Wewenaar sal ‘nooit weer vrede hê’

Sue Howarth (links) saam met haar buurvrou, Claire Taylor. (Foto: Verskaf)

Die wrede moord op Robert Lynn se vrou, Sue Howarth, op ’n plaas in Dullstroom vyf jaar gelede het hom tot in sy binneste geruk en van sy vrede beroof.

Só het Lynn, wat nou in Ierland woon, vroeër die maand in ’n emosionele impakverklaring aan die hof gesê voordat Howarth se moordenaars Donderdag in die Breyten-landdroshof in Mpumalanga tot 20 jaar tronkstraf vir haar moord gevonnis is.

Maroela Media het vroeër berig dat die broers Nkosinathi en Themba William Yika onder meer ook vonnisse van 15 jaar vir huisroof opgelê is, 12 jaar vir poging tot moord en vyf jaar vir ontvoering. ʼn Derde beskuldigde, Lukas Makua, is destyds in aanhouding dood.

In sy brief oor die uitwerking van dié voorval op sy lewe, wat as bewys ter strafverswaring by die hof ingedien is, het Lynn gesê dat hy sy vrou van 40 jaar in ʼn oogwink verloor het.

“Ek is in my bed wakker gemaak, in die nek geskiet en vir geld gemartel. Ek, sowel as my vrou, is in ’n veld in die donker gegooi en vir dood agtergelaat.

Sue Howarth en Robert Lynn is op 17 Februarie 2017 op die plaas Marchlands buite Dullstroom, aangeval en gemartel. (Foto: Hennie Bekker)

“Weens die trauma van die voorval moes ek my hele lewe oppak en die land verlaat omdat ek nie meer veilig gevoel het nie,” het Lynn onder meer in sy brief geskryf.

Die moordenaars het Howarth en Lynn op 17 Februarie 2017 op die plaas Marchlands, ongeveer tien minute buite Dullstroom, aangeval en wreed gemartel. Die skuldiges het destyds ook met die erg beseerde egpaar in hul Nissan Hi-Rider-bakkie weggery en hulle in ’n veld agtergelaat.

Lynn en Howarth is ook geskiet en ’n plastieksak is in Howarth se mond gedruk. Sy is later in die hospitaal dood.

Lynn het verder gesê dat die wyse waarop hy sy vrou aan die dood moes afstaan, hom tot in sy binneste geruk het.

“Ek sal nooit weer vrede hê nie. Ons vriende en familie is net so getraumatiseerd soos ek. Ek is in my eie tronk van vrees en absolute hartseer weens die gewelddade teenoor my en Sue.”

In sy brief sê Howarth dat hy hoop die skuldiges tot lewenslange tronkstraf sonder die moontlikheid van parool gevonnis sal word.

“Hulle het bewys dat hulle beroepsmisdadigers is. Ek sal self vir die res van my lewe in ’n tronk wees sonder ’n kans op parool.”

Johan Kloppers, berader by AfriForum se traumaeenheid, en Claire Taylor, ’n vriendin van Sue Howarth, Donderdag by die Breyten-landdroshof. (Foto: Verskaf)

Lynn sê benewens die fisieke letsels wat die wrede aanval gelaat het, sal die trauma om die “oorlewende slagoffer” te wees, hom altyd bybly.

ʼn Hegte vriendin en buurvrou van Howarth en Lynn, Claire Taylor, het ook ʼn impakverklaring by die hof ingedien. Sy het die verrigtinge Donderdag bygewoon.

In haar brief sê Taylor dat sy en haar man, Allan, ʼn baie goeie vriendin verloor het terwyl die gemeenskap van ʼn omgeemens beroof is.

“Ek en Sue het ʼn liefde vir diere gedeel en baie tyd in Sakhalwe – ʼn plaaslike township – deurgebring waar ons mense gehelp het om vir hul diere te sorg.

“Ons werk het baie mense gehelp wat nie die geld gehad het om hul geliefde troeteldiere te versorg nie.”

Taylor het ook in haar brief gesê dat die voorval haar en Allan in vrees gedompel het en dat hulle gereeld aan die gruwelike dade teenoor Howarth en Lynn herinner word wanneer hulle verby hul huis stap of ry. Die Taylors se huis is op dieselfde plaas as dié van Howarth en Lynn geleë.

“Hier is nie meer vrede op die plaas nie. Ons sal die plaas en Suid-Afrika verlaat sodra die verhoor verby is en die skuldiges vir die res van hul lewe uit die samelewing verwyder word.”

Die Breyten-landdroshof waar Sue Howarth se moordenaars tot 20 jaar direkte tronkstraf gevonnis is. (Foto: Johan Kloppers)

Taylor het Donderdag aan Maroela Media gesê sy is bly dat die moordenaars toegesluit gaan word. Sy sê egter sy voel “leeg”.

Taylor het ná die vonnisoplegging met Lynn gepraat en gesê dat hy nie dink die vonnis werklik voldoende geregtigheid aan Howarth bring nie.

“Ná vyf jaar wat ons vir geregtigheid veg, is ek op. Ek het ʼn belofte aan Sue gemaak dat ons geregtigheid sal kry, ek hoop sy kyk neer op ons en voel dat ons ons bes gedoen het.”

Johan Kloppers, ’n berader by AfriForum se traumaeenheid, sê hy is saam met die geliefdes dankbaar dat die hof uitspraak gelewer het dat geregtigheid kon geskied. Hy het Howarth se geliefdes Donderdag by die hof ondersteun.

Kloppers sê hoewel die seer altyd daar sal wees, kan Howarth se geliefdes nou op hul eie tyd en pas vorentoe beweeg. Die vonnis sal egter nie hul seer en trauma genees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pamela ·

Verskriklik hartseer. So gaan een na die ander land uit. Dinge hier raak daagliks erger. Wens hulle net die beste toe in n nuwe land.

annie ·

Beroepsmisdadigers is dalk ‘n term wat regters meer kan inspan in SA want misdaad is kronies aanwesig en so aansteeklik dat geen entstof, handgel of masker help nie… eerder boeie om die polse en ‘n eenvoudige tronksel om vir lank in uit te rus. Die staat kan pa staan vir die verblyfkoste.

tierwyfie ·

Dit grief my dat die twee moordenaars nie lewenslange vonnisse (en ek bedoel lewenslank) sonder opsie vir parool gekry het vir die wrede moorde nie.

Trotse Boervrou ·

NET 20 jaar? Elke keer is dit NET 20 jaar! Sue is wreed vermoor en haar geliefdes leef lewenslank met hul “vonnis” voort soos alle ander duisende wreed vermoorde mense se familie in hierdie ashoop land. Eendag sal daar ‘n regverdige uitspraak wees en DIT sal jul NOOIT vryspring nie!

Daniel ·

Die vonnis moes lewenslank gewees het of doodstraf as dit nog van krag was. Dis belaglik, hulle kan weer dieselfde doen as hulle na 20 jaar uitkom.

Harley Davidson ·

Tronkstraf is nie meer ‘n afskrif in Suid-Afrika nie sodra die Wes Kaap afstig van hierdie land moet die doodstraf onmiddellik weer ingestel word,nie dat ek dink dit sal nodig wees nie want die Wes Kaap of Kaap van goede hoop sal regte polisie hê.

Miskruier ·

Die bybel waarsku ons dat daar nie sielsvrede op hierdie aarde is nie.

Toy ·

20 Jaar, hulle moet hulle toesluit in daai selle waar jy geen venster het tussen 4 mure net jy alleen en jou geselskap.

Swerwer ·

Dit is verskriklik en ja, ‘n mens word beroof van jou lewe. Na sulke wreedheid kan ‘n mens nie weer normaal funksioneer nie. Die doodstraf moet teruggebring word om ‘n stelsel van dit wat jy aan ander doen moet jou straf in die hof opgelê word, dit is al hoe hierdie brutale moorde en aanvalle stop gesit sal word. ‘n Boontjie vir ‘n loontjie.

Owlie ·

5 jaar vir n moord saak en nie eens lewens lange tronkstraf ……..wag tot een van die regering of rengters se familie direk geraak word dan sal daar seker spoed in die afhandel met die korrekte vonnis plaasvind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.