat plae veroorsaak te vreet, kan vlermuise die gebruik van duur insekdoders verminder en bydra tot meer volhoubare landboupraktyke.”

Sodoende kan vlermuise verbeterde beskerming geniet deur appelprodusente wat die voordele van dié klein vlieënde soogdiere erken, verduidelik Howard.

Natuurlike plaagbeheer

Sy het in 2022 op ses appelplaasterreine plaaslike vlermuisspesies en insekaktiwiteite gemonitor om te ondersoek of hierdie soogdiere doeltreffende natuurlike plaagbeheerders in vrugteboorde is.

Tussen die appelboorde (Foto: Verskaf)

Vlermuise in die Oos-Vrystaat waar die navorsing gedoen is, is nie vrugtevlermuise nie “omdat dit te koud is, so gelukkig is hulle nie in konflik met die boere nie”, verduidelik Howard.

Die meer as 11 spesies vlermuise wat sy op hierdie plase gevind het, vreet eerder insekte soos kodlingmotte, besies en pylsterte – van Suid-Afrika se grootste landbouplae.

Ondanks verskeie plaagbeheermetodes wat in vrugteboorde gebruik word, is min aandag gegee aan die mate waartoe vlermuise help om plae te beheer, verduidelik Howard.

“Hoewel daar getoon is dat vlermuise help om plae in sommige gewasse in noordelike lande te beheer, weet wetenskaplikes min oor hoe hulle interaksie het met die plae wat vrugtegewasse in Suid-Afrika aantas en of hulle help om vrugtevretende plae in toom te hou.”

Dít is meestal te wyte aan biodiversiteit wat uitgesluit is van konvensionele boerdery en plaagbeheermetodes, verduidelik sy.

Daarom moet heelwat meer klem volgens Howard gelê word op landbou-ekologie – die ontwikkeling van volhoubare en omgewingsvriendelike praktyke deur te kyk na die verhouding tussen plante, diere, mense en hul omgewing.

Nog pryse

Sy het boonop vanjaar een van slegs sewe vrouewetenskaplikes geword om die gesogte L’Oréal-Unesco For Women in Science-nasionale toekenning in Suid-Afrika te ontvang.

Volgens Serge Sacre, L’Oréal Suid-Afrika-landbestuurder, is dit veral belangrik om vrouewetenskaplikes in Suid-Afrika te erken.

“L’Oréal glo vas dat vroue ʼn kritieke rol het om te help om van Suid-Afrika en inderdaad die wêreld se dringendste uitdagings op te los. Hulle moet op elke vlak van die wetenskaplike voorsieningsketting verteenwoordig word – van navorsing en inwerkingstelling tot beleid en programmering.”

Vir Howard is dit ʼn groot eer om dié prys te ontvang, maar sy het ook “ʼn lang pad gestap om hier uit te kom”.

Toekomstige projekte

In haar volgende navorsing wil Howard graag bepaal watter persentasie van die vlermuise se diëte hierdie peste opmaak en of daar ʼn geldwaarde aan hul pesbeheerdienste gekoppel is.

“Met ʼn geldwaarde kan aandeelhouers ʼn beter idee kry van die ekonomiese voordeel van hierdie vorm van pesbeheer.”

Sodoende kan volhoubaarheidsboere, kleinhoewes en uiteindelik ook kommersiële boere op dié wyse veilige en gesonde vrugte produseer terwyl hulle hul ekologiese voetspoor verklein, verduidelik sy.

Howard wil in haar toekomstige navorsing nog maniere vind om die gaping tussen wetenskap en die samelewing verder te oorbrug.

“Ek wil beter samewerking tussen akademici, burgers, bewaring-nieregeringsorganisasies, regeringsektore en studente moontlik maak, aangesien ons almal moet saamwerk om die biodiversiteitskrisis aan te pak wat ons almal in die gesig staar,” merk sy op.

“Die hoop is dat hierdie projek, wat in ooreenstemming is met minstens vyf van die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte vir 2030, aanbevelings sal verskaf wat alle belanghebbendes kan gebruik om volhoubare boerderypraktyke te bevorder en biodiversiteitsbewaringstrategieë te verbeter, wat boerdery uiteindelik meer omgewingsvriendelik maak en tot voordeel van die vlermuisbevolking strek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.