Dit is nie in dié stadium duidelik wie sal moet opdok vir die skade wat ’n Suid-Afrikaanse diplomaat aan ’n huurwoonstel gedurende sy verblyf in Wene, Oostenryk, aangerig het nie.
Die diplomaat het die gemeubileerde woonstel verlede jaar glo in só ’n beskadigde toestand gelos dat dit €40 000 (sowat R715 000) gaan kos om die woonstel op te knap en die skade te herstel.
Die eienaar van die woonstel, Karl Widy, het onlangs op die Duitse televisieprogram Bürgeranwalt op die televisiekanaal ORF2 gesê al die elektriese toestelle in die kombuis was vernietig en al die waardevolle messeware was weg toe die betrokke diplomaat in Augustus verlede jaar uit die woonstel getrek het.
Daar was geen glase oor nie, die yskas en mikrogolf was vernietig, die venster- en deurrame was beskadig, die wasbak, bad en toilet gevlek, die mure en vloere vuil en gevlek met swart roet en die plek het gewemel van kakkerlakke.
Die diplomaat het in Desember verlede jaar na Suid-Afrika teruggekeer.
Lunga Ngqengelele, woordvoerder van die minister van internasionale betrekkinge en samewerking Naledi Pandor, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die saak is intussen by die departement aangemeld en geniet dringende aandag.
Volgens Ngqengelele het die Suid-Afrikaanse ambassade in Wene verlede jaar aangebied om die skade aan die woonstel te herstel sodat die woonstel in dieselfde toestand as vantevore sou wees wanneer die sleutels aan die eienaar oorhandig word.
Die eienaar het egter deur sy prokureur aangedui dat hy die skade self wou herstel. Die herstelwerk beloop €40 000.
Ngqengelele sê daar word nou regsadvies ingewin oor wie vir dié herstelwerk moet betaal.
Die burgerregteorganisasie AfriForum is van mening dat die diplomaat self vir die skade moet opdok en het Dinsdag ’n brief aan Pandor en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) gestuur rakende die aangeleentheid.
“Sulke gedrag deur ’n Suid-Afrikaanse diplomaat is onaanvaarbaar en belastingbetalers behoort nie belas te word om vir hierdie skade te betaal nie. AfriForum se standpunt is dat die diplomaat uit sy sak vir die skade moet betaal,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.
Maroela Media het vroeër vanjaar berig Suid-Afrika is die afgelope vyf jaar byna R10 miljoen kwyt omdat hy die deposito’s verbeur het van eiendom wat oorsee vir diplomatieke doeleindes gehuur word.
Pandor het in Januarie in antwoord op ʼn parlementêre vraag aangedui die R9,3 miljoen wat verlore is, was weens skade aan eiendom, deposito’s wat verbeur is omdat die eienaars dit vir herstel- en instandhoudingswerk moes gebruik, of omdat huurooreenkomste buite die bepalings en voorwaardes van die huurooreenkoms opgeskort is.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
49 Kommentare
Ek kan sommer net raai watter tipe mens so iets sou aanjaag….. die vernedering
Darem kry die Europeërs eerstehands ‘n voorsmakie van Afrika! Ons is egter al lankal sulke dinge gewoond.
Met dasi geld kan ek ń 3slaapkamer huis bou
Varke moet hulle eie gemors oprium
Nou wonder ek net wat is die “diplomaat” se volle name en van….? ek kan nie my vraag op ñ minder diplomatiese manier vra nie…..