Wetsontwerp oor landbougrondbesit verg noukeurige oorweging

Argieffoto: led.co.za

Die vakbond Solidariteit het kommentaar ingedien oor die Wetsontwerp op die Regulering van Landbougrondbesit (2017) wat deur die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming gepubliseer is.

Volgens Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), poog dié omstrede wetsontwerp om die regering se beheer oor en betrokkenheid by landbou te verbreed deur middel van ʼn reeks regulatoriese intervensies.

“Hierdie intervensies poog om onder andere die volgende in te stel: ʼn grondkommissie, ʼn register van landbougrondeienaarskap waarin ras, geslag en nasionaliteit aangedui moet word, ʼn verbod op die verkryging van landbougrond deur buitelanders, kategorieë van plafonne wat die besit van landbougrond beperk, en om sekere grondgedeeltes wat die aangewese plafonne oorskry as landbougrond vir hertoewysing te oormerk,” verduidelik Van Onselen.

Solidariteit is daarvan oortuig dat die waarskynlike ekonomiese gevolge van die Wetsontwerp op die Regulering van Landbougrondbesit noukeurige verdere ondersoek vereis. Van Onselen het ook genoem dat daar tans onsekerheid is oor die presiese uitwerking van die wetsontwerp soos dit tans daar uitsien, maar dat dit waarskynlik skadelik vir die ekonomie sal wees.

“Die minister se finale gedelegeerde gesag in die vasstelling van plafonne, asook die regulasies wat nog opgestel moet word, maar waarvoor die wetsontwerp reeds voorsiening maak, dra by tot die onsekerheid,” het hy bygevoeg.

Solidariteit se aanbeveling is dat die wetsontwerp teruggehou moet word totdat ʼn deegliker en meer deursigtige sosio-ekonomiese koste-voordeel-analise uitgevoer is en dit aan ʼn openbare ondersoek onderwerp is. ʼn Verdere problematiese aspek is dat dit moeilik is om die presiese ekonomiese impak te bepaal omdat daar onsekerheid bestaan oor die werklike aard van die genoemde plafonne.

Volgens Van Onselen is dit belangrik om die regstreekse en onregstreekse impak van landbou op die ekonomie in ag te neem. Kommersiële landbou is steeds ʼn belangrike werkgewer en speel ʼn belangrike rol in uitvoere, en gevolglik ook in Suid-Afrika se handelbalans. “Daarbenewens is hierdie sektor nóú gekoppel aan ander sektore wat van landbou-insette gebruik maak. ʼn Verswakte landbousektor kan ʼn nadelige domino-effek op ander sektore van die ekonomie hê,” sê Van Onselen.

“Daar is in werklikheid slegs ʼn klein aantal van die totale getal boere in Suid-Afrika wat meer as slegs op bestaansboerdery produseer. Dit is diegene wat die res van Suid-Afrika voed en tot uitvoere bydra. Maatreëls wat ʼn goed funksionerende landboumark kniehalter en wat beleggings in landbou en landbouproduksie verhinder, sal ondeurdag wees,” sê Van Onselen.

Spesifieke knelpunte wat in Solidariteit se kommentaar vervat is, sluit in: die impak op die totale landbouproduksie; die impak op landboubeleggings; die addisionele koste van bykomende rompslomp; en die moontlike uitwerking op die waarde van grond en die breër finansiële sektor.

Solidariteit het die reg voorbehou om, indien nodig, in ʼn later stadium die grondwetlikheid van die wetsontwerp te toets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Moenie te gou besluite neem nie. Kritiek teen Zuma en die Guptas bou op… wag en kyk… Die spul wil ‘n De Klerk-senu-ineenstorting afdwing vir gou-gou toegewings. Asb nee!

al ·

Gelukkig het die Minister van Landbou common sense en erken die nadele en tekortkominge. Landbou is nog ñ handelsbeen en bron van inkomste vir SA se ekonomie, asook om die bevolkingsgroei se voedselbehoeftes te voorsien, daarom moet daar omsigtig mee gewerk word.
Daarom sê ek as studie bewys dat ñ klein persentasie belang stel (landboukolleges) gee eerder vir die meerderheid ambagsvaardighede ens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.