Wetgewer reageer ná LUR se beweerde uitsprake

Mathabo Leeto, die Vrystaatse LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning. Foto: artsculturesa.wordpress.com

Die kantoor van die Vrystaatse wetgewer het Vrydag gesê hy kan nie bevestig of Mathaba Leeto, LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning in dié provinsie, wel na wit mense as “verkragters” verwys het nie.

Volgens die DA het Leeto dié omstrede uitsprake op 3 Augustus tydens ʼn debat oor Vrouedag in die wetgewer gemaak.

Life Mokone, woordvoerder en hoof van kommunikasie in die wetgewer, het aan Maroela Media gesê hy kan bevestig dat Leeto wel aan hierdie debat deelgeneem het. “Ons kan nie in dié stadium bevestig of die LUR na wit Suid-Afrikaners as verkragters verwys het nie. Dit is daarom dat [Jonas] Ramokhoase, die voorsitter van komitees wat die voorsittende beampte tydens die sitting op 3 Augustus was, besluit het om die saak eers te ondersoek om vas te stel wat die presiese woorde was wat die LUR gebruik het voordat hy ʼn beslissing maak,” het Mokone gesê.

Hy het daarop gewys dat die debat oor Vrouemaand ʼn politieke debat was en dat dit daarom belangrik is om die “konteks” te verstaan waarin politici uitsprake gemaak het. Hy het gesê die speaker sal die woordelikse verslag van die verrigtinge nagaan voordat hy ʼn beslissing oor die saak maak.

“Dit is normale prosedure wanneer daar debatte in die wetgewer is. Eerbare lede het die neiging om almal gelyk te praat en dit het ʼn negatiewe uitwerking op die voorsittende beampte se vermoë om onmiddellik ʼn beslissing te maak. Die beslissing word daarom voorbehou tot die volgende sitting wanneer die voorsittende beampte die geleentheid sal kry om die saak te oorweeg en ʼn oordeel te vel.”

Mokone het bevestig dat die gedrag van lede van die wetgewer volgens die wetgewer se reëls gereguleer word en dat sake soos dié na die Etiek- en Ledebelange-komitee verwys kan word om verder ondersoek te word.

Op ʼn vraag of die wetgewer stappe teen die DA sal doen indien dit aan die lig kom dat die bewering vals is, het Mokone geantwoord die wetgewer kan nie verantwoordelikheid neem vir lede se gedrag buite die wetgewer nie. “Dit word dan ʼn saak tussen die lid en die party waaraan die lid behoort. Dit kan ook ʼn siviele saak word tussen die gegriefde lid en die lid wat die stellings in die openbaar gemaak het,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Leeto het erg onder skoot gekom nadat Mariette Pittaway, ʼn DA-lid van die Vrystaatse wetgewer, beweer het Leeto het gesê wit Suid-Afrikaners is verkragters “so ver terug as toe Jan van Riebeeck in die land aangekom het”. Pittaway het verder beweer Leeto het gesê wit mense se grafte moet opgegrawe word “sodat hul lyke kan rekenskap gee” en het na bewering na Roy Jankielsohn, die leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, as ʼn stuk ontlasting verwys.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het hierna ʼn skrywe aan Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, gerig waarin Leeto se afdanking geëis word. Intussen het die Afrikanerbond ʼn amptelike klag by die Menseregtekommissie ingedien en versoek dat die kommissie die saak ondersoek en stappe teen Leeto doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Willem ·

Bestaan daar dan nie bandopnames of transkripsies in die wetgewer van die mense wat aan die debat deelgeneem het en daar gesê is nie?

Verslag ·

Willem en Nettie; dit is baie duidelik dat nie een van jul twee die artikel gelees het nie, anders sou jul nie die vraag omtrent ‘n opname van die debat/’sitting’ gevra het nie.

Willem ·

Verslag, wys my aub op die betrokke sin of paragraaf hier bo in die artikel wat ek moet lees. Al wat ek sien is dat die segspersoon sê dat hulle weet nie eens of sy wel aan die debat deelgeneem het nie. So nou is ek weer terug by my vraag betreffende die rekords, kan hulle dan nie dit naslaan nie, of is daar nie?

Willem ·

Verslag, skuus, ek sien wel daar word beduie dat hulle moet die verslag deurgaan, maar dan bly my vraag, wat wil hulle “ondersoek”, waarom nie in die eerste instansie die verslag raadpleeg nie. Lees sommer net wat daar staan. Hulle speel vir tyd, nie dae nie, dalk weke en maande.

Nettie ·

Waar is die video- en klankopname van hierdie spesifieke sitting? Hoe DOM dink dié “agbare lede” is ons blankes regtig? Ons voorsate kom immers van die ontwikkelde EUROPA af, nie van die een of ander ontwikkelende, derderangse Afrikalandjie nie. Ons is van Abel se nageslag, nie Kaïn s’n nie.

Yankee ·

Hierdie mense moet almal vir die Springbokke rugby speel. So van systap het ek nog nooit ervaar.

Hoc est bellum ·

Hulle het nogal lank geneem om terugvoering te verskaf. Seker tyd nodig gehad om verskonings uit te dink.

Cherokee ·

Interessante vraag, Willem. Ander kommentators, lees jul eie kommentare en probeer waarde heg daaraan soos in 0 -10.
Indien Leeto ontken dat sy dit gesê het, behoort haar ontkenning aan elke een wat teenwoordig was by die debat oor Vrouedag, gestuur word sodat hulle wat haar gehoor het en haar ontkenning sien, haar na waarde kan opweeg.

Willem ·

Dankie Ch, ek het jou gelees, jy het baie gehelp en het ek hier bo ‘n regstelling geplaas. Terloops, ek het myself 0 uit 10 gegee.

Willem ·

Ek sien Maroela het dit nog nie geplaas nie, kom ons hou duime. Maar in wese gaan dit daaroor, om die rekords na te slaan, hoeveel burokratiese ure, weke, maande, kan dit vat en lees wat daar staan. Hulle moet net nie stertjies bylas nie, vertel soos dit gebeur het. Die beste sou wees as daar ‘n video was, dan kon hulle als wat daar gebeur het en gesê was vir die publiek oorlaat om te oordeel.

pieter ·

Ons gaan heel moontlik hoor die transkripsies / bandopnames is nie beskikbaar / onopspoorbaar – lees vernietig – en dud kan daar nie opgetree word nie.

Maar indien dit beskikbaar is, en indien sy dit wel gegorrel het, sal dit interessant wees om te sien wat van die saak gaan word. Waarskynlik sal niks gebeur nie.

Maar o wetter, as Pittaway dit teenoor hulle sou kwytraak …

Susan ·

Dit wil voorkom of die Afrikanerbond ook begin wakkerskrik uit hulle groot slaap en begin agterkom dat hulle wesentlike foute gemaak het.

Oom Kalahari ·

Laat ons maar hoop hierdie aangeleentheid sal nie ‘n stille dood sterf nie. Alhoewel dit weereens ‘n lang uitgerekte proses gaan word is die moontlikheid nie uitgeskakel dat alle bewys stukke dalk verlore sal raak nie.

Kobus ·

Hou in gedagte dat daar die onmoontlike van hierdie LUR’e verwag word, nl. om vanself iets sinvols uit te dink om te sê. Die kritiek en negatiewe kommentaar is dus dalk ongevraagd. Elke politikus behoort iemand met ń bewese IK as raadgewer te hê.

Nonnie ·

Maw, tydens ‘n debat mag jy se net wat jy wil en daarmee wegkom?

Johanna Botha ·

Die kaliber mense wat die land probeer regeer is verbysterend en op n ander vlak …net in SA em zim lyk my kry mense dit!

Sê-ma-net ·

Daar is ongelukkig ‘n beter manier in Engels eerder as Afrikaans om te verwoord wat in Suid Afrika aangaan: “When Stupid Rules…”

Katerina ·

And when those who cannot run a bath without stealing the water and breaking the bath, try to run a country….

Erich ·

Kan Afriforum nie die saak ondersoek en daarna n klas aksie instel nie? Ek is seker daar is baie van ons wat n bydrae sal lewer.

Katerina ·

Definitief!!! Ek sal so n klas aksie entoesiasties ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.