Wetsontwerp om vry, regverdige verkiesing te verseker

Argieffoto

Argieffoto

Die Demokratiese Alliansie sal binnekort ʼn wetsontwerp by die parlement indien wat vry en regverdige verkiesings vir die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sal verseker.

James Selfe, DA-LP, het Maandag gesê dié wetsontwerp sal die OVK die geleentheid bied om “baie meer aktivisties” op te tree om seker te maak die verkiesings is vry en regverdig.

“Wat gewoonlik tans gebeur, is dat die OVK ons aansê om óf die verkiesingshof óf die polisie te nader,” het Selfe aan verslaggewers in Johannesburg gesê. “Maar die polisie is te besig om misdade op te los en die verkiesingshof vat te lank en is te duur. Ons versoek die OVK om, in lyn met dit waartoe hy homself vroeër verbind het, ʼn kantoor oop te maak vir verkiesingsmisdrywe waar voorvalle van verkiesingsbedrog of wanadministrasie aangemeld kan word.”

Kragtens die wetsontwerp sal die OVK sake kan ondersoek wat aangemeld word en bewyse aan die Nasionale Vervolgingsgesag kan oorhandig.

Selfe het gesê die land het die wetsontwerp nodig, want alhoewel die Grondwet bepaal dat die OVK moet seker maak dat die verkiesing vry en regverdig is, en die kommissie dit tans goed bestuur, dit nie verseker dat die verkiesing vry en regverdig is “kragtens die internasionaal aanvaarde definisie van dit wat vry en regverdige verkiesings behels nie”.

“Ons wil hê hierdie wetsontwerp moet optrede, soos die misbruik van staatshulpbronne en die misbruik van die openbare uitsaaier [SAUK] – veral tydens verkiesingstye – voorkom,” het hy gesê. “Ons het al reeds gewys op die mate waartoe die openbare uitsaaier baie meer mediadekking verleen aan die regerende party as enige ander opposisieparty. Die wetsontwerp moet hierdie tipe aspekte reguleer, sodat die speelvlak in die Suid-Afrikaanse verkiesingsarena gelyk gemaak word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.