Wetsontwerp lei tot ʼn beperking van ondersteuning aan slagoffers

(Argieffoto)

Solidariteit het vandag sy kommentaar op die Wetsontwerp op Ondersteuningsdienste vir Slagoffers ingedien. Volgens Solidariteit skep die wetsontwerp in sy huidige formaat meer struikelblokke as wat dit probleme oplos.

“Die wetsontwerp het ten doel om enige fasiliteit wat enige vorm van ondersteuningsdienste aan slagoffers van geweldsmisdaad bied, te reguleer,” verduidelik Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit se gilde vir maatskaplike werkers. “In sy geheel is die wetsontwerp aan die een kant verskriklik vaag en breed, maar aan die ander kant ook onredelik streng in soverre dit die afdwinging van sekere finansiële en administratiewe vereistes aangaan. Maatskaplike werkers en ander persone wat ondersteuningsdienste bied soos beraders, predikante en dokters, moet reeds almal aan sekere statutêre vereistes voldoen. Hierdie wetsontwerp gaan net groter druk op hierdie beroepe plaas.”

Volgens Solidariteit bedreig die wetsontwerp die volhoubaarheid van verskeie bestaande ondersteuningsentrums, sowel as die veiligheid van slagoffers in baie gevalle.

“Daar is reeds ʼn tekort aan sentrums wat hierdie broodnodige ondersteuning aan geweldslagoffers bied. Indien die wetsontwerp in sy huidige formaat aanvaar word, gaan dit net moeiliker raak om hierdie dienste te lewer,” het Engelbrecht bygevoeg.

“Die rigiede registrasievereistes plaas ʼn onbillike las op huidige sowel as potensiële sentrums wat mense dikwels op ʼn niewinsgewende basis probeer bystaan. Dit, sowel as die onredelike streng sanksies soos boetes en tronkstraf wat vir nievoldoening opgelê kan word, sal baie mense wat in die beroep staan, wegdryf terwyl dit ander gaan ontmoedig om die beroepe te betree.”

Volgens haar is waarskynlik die mees kommerwekkende aspek van die wetsontwerp dat dit geen duidelike maatreëls daarstel vir die uitkenning van oortreders by polisiestasies nie. “Dit kan daartoe lei dat slagoffers verder blootgestel gaan word omdat hulle tydens uitkenning moontlik in dieselfde vertrek as die beweerde oortreders sal moet wees.”

Klik hier om Solidariteit se volledige kommentaar op die wetsontwerp te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Annette

Wat wil hulle hierdeur bereik? Dit gaan beslis nie oor die welsyn van slagoffers nie.

Andre

Dit gaan alles net oor beheer van alles wat die regime wil uitoefen. Beheer net “our people” en die res kan hul pligte nakom.

Lian

Dit is eintlik niks nuuts nie . Hulle probeer daardeur misdaadsyfers laag hou want as dit nie op papier is nie , het dit nie gebeur nie en niemand kan tot verantwoording geroep word nie , Soos bv die president se verswyging van plaasaanvalle, die onbetroubare seksuele misdaadsyfers.