Wetstoepassers keur wysiging goed aan Minimumloonwet

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede 2019 (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die Suid-Afrikaanse Parlement het ʼn wysiging aan die Wet op Minimum Lone goedgekeur vir gewone werkers om minstens R20 per uur betaal te word ná ʼn tegniese fout in die oorspronklike wetgewing opgespoor is.

Die wysigingswetsontwerp is Woensdag middag tydens die Nasionale Vergadering se finale voltallige sitting van die vyfde parlementêre termyn goedgekeur.

Die Nasionale Wet op Minimum Lone het ten doel om die 2018-wet te wysig.

Die Wet het ten doel om ekonomiese ontwikkeling te bevorder deur die lone van die laagsbetaalde werkers te verbeter, werkers te beskerm teen onredelike lae lone, om kollektiewe onderhandeling te bevorder en ekonomiese beleid te ondersteun.

Die Wet bepaal ʼn verpligte nasionale minimumloon van R20 vir elke gewone werksuur. Die Wet bepaal dat alle werknemers nie minder as die minimumloon betaal mag word nie en dat werkgewers nie minder as die minimumloon mag betaal nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het in November verlede jaar die Wet onderteken wat op 1 Januarie 2019 in werking getree het.

ʼn Fout het egter aan die lig gekom waar die instelling van die Wet terugdateer is tot Mei 2017. Die parlementêre portefeuljekomitee oor arbeid het bepaal dat die Wet gewysig moet word, alhoewel die implementering daarvan nie opgeskort is nie.

Die Wet sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

J ·

So as jy nie kan bekostig om die loon te betaal nie, dan het jy nie keuse as om persoon te laat gaan nie

johanII ·

Hoe gaan dit “ekonomiese ontwikkeling” bevorder. So ek MOET R20 betaal, MOET die werker ook sy kant bring, i.e. hard werk, nie op Maandae gesuip wees nie, sy werks kwota maak, nie slaap as ek my rug draai nie, nie alles breek waaraan hul vat nie, ens…. Ons arbeids mag is eenvoudog nie die geld werd nie. Dan vee ek maar self die vloer, dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.