‘Wie ook al president is’ sal staatsrede lewer

parlement-wikimedia-commons

Die parlementsgebou in Kaapstad. Foto: Wikimedia.org

Die staatsrede sal op 8 Februarie gelewer word deur wie ook al president is, het die parlement se voorsittende beamptes Donderdag gesê.

“Ons as voorsittende beamptes is geensins van voorneme om enige president te nader en te sê ‘jy moenie die staatsrede lewer nie’. Wie ook al die president is, sal ons toespreek,” het Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, aan joernaliste gesê tydens ‘n mediakonferensie oor die voorbereiding vir volgende week se staatsrede.

Modise en haar mede-voorsittende beamptes is gevra of hulle die moontlikheid in ag neem dat Jacob Zuma moontlik nie meer volgende week die president van die land gaan wees nie, aangesien die ANC se topses glo “opsies” met Zuma bespreek om te keer dat hy in ‘n staat van beskuldiging geplaas word.

Die DA het versoek dat die staatsrede uitgestel word totdat Zuma uit sy amp verwyder is, terwyl die EFF meen ʼn mosie van wantroue moet voor die staatsrede plaasvind.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het in ʼn brief aan Baleka Mbete, speaker van die parlement, versoek dat die staatsrede wat vir 8 Februarie geskeduleer is uitgestel word totdat Zuma verwyder is en ʼn nuwe president aangestel is. Volgens Maimane is dit gegewe die huidige stand van sake nie in die belang van Suid-Afrika dat pres. Zuma die staatsrede lewer nie, aangesien dit nie duidelik is vir hoe lank hy nog president van die land gaan wees nie.

Julius Malema, leier van die EFF, het Mbete intussen versoek om voor die staatsrede ʼn mosie van wantroue in Zuma te skeduleer. Volgens Malema is daar “ernstige politieke ontwikkelinge” aan die gang en noodsaak dit ʼn dringende parlementêre sitting om ʼn mosie van wantroue in Zuma aan te hoor.

“Die EFF glo dat die parlement tot ʼn ander gevolgtrekking sal kom met die mosie van wantroue as in die vorige gevalle toe daar pogings was om Suid-Afrika van ʼn individu te red. ʼn President wat voor ʼn regterlike kommissie moet verskyn, kan nie die hoof van ʼn land en regering wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ella ·

Gee my krag! Hoekom kan hulle nie hul “mind” opmaak? Ek lees elders dat dit R4 miljoen gaan kos, die staatsrede, en dit sluit nie n ete in. Hoekom kos dit so baie om voor n klomp mense te staan en praat wat jou nie meer glo, in die geval van Zuma. Die regering MOET ophou geld mors. BTW word dalk met 2% verhoog om op te maak vir vermorsing. Weer die landsburger se probleem.

Alida ·

Hierdie vermorsing sal nie ophou voor daar nie daadwerklik iets gedoen word nie. Die nuwe President moet AL die departemente se mense skors en bevoegdes aanstel. Gesondheid, Onderwys, Korrektiewe Dienste, Maatskaplie dienste en so kan mens aangaan totdat die hele huis behoorlik skoongemaak is. Hierdie verval en ondergang het alles gebeur onder die Zuma regering want al sy maatjies het werk gekry.

Phil ·

Ek wonder waarom die Lugmag hier in Pretoria vandag hulle formasievlugte oefen. Die SONA is in die Kaap! Oefen hulle dalk vir ‘n inhuldiging……….

Andre ·

Wie gee rerig om? Behalwe as dit Zuma is dan duik die Rand weer in sy maai!

Alida ·

Hi Alida maklik om te sê skors almal by die Departemente. Ek as blanke werk al 29 jaar vir die staat. So jammer vir jou ek gaan nêrens heen nie. Sies vir jou !!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.