Wetswysigings wil proses van pleegsorg vergemaklik

Argieffoto (Foto: falco/Pixabay)

Die regering is op die punt om ʼn wysigingswetsontwerp op kinders by die parlement in te dien wat groot veranderings aan pleegsorg in Suid-Afrika sal behels.

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het dié aankondiging Maandag in die parlement gemaak in antwoord op ʼn parlementêre vraag deur Bridget Masango, DA-LP.

Sou die wysiging aanvaar word, sal art. 25 van die wetsontwerp aan hooggeregshowe die bevoegdheid gee om ook, soos kinderhowe, te besleg in kwessies oor voogdyskap van weeskinders of kinders wie se ouers nie na hulle omsien nie.

Volgens Zulu werk haar departement al sewe jaar aan die nuwe wetsontwerp, en is dit baie lank en omvattend.

Die wetsontwerp sal die druk op kinderhowe, wat tot dusver al bogenoemde sake moes hanteer, verlig en beteken dat sake met betrekking tot voogdyskap nie so lank vertraag sal word nie.

Art. 57 stel strenger kwaliteitbeheer oor pleegsorg in, met strenger strawwe vir diegene wat nie standaarde handhaaf nie. Die wysiging volg ná ʼn hooggeregshofuitspraak wat strenger maatreëls beveel het.

Art. 89 maak dit moontlik vir die hof om ʼn bevel uit te reik dat sorgbehoewende kinders in die sorg van ʼn ouer of familielid geplaas word, waar daardie ouer of familielid bevoeg is om na die kind om te sien. Die doel is om minder kinders in pleegsorg van die staat te hê.

Nog ʼn belangrike artikel is art. 99 wat voorsiening maak vir behoorlike en gereelde toesig oor die omstandighede van kinders wat in langtermynpleegsorg geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

aj ·

Kinders wat nie deur 2 liefdevolle en finansieël onafhanklike ouers grootgemaak gaan word nie …. moet NIE GEBORE word nie.

‘Voorkoming’ van verwaarloosde en verlate kinders is beter (en goekoper) as GENESING!

Sapiens qui prospicit! (Wys is die een wat vooruitkyk!)

Johan ·

Ek stem volkome saam. Daarom dat ek en my vroulief nie kinders sal hê nie.

Pleegma ·

Ek het ‘n kind in pleegsorg wat permanent by my geplaas is. In die 3 jaar het ek nog nooit gehoor van, of ‘n maatskaplike werkster gesien met ‘n oog nie! Ek dra self die volle koste vir skool, naskool, sport, kos, klere, medikasie en uitstappies.
Wat ‘n vreugde om ‘n diep gelowige, gehoorsame rugby spelertjie van formaat as my kind te kan hê! Aan almal wat pleegkinders inneem, ASSEBLIEF, wees baie lief vir hulle, beskerm hulle en versorg hulle na die beste van jou vermoeë, hulle kan jou net betaal met liefde en respek . . .

Linda J ·

Jip ek is baie lief vir my pleegsorg kind, maar volgens wet is ons nie veronderstel om skoolfons te betaal nie. Baie skole verplig ons om te betaal vir skoolfons van pleegsorg kinders al is jou bevel deur die hof. sommige pleegsorg ouers is ongelukkig nie so bevoorreg om skoolgeld te kan betaal nie. Baie pleegsorg kinders by by hul ouma en oupa wat ook maar net van ‘n pension afhanklik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.