WGO beveel eerste malaria-entstof vir kinders aan

(Foto: pixabay)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Woensdag die RTS, S/AS01-malaria-entstof, die eerste teen die siekte wat deur muskiete versprei word, goedgekeur. Malaria eis jaarliks meer as 400 000 lewens – die meeste daarvan dié van kinders in Afrika.

Die besluit volg op ʼn hersiening van ʼn loodsprogram wat in 2019 in Ghana, Kenia en Malawi van stapel gestuur is. Meer as twee miljoen dosisse van die entstof, die eerste keer in 1987 vervaardig deur die farmaseutiese reus GSK, is tydens die program toegedien.

Nadat data uit dié lande hersien is, het Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, gesê die organisasie “beveel die breë gebruik van die wêreld se eerste malaria-entstof aan”.

Die WGO beveel aan dat kinders in Afrika suid van die Sahara en ander streke met matige tot hoë malariavoorkoms vier dosisse tot op die ouderdom van twee ontvang.

Volgens die WGO sterf ʼn kind elke twee minute weens malaria.

Meer as die helfte van malariasterftes wêreldwyd kom voor in ses lande suid van die Sahara en byna ʼn kwart net in Nigerië.

Simptome sluit in koors, kopseer en spierpyn.

Bevindings van die loodsprojek het gewys die entstof lei tot ʼn 30%-verlaging in die voorkoms van ernstige malaria, sê Kate O’Brien, direkteur van die WGO se departement vir immunisering, entstof en biologie.

Verspreiding van die entstof is heeltemal moontlik en kan diegene bereik wat gewoonlik nie bereik word nie. “Twee derdes van kinders wat nie onder ʼn net in daardie lande slaap nie, baat nou by die entstof.”

Talle entstowwe bestaan teen virusse en bakterieë, maar dit is die eerste keer dat die WGO die breë gebruik van ʼn entstof teen ʼn menslike parasiet aanbeveel.

Die entstof werk teen Plasmodium falciparum, een van vyf malariaparasietspesies en ook die dodelikste.

“Uit ʼn wetenskaplike oogpunt is hierdie ʼn massiewe deurbraak,” sê Pedro Alonso, direkteur van die WGO se internasionale malariaprogram.

Die entstof skep hoop vir Afrika wat die swaarste getref word deur die siekte.

Die geraamde koste verbonde aan malaria in Afrika suid van die Sahara is byna R180 miljard.

Voor die entstof egter kinders kan bereik, moet finansiering bekom word. Daarna kan besluit word waar die entstof die doeltreffendste versprei kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

RB ·

Hierdie klink soos ‘n ware entstof. Lank getoets en weet presies wat om te verwag, hoeveel keer in ‘n spesifieke tydperk toegedien moet word en so meer.

Wat egter ontstellend is, is om te sien hoeveel lewens malaria jaarliks eis en dan moet daar eers finansiering wees voor die entstof beskikbaar is.

Is dit net ek of maak iets hier nie sin nie? Vergelyk diè prentjie met die covid prentjie.

Pietertjie ·

Waar is al die miljardêr-filantrope wat graag hulle rykdom vir sulke projekte wil aanwend? Of is hulle aan die aan die ander kant van die draad?

Barney ·

Ek vrek eerder van Malaria ek ń entstof aanvaar. Dis hoekom daar anti malaria pille is. Nogals die wat sekere “verkoues” ook kan stop. Lag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.