Wettige kannabis-besteding wêreldwyd kan binne vyf jaar met miljarde toeneem

(Argieffoto: Richard Vogel/AP)

Die groei van medisinale kannabis (dagga) het enorme moontlikhede om ekonomieë te help groei en die wêreldwye, wettige besteding daaraan gaan na verwagting binne vyf jaar die R600 miljard-kerf verbysteek.

Volgens die kannabis-navorsingsmaatskappy BDS Analytics gaan wêreldwye besteding vanjaar tot sowat R220 miljard groei en teen 2024 op R600 miljard staan.

James Vos, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede, het vandeesweek gesê dit is nie aldag dat ʼn nuwe bedryf met soveel groeipotensiaal gesien word nie.

“Die groei van medisinale kannabis het enorme moontlikhede om die ekonomie te help groei en werk te skep. Kaapstad is oop vir sake,” het Vos by ʼn kannabis-konferensie in Kaapstad gesê.

Die bekendstelling van Suid-Afrika se lisensiëringsraamwerk vir die produksie en vervaardiging van medisinale kannabis vir wetenskaplike en kliniese navorsingsdoeleindes gaan nuwe beleggingsmoontlikhede vir die streek teweeg bring. Die moontlikhede vir buitelandse belegging is groot en gaan ʼn beduidende bydrae tot inkomste, werksgeleenthede en vaardigheidsontwikkeling maak, het Vos gesê.

Hy het gesê die stad het reeds heelwat belangstelling van beleggers bemerk wat nie net gegrond is op die provinsie se landboubedryf nie, maar ook omdat Kaapstad besig is om ʼn leier op die gebied van farmaseutiese navorsing en ontwikkeling, asook gesondheid en biotegnologie te word.

Wesgro, die stad se beleggingsbevorderingsagentskap, het reeds twee vorige vergaderings met die bedryf gehad.

“Ek sien uit na suksesvolle interaksie en vennootskappe saam met diegene wat gereed is om in Kaapstad te belê. Ek is trots op die stadsraad se besluit in Mei vanjaar om nagenoeg 10 ha in Atlantis vir die produksie van medisinale kannabis beskikbaar te stel. Dit was ʼn baanbrekersbesluit wat die grondslag gelê het vir Kaapstad om sy potensiaal in dié onontginde sektor te bereik,” het Vos gesê.

(Argieffoto: pixabay)

Hy het gesê dit is ook ʼn aanduiding van die stad se verbintenis om met die private sektor saam te werk om nuwe moontlikhede te ondersoek om die ekonomie ʼn hupstoot te gee, beleggings te lok en werk te skep.

“Ons verwelkom nuwe tegnologie om klimaatsprobleme teen te werk. Voorbeelde van dié nuwe tegnologie sluit in beheerde omgewingslandbou, asook presisieboerdery.

“Kweekhuislandbou het tussen 2013 en 2017 met 43% toegeneem en nagenoeg 186 ha grond is onder tonnels,” het Vos gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ander Koos ·

Medisinale kannabis is net mooi naam vir dagga en geen bewys dat dit enige siektes genees nie, behalwe moontlike onderdrukking van epilepsie in jong kinders. Hierdie is geld maak foefie en bly ‘n dwelm wat brein op langduur aantas. no brain no pain” iets wat regerings en wêreldmagte pas want dan regeer hulle oor klomp mense wat nie vir hulle self dink nie

Mieke ·

Ander koos, ek weet enigiemand kan/mag sy eie opinie he I v m dagga.
Ek, vir een, sal dit nooit rook nie, ek hou nie van die gevoel van dronk of onder die invloed wees van chemiese middels nie.
Wat ek wél kan se, is dat medisinale dagga, oftewel dagga waarvan die hallusinasie-middel verwyder is, mÿ lewe handomkeer verander het. Ek het my rug op 5 plekke gebrek, is “disabled”, maar erger as dit, het ek Konstand pyn (gehad)……..
Nou, na ek omtrent ‘n jaar gelede ‘n dagga-olie gevind het wat vir my werk, stap ek (met ‘n stok) 5,5km met my honde – Solank daar nie te veel opdraendes is nie, daarmee sukkel ek nog, ry ek 20km “boendoe-bashing, dus plaaspaadjies en enkelpad stofpaaitjies met my fiets, en kan ek 2werke behartig wat baie loop en staan behels…….
Dit is werklik nie ‘n foefie, of geld maak storie nie………
Ek is geweldig dankbaar om my lewe terug te hé.

Cherokee ·

Medisinale kannabis – daar word klem gelê op die medisinale deel. Dagga is dagga.

Kannabis ·

Voor jy weer kommentaar lewer omtrent iets waarvan jy duidelik niks weet nie [soos só dikwels], doen eers ‘n bietjie navorsing.

Sarel ·

Kan ‘n mens dit eet ook? Daar is nie eers water vir kos (boerdery) nie….. plant maar die twakkies. Ons sal sien wat die maaggies gaan vul!!!
‘n Whisky per dag hou ook die dokter weg….

A ·

Ek kan jy verseker dit werk vir arthritis ook. Ek drink geen pyn pille meer nie

Karolis ·

Koos jy is heeltemal reg.
Mieke, my opinie braak gal by jou. Met baie wilskrag en verbeelding sou jy alles reggekry het sonder die duur olie.

Mieke ·

Karolis, glo wat jy wil, en ek glo wat ek wil.
Moenie oordeel tot jy in my skoene geloop het nie, net soos wat ek ook nie moet oordeel oor ander nie.
Lekker aand!

Attie. ·

Mens mag dagga plant vir eie gebruik. Dit beteken jy mag 3 of 4 plante plant en dis al. Eie verbruik beteken jy mag dit nie weggee of verkoop nie. Ek hoor alle farmaseutiese firmas gaan bankrot speel aangesien dagga ‘n baie beter pynstiller is alle produkte tans in apteke beskikbaar. Jy mag nie die pitte vir iemand gee nie, nou waar kry jy saad? dit val sommer uit die lug uit. Almal plant blykbaar die gesonde medisinale dagga maar vir my lyk dit steeds na gewone dagga of kry mens deesdae veredelde dagga?

Dewald ·

Natuurlik mag jy die saad vir ander mense gee. Net soos wat jy ook jou foon mag gebruik terwyl jy bestuur. Wie gaan jou vang? Of luister jy te alle tye vir die regering?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.