WGO verklaar aappokke tot gesondheidsnoodgeval

Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO. (JEAN-GUY PYTHON / AFP)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die uitbreking van aappokke tot ’n “openbare gesondheidsnoodgeval van internasionale kommer” verklaar.

Dít volg nadat al hoe meer gevalle van dié virussiekte oor die hele wêreld aangeteken is.

Die besluit is Saterdag deur Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, aangekondig nadat dié organisasie Donderdag sy noodkomitee vir ’n tweede vergadering oor die kwessie byeengeroep het.

CNN berig hoewel die komitee nie eenstemmigheid kon bereik nie, het Tedros tot die besluit gekom nadat hy verskeie elemente oorweeg het wat nodig is om te besluit of ’n uitbreking ’n gesondheidsnoodgeval regverdig.

“Die uitbreking is tans hoofsaaklik onder mans wat seks met mans het, veral diegene wat veelvuldige seksmaats het. Dit beteken dis ’n uitbreking wat met die regte strategieë bekamp kan word,” het hy gesê.

Die WGO definieer ’n wêreldwye noodgeval as “’n buitengewone gebeurtenis” wat ’n “openbare gesondheidsrisiko vir ander state uitmaak deur die internasionale verspreiding van siektes” en “wat moontlik ’n gekoördineerde internasionale reaksie vereis”.

Volgens Tedros is meer as 16 000 gevalle al in 75 lande en altesaam vyf sterftes in Afrika aangemeld.

Die meeste gevalle is in Europa aangeteken.

Die eerste geval van aappokke is op 22 Junie in Suid-Afrika aangemeld toe ’n 30-jarige man van Gauteng positief vir die virus getoets het. Op 28 Junie het ’n 32-jarige man in die Wes-Kaap positief getoets. ’n Toeris van Switserland wat in Limpopo vakansie hou, het sowat twee weke gelede positief vir aappokke getoets.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo, het gesê die 42-jarige toeris het simptome getoon van ’n uitslag, vergrote limfkliere, spierpyne en moegheid, waarna hy positief getoets het.

Aappokke is ’n seldsame virusinfeksie wat gewoonlik met ligte simptome verbind word en die meeste mense herstel binne ’n paar weke. Die sterftesyfer van hierdie virus is sowat 1%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VaalDonkie ·

Werklik ja. Hulle het laasjaar al hul aandelehouers gewaarsku dat die boeke in 2022 sleg gaan lyk. Dis nie eens net ‘n grap nie. Dis die reine waarheid.

VaalDonkie ·

Dis net ‘n toets om te kyk of die wereld geleer het uit die COVID fiasko.

andre ·

Die Wereld Ongesondheidsorganisasie kry sy fondse van die groot farmaseutiese maatskappye .Hoe meeer mense hulle kan siek maak hoe groter die winste

annie ·

Sir Tedros is weer terug op die kassie. Hy en prof Fauci skep weer asem. Nog ‘n seisoen van groot bangmaak. Wat is die nuwe naam vir aappokke of dink julle nog aan iets meer gepas? Oppas!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.