Wetsontwerp op die bemagtiging van vroue en geslagsgelykheid onwettig – Solidariteit

regstellende aksieDie parlement se goedkeuring van die Wetsontwerp op die bemagtiging van vroue en geslagsgelykheid sal nog meer verwarring rondom die toepassing van regstellendeaksiemaatreëls in die werkplek teweegbring, het Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke Vrydag gesê. Die sentrum is van mening dat die doel van die wetsontwerp niks anders is nie as die oplegging van ’n statutêre kwotastelsel wat duidelik strydig is met die Wet op Diensbillikheid. Luidens artikel 63 van die Wet op Diensbillikheid troef die Wet op Diensbillikheid hierdie nuwe wetsontwerp, wat die toepassing van die wetsontwerp nietig sal maak.

Volgens die wetsontwerp moet openbare liggame en maatskappye ten minste 50%-verteenwoordiging van vroue in besluitnemingstrukture verseker wat met uiters swaar boetes gepaardgaan, sou ’n werkgewer nie daaraan voldoen nie. Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê ’n werkgewer se voldoening aan die een wet sal lei tot die oortreding van ’n ander een. “Werkgewers moet tans aan die Wet op Diensbillikheid en aan die kodes vir breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) voldoen wanneer numeriese teikens vir die verteenwoordiging van aangewese groepe gestel word. As die wetsontwerp deur die president as wet bekragtig word, sal dit beteken dat werkgewers dan aan nóg ’n statuut sal moet voldoen. “Volgens die Wet op Diensbillikheid moet werkgewers wat meer as 50 werknemers en of ’n spesifieke omset (soos voorgeskryf) het regstellendeaksiemaatreëls toepas ten einde ‘billike verteenwoordiging’ te bewerkstellig. Die Wet op Diensbillikheid, wat in geval van konflik met dié wet, alle ander wetgewing vervang, vereis slegs “redelike akkommodering” en verbied die gebruik van kwotas uitdruklik.”

Groenewald sê dat werkgewers voorts ingevolge die BBSEB-kodes, soos wat dit vir die onderskeie bedrywe geld, verplig word om sekere diensbillikheidsteikens te behaal ten einde die nodige gradering te behaal, wat ook niks anders as ’n kwotastelsel is nie. “Die nuwe diensbillikheidsregulasies, wat deur die minister van arbeid afgekondig en op 28 Februarie 2014 gepubliseer is, is ’n verdere poging om die Wet op Diensbillikheid in ‘n kwotastelsel te omskep. Dit stipuleer dat daar van werkgewers met meer as 150 werknemers verwag word om die nasionale ekonomies aktiewe bevolking te gebruik wanneer numeriese teikens en/of die verskil tussen die nasionale en streeks- ekonomiese aktiewe bevolking vasgestel word. Dit is inderwaarheid presies dieselfde kwotastelsel as wat deur die BBSEB-kodes vereis word; en as wat die wetsontwerp op die bemagtiging van vroue en geslagsgelykheid beoog om te bewerkstellig. In die lig van die feit dat hierdie maatreëls daarna streef om absolute numeriese rasverteenwoordiging af te dwing, is hierdie bepaling duidelik strydig met artikel 15(3) van die Wet of Diensbillikheid en die doel van die wet, wat naamlik die daarstelling van “billike verteenwoordiging” is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.