Whiskey-die-drukkiehond help nou ander brakke

Oos, wes, tuis bes. Whiskey op sy nuwe bed by sy huis. (Foto: Garden Route SPCA/Facebook)

ʼn Foto van Whiskey, ʼn hond wat saam met sy eienaar, Cordelia Ngoqo, in Lawaaikamp in George woon, het die verbeelding van soveel mense aangegryp dat tientalle ander honde nou danksy sy verhaal gehelp kan word.

Maroela Media het vroeër berig oor die treffende foto wat Salomé Bruyns, verbonde aan die Tuinroete-DBV se tak op George, gedeel het. Ngoqo het beamptes van die DBV in die buurt gevra om Whiskey te vat omdat sy nie meer kon bekostig om vir hom te sorg nie.

Die foto van Whiskey en sy eienaar, Cordelia Ngoqo, is net op Facebook al meer as 26 000 keer gedeel. (Foto: Salome Bruyns/DBV)

Whiskey het Ngoqo oënskynlik “vasgegryp” en sy kop in haar sy gedruk – en ʼn foto van die roerende oomblik het sedertdien soos ʼn veldbrand versprei. Dit is reeds meer as 26 000 keer net op Facebook gedeel.

Bruyns het vroeër gesê sy kon dit nie oor haar hart kry om Whiskey, wat ooglopend uiters geheg aan sy eienaar is, uit haar sorg te verwyder nie. Sy het net daar onderneem dat die DBV sal verseker dat Whiskey versorg is – en by sy eienaar kan bly.

Beloftes van hulp het ingestroom en Bruyns sê mense het hul woord dubbel en dwars gestand gedoen.

“Suid-Afrikaners is fantasties. Hulle het verstommend reageer. Ons fone het nie opgehou lui nie en iemand moet later spesiaal al die oproepe en e-posse daaroor hanteer,” sê Bruyns.

Kos, kontant en selfs kussings en ʼn hondehok is geskenk om Whiskey te help en almal van gewone mense tot groot maatskappye het bydraes gemaak. Iemand het selfs aangebied om ʼn heining om Ngoqo se erf te kom oprig.

‘n TV-nuusspan gesels met Ngoqo na Whiskey se tuiskoms. (Foto: Salome Bruyns)

Whiskey is danksy dié milde bydraes die afgelope week gesteriliseer, ʼn sist aan sy rug is verwyder en hy is vir ʼn ooginfeksie en brandsiek behandel.

“Hy was hier [by die DBV] vir sy operasie en hy was diep depressief. Hy het net in sy hok gelê en ons kon sien hy soek na sy ma. Ek het vir die veearts gesê hy moet doen wat hy moet, want hierdie hond moet by die huis kom,” sê Bruyns.

Vrydag, ná afloop van sy omvattende behandeling, is Whiskey weer met Ngoqo herenig – sommer met ʼn TV-nuusspan wat van sy storie te hore gekom het, agterna.

Whiskey is danksy die skenkings onder meer gesteriliseer. Charmaine Treherne het gevra dat enige bydraes vir haar 79ste verjaardag, eerder vir Whiskey se versorgings geskenk moet word. (Foto: Garden Route SPCA)

“En dis asof Whiskey geweet het hierdie show gaan nou oor hom,” skerts Bruyns.

Whiskey het uit die voertuig gespring, vir Ngoqo gaan groet en summier op sy nuwe beddegoed gaan neerplof terwyl die kameras onophoudelik om hom gekliek het. Hy het sy nuwe blyplek gaan besnuffel en sy kosbakke het reggestaan.

“Hy is nou soos ʼn koninklike!” sê Bruyns.

Danksy Whiskey se verhaal – en sy lekker drukkies – kan talle ander honde nou ook gehelp word. (Foto: Salome Bruyns)

Bruyns sê Whiskey se verhaal is ʼn voorbeeld van die groot nood onder diere én mense en wat die publiek kan doen om te help. Danksy die skenkings wat ontvang is, kan talle ander van Whiskey se buurbrakke ook gesteriliseer word.

“Hoe meer honde daar is, hoe meer wreedheid kom voor. Die beste manier om dít te voorkom, is om ongewenste werpsels te keer,” sê sy.

Minstens een hond by die DBV-tak het danksy Whiskey nou ook ʼn permanente familie gevind.

Bruyns vertel ʼn gesin wat spesiaal van Knysna na die DBV-tak gery het om kos vir Whiskey te gaan aflaai, was vasbeslote dat hulle net daar was om die kos af te laai. Hulle het egter ʼn draai deur die organisasie se hokke gestap en die koeël was deur die kerk.

“Ons het ʼn stokou Maltesie by ons en ek het al gewonder of iemand hom ooit gaan aanneem. Die gesin het net daar besluit om hom aan te neem.

“Mense sê altyd hulle sal nie my werk kan doen nie, maar sonder mense se hulp sal organisasies soos die DBV ook nie hulle werk kan doen nie. Whiskey se storie is een van miljoene en met die publiek se hulp kan ons soveel vermag.”

Bruyns het ʼn beroep op mense gedoen om voort te gaan om hul plaaslike DBV-takke te ondersteun.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JM ·

Ounooi se honne! Honde se liefde vir hul mens-ouers is onvoorwaardelik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.