Wetsontwerp oor onteiening eers teruggetrek

Jeremy Cronin, adjunkminister van openbare werke. Foto: Flicr/GovernmentZA

Die ANC het vanoggend in die parlement onverwags voorgestel dat die huidige wetsontwerp oor onteiening, wat al vier jaar voor die parlement sloer, teruggetrek word.

Die adjunkminister van openbare werke, Jeremy Cronin, het die voorstel namens die kabinet gemaak in die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke.

Die huidige wetsontwerp is nie dieselfde as die parlementêre proses oor onteiening sonder vergoeding wat tans aan die gang is nie. Cronin het gesê dat die kwessies waaroor die wetsontwerp handel en die kwessies waaroor die grondwetlike hersieningskomitee besin, nie dieselfde is nie, maar wel baie oorvleuel.

Waar die grondwetlike hersieningskomitee slegs oor ’n moontlike verandering in die Grondwet besin om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak, gaan dié wetsontwerp oor die onteiening van alle vorme van eiendom – selfs intellektuele eiendom – met vergoeding.

Cronin, wat een van die voorste en mees gerespekteerde intellektuele in die ANC en die SAKP is – het aangekondig dat die regering die wetsontwerp, wat besonderhede uiteensit vir onteiening met vergoeding binne die huidige grondwetlike raamwerk, binnekort weer met wysigings gaan indien.

Cronin het gesê die grondkwessie is baie polariserend, met wat die regering beskou as regse groepe, soos die burgerregtegroep Afriforum en die Amerikaanse president, Donald Trump, aan die een kant, en linkse groepe soos die EFF (hy het hulle nie by name genoem nie, maar verwys na “’n spesifieke party wat vandag afwesig is”) aan die ander kant.

“In die middel is die regering, wat ’n Suid-Afrikaanse oplossing probeer vind om grond meer toeganklik te maak en beleggings te lok,” het Cronin aangevoer, en dit onomwonde gestel dat die kabinet nie wil hê Suid-Afrika moet dieselfde weg as Zimbabwe volg nie.

Cronin het gevra dat gemoedere moet kalmeer en gesê dit is hoekom die regering die huidige wetsontwerp eers wil terugtrek. Die regering sal die gewysigde wetsontwerp op onteiening indien na afloop van die grondwetlike hersieningskomitee se verslag. Die gewysigde wetsontwerp sal dan ook aandui onder watter omstandighede onteiening sonder vergoeding mag plaasvind.

“Die wetgewing sal steeds alle vorme van eiendomsreg insluit, met klem op die grondwetlike vereistes dat dit regverdig en gelykmatig moet wees, en dat administratiewe geregtigheid moet geskied.

“Die kabinet wil graag art. 25 (8) en art. 36 (1) van die Grondwet in die voorgestelde wetgewing vervat,” het Cronin gesê.

Art. 25 (8) is ’n deel van die eiendomsklousule wat bepaal dat “geen bepaling in hierdie klousule die staat daarvan mag weerhou om wetgewende en ander maatreëls daar te stel om hervorming betreffende grond, water of verwante aspekte te onderneem nie, ten einde die gevolge van rassediskriminasie van die verlede reg te stel nie, met dien verstande dat dit onderhewig is aan die bepalings van art. 36 (1)”.

Art. 36 (1) handel oor die beperking van regte en bepaal dat “die regte vervat in die handves van regte slegs kragtens wetgewing beperk mag word indien dit redelik en regverdigbaar is in ’n oop, demokratiese samelewinggebaseer om menswaardigheid, gelykheid en vryheid, in ag genome alle relevante faktore insluitend die aard van die reg, die belang en doel van die beperking, die aard en omvang van die beperking, die verhouding tussen die beperking en die doelwit daarvan en minder gestrenge maniere om die doelwit te bereik”.

Cronin het in die vooruitsig gestel dat die nuwe wetsontwerp spoedig ingedien sal word, met ’n paar veranderings. Die doelwit is om dit reeds teen die einde van aanstaande maand te doen, mits die grondwetlike hersieningskomitee se werk teen dan afgehandel is.

Die doelwit is dat die kabinet dan die wetsontwerp vir openbare kommentaar sal indien, en drie maande sal toelaat vir openbare kommentaar, sodat daardie proses teen die einde van Desember afgehandel is.

Dit sal dan aan die nuwe parlement wat in volgende jaar se verkiesing aangewys sal word, oorgelaat word om die wetgewing af te handel, het Cronin gesê.

In die afwesigheid van die EFF was die ander politieke partye grootliks positief (die DA het sy regte voorbehou), maar dit was duidelik dat onenigheid in die ANC oor die grondkwessie steeds voortbestaan toe die invloedryke voorsitter van die portefeuljekomitee en ANC-LP Humphrey Mmemezi gesê het dis belangrik dat stabiliteit moet heers en Suid-Afrika nie die pad van Zimbabwe moet loop nie, maar terselfdertyd “kan die een groep wat al die voordeel uit apartheid getrek het, nie ook al die voordeel onder die demokratiese regering trek nie”.

Die portefeuljekomitee het dus aan die speaker aanbeveel dat die wetsontwerp wat tans voor die parlement is teruggetrek word, met dien verstande dat dit weer binnekort met wysigings ingedien sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rynhardt

Jeremy Cronin van SAKP is soos gewoonlik voor in die koor met wetsontwerp!Daardie wetsontwerp moet mooi bewerk word om nog beter uitbuiting op n uitgeslape manier te verseker!??????

Paul

Voor julle nou weer aanjaag, ek sal ‘n nuwe een opstel, verniet, dit sal julle nie ‘n sent kos nie.

Christo Meintjes

Moenie julle blindstaan oor die gebeurtenis nie. Die is net oë verblindery . Die ANC sal doen wat hulle van plan is om te doen en dit is om om in totale beheer te wees van elke burger in Suid Afrika en dit sluit in grond onteiening sonder vergoeding.

Kapenaar

Tog interessant om te sien hoe die ANC begin terug skarrel nadat druk van die buiteland begin opbou. Moet die sosialiste/komministe net nooit vertrou nie!!!! Ek se dit vir Agri SA ook. Die mense is nie ons vriende nie. Vermeeder die druk en kry so veel buitelandse druk soos moontlik.

Lerato

Daar is 4 honde wat baklei om n been.
Die DA, die EFF, die Zumaniete in die parlement, die gematigdes aan Ramaphosa se kant.

Die been waaroor hulle veg is die stem van die kiesers in 2019.

Ek twyfel of ons voor die verkiesing klarigheid gaan kry oor die grond kwessie