‘WVF kelder restaurantbedryf’

(Foto: Alex Motoc/Unsplash)

Die restaurantbedryf word deur ʼn algehele ineenstorting in die gesig gestaar omdat restaurante tans weens die inperkingmaatreels gesluit is. Die teenproduktiewe aanlyn portaal van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) dra net verder by tot die rampspoedige situasie.

Dit is die eenparige mening van restauranteienaars wat aan die Tshwane Toerisme Vereniging (TTV) behoort. Van hulle moes al tot soveel as vyf keer dieselfde aansoek by die WVF indien voordat uitbetalings aan hul personeel gemaak is en in baie gevalle het dit steeds nie die volle tydperk gedek waarvoor geëis is nie.

“Ek het niks geld nie en ek het kinders wat ek moet kos gee terwyl die WVF dinge nie makliker maak nie,” skryf ʼn werker hierdie week in ʼn boodskap aan die eienaar van die restaurant waar hy werk. Later vra hy desperaat: “Hoe ver is meneer met die WVF, ons is nou sonder kosgeld en weet nie waarmee ons die huur gaan betaal nie.”

Die TTV sê om alles te kroon het die burgers van ander lande wat wettig in die bedryf werk en jare lank tot die fonds bydra, geen betalings ontvang nie. “Mense se lewens is op die spel. Die spanning is tasbaar en dit neem vinnig toe omdat buitelanders nie uitbetaal word nie.”

Wat dié probleem nog vererger is dat alle WVF-betalings aan die werkgewers gemaak word en dat húlle aan buitelandse werkers moet verduidelik dat hulle nie vir Covid-19-uitbetalings in aanmerking kom nie.

“Die WVF se webwerf wys dat ʼn uitbetaling aan ʼn werkgewer gemaak is en dit skep die indruk dat alle personeel se eise betaal is, wat eenvoudig nie so is nie,” sê Joe Zabbia wat The Social Grill 19 maande gelede op ’n landbouhoewe in die ooste van Pretoria geopen het. Die restaurant neem 25 voltydse personeel en 18 deeltydse kelners in diens.

Zabbia verkoop van hierdie week af maaltye aanlyn, maar sê die voorbereiding en aflewering neem tyd en mense wil nie tuis sit en wag vir hul kos nie. “Ons gaan regtig deur ʼn harde tyd, veral omdat ons klante nie mag toustaan en wag vir hul bestellings nie. Dit moet volgens die rampregulasies iewers anders afgelewer word.”

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het verlede Sondag tydens ʼn inligtingsessie gesê buitelanders is nie betaal nie omdat daar probleme met hul bankrekenings en belastingbydraes was. Volgens die departement sal sommige buitelandse burgers nog hierdie week hul voordele van die WVF ontvang.

“Werkers verstaan dit nie en blameer die werkgewer as hulle nie hul geld kry nie,” sê Greg Patsalosavis, die mede-eienaar van vyf Café 41-restaurante in Pretoria. Dié restaurante verskaf ʼn inkomste aan 185 voltydse en 65 kontrakwerkers, waarvan 40% buitelanders is wat wettig in die land is en reeds jare lank tot die WVF bydra. Nie een van hulle het ʼn uitbetaling ontvang nie.

Patsalosavis sê die bedryf is op sy knieë. “Dié wat veronderstel is om ons probleme aan die regering voor te lê, besef nie regtig watter pyn ons tans deurmaak nie. Hy het aan Maroela Media van die boodskappe gewys wat sy desperate werknemers feitlik daagliks aan hom stuur.

“Ons is nou platsak. My kinders eet al hul skoene, help asseblief meneer,” skryf een. “Jy het my nie vergeet nie, meneer?” vra ʼn ander.

Party vra of die bestuur dalk vir hulle kan geld leen. “Ons sal dit waardeer, asseblief, want ons is honger en moet ook huur betaal.”

“My hart bloei vir my werkers want hulle is vir my soos familie,” sê Patsalosavis. “Ek het hul salarisse in Maart uit my eie sak betaal en ek reël nou dat hulle kospakkies kry, maar ek kan hulle nie verder dra nie.”

Slegs sowat 40% tot 50% van die personeel by die Brewers Groep se drie restaurante in Pretoria het hul geld van die WVF ontvang. Die res se aansoeke is geweier, sonder dat enige redes verskaf is. “Al die vorms is daarna weer aanlyn ingedien, maar ons wag steeds vir terugvoer van die WVF,” sê Chantal Beyers van die restaurant-groep.

“Die krisis word by die dag groter en die regering praat nie met ons nie,” sê Andrew Liassou wat werk verskaf aan sowat 80 mense by sy drie restaurante, ʼn Wimpy in Queenswood, die Malt Bar en Grill in Silver Lakes en die Malt Barrel & Fire by Monte Casino in Four Ways.  Alle werknemers in Liassou se diens is by die fonds geregistreer, maar byna ʼn kwart van hulle, wat weens die koronavirus-pandemie werkloos is, is nie deur die WVF betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê PH

Baie dankie dat jy laat weet het van die tikfout. Ons het dit gou reggestel en dit behoort nou binnekort reg te vertoon in die artikel.

Groetnis,
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Kosie ·

Hoe lank gaan dit ons vat om in te sien dat wat tans gebeur nie toegeskryf kan word aan onbevoegdheid nie maar aan boosheid. Cyril is rustig besig om sy doel te bereik want kommuniste weet dat mense wat in absolute armoede en ellende leef nie sal opstaan teen ‘n totalitêre regering nie. Ek verkies ‘n land waar die regering die bevolking vrees eerder waar die bevolking die regering vrees.

Chris ·

Wat stel jy voor moet ons doen? Ons hande is redelik afgekap.

Adam Adriaan ·

Hoof doelwit van die sosialistiese kommunisties regime is om mense arm en afhanklik van die staat te kry.

Yolandie ·

My hart breek in ‘n duisend stukkies. Ak wat ek kan doen is bid dat die Here dié mense help.

Fedup ·

This is exactly what this government aimed for. What made all of this trouble a valid reason for then, is this virus. Trouble between employer and employee. One if the oldest games in politics. Blame cyril and his friends for your troubles. It’s frustrating to hear and read how people suffer every day. With this useless government it will not get better any time soon.

My Mening ·

Wat my die meeste frustreer is dat baie mense kan sien wat besig is om te gebeur, maar die regering kom weg daarmee, weereens. Hulle het tans totale beheer oor ons, wat ek glo nog altyd hul doel was.

Dit voel asof hierdie lockdown nooit gaan eindig nie. Dit voel vir my asof die regering enige iets in hul vermoë sal doen om die proses onnodig te verleng.

Ons mense is honger en ons ekonomie bloei, maar die regering voel ‘n veer en geniet duidelik die beheer wat hul oor ons kan uitoefen onder die vaandel van Covid19.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.