‘Wil ons vlieg of wil ons eet?’

‘n Paneel van rolspelers vanuit verskeie landbousektore het die media toegespreek oor die impak van die voortslepende droogte in die land. Foto: Nichelle Steyn.

Die regering maak ’n plan om met elke begroting geld vir sukkelende staatsinstansies soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en Eskom te bestem, maar landbou se noodkreet val op dowe ore. Die begroting vir landbounavorsing word selfs die laaste tien jaar gesny. Dit beteken ál minder geld is beskikbaar om nodige navorsing te doen wat landbou kan help om met klimaatsveranderinge soos die droogte kop bo water te hou. Daar word ook nie naastenby genoeg geld beskikbaar gestel om boere te ondersteun tydens die voortslepende droogte nie. Dit is van die bekommernisse wat boere met belanghebbendes in die landboubedryf opgeneem het.

“Ons moet besluit: Wil ons eet of wil ons vlieg,” maan Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA. Belanghebbendes in verskillende landbousektore het onlangs ’n mediakonferensie gehou waartydens hulle boere se noodkreet omtrent die droogte met die media gedeel het. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, het gesê die droogte is nie net die boere se probleem nie, maar dié van alle Suid-Afrikaners. “Ons moet hande vat en boere ondersteun sodat ons land vorentoe kan beweeg en voedselsekerheid behoue kan bly.”

Een van die landboubedrywe wat grootliks deur die droogte geraak word, is die wildbedryf. Adri Kitshoff-Botha, uitvoerende hoof van Wildbedryf Suid-Afrika, het gesê dié bedryf in die Noord-Kaap trek die swaarste. Meer as 80% van wildboere in dié provinsie het handdoek ingegooi en as dit nie vinnig reën nie, gaan daar net 5% oorbly. Sy meen die droogte het reeds ’n impak op die toerismebedryf. “Op plase van 30 0000 hektaar en groter hang die reuk van dooie diere in die lug en kan ʼn mens die aasvoëls sien sirkel waar diere gevrek het. Jagters wil nie diere skiet wat op hul laaste is nie, en toeriste wil nie wild in so ’n toestand besigtig nie.”

Wiehahn Victor van die inmaakvrugteprodusente-vereniging het gesê boere in die vrugte- en wynbedryf trek net so swaar. “Daar is oral foto’s van diere wat swaar trek, maar bome trek ook swaar en vrek, nes die diere.” Hy meen veral steenvrugte gaan vanjaar jaar kleiner wees. “Die gehalte van vrugte op die mark neem af, en die persentasie van vrugte wat uitgevoer kan word neem ook af. Dit beteken Suid-Afrika kan nie meer die markte waaraan ons vrugte voorsien het, behou nie.” Hy meen werksverliese in dié bedryf is baie hoog. “As daar nie vrugte aan die bome is nie, is daar nie werk vir die plaaslike gemeenskappe se mense nie. Dit skep verdere armoede in plattelandse gebiede waar mense reeds swaar trek.”

Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die rooivleisprodusente-organisasie, meen die droogte is ’n humanitêre ramp, veral in die plattelandse gebiede in die Noord-Kaap waar die boere die plaaslike ekonomie aan die gang hou. “Baie mense vra nie eens meer vir voer nie, maar eerder vir iets om te eet en in sekere gevalle probeer boere om net ’n basiese kudde waarvan 30% oor is, aan die gang te hou, met die hoop op reën.”

Dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die melkprodusente-organisasie, meen dit raak al hoe moeiliker om kop bo water te hou. “Boere se hoofuitgawes soos voer bly styg weens die droogte wat die winsmarge net verder laat krimp. Nie baie lank terug nie was daar 4 000 melkboere in die Vrystaat, nou is daar net 60 oor.” Hy meen dit raak al hoe moeiliker om in die binneland melk te produseer. Tans word 85% van die land se melk in die kusgebiede geproduseer en daar is net 1 300 kommersiële melkboere landwyd oor. Ons wil graag die boere wat nog in die bedryf is, hier hou.”

De Villiers meen boere het nie net geld nodig nie, maar ook emosionele steun. “Dit is baie moeilik om moed te hou in hierdie omstandighede as boere nog uit ander oorde ook aangeval word.” Hy meen ons land se boere gaan nog lank nie lê nie en maak daagliks planne om beter te boer. “Ons boere probeer hul bes om hul metodes aan te pas by klimaatsveranderinge en maak die nodige aanpassings om minder water en hulpbronne te gebruik.”

Schutte is dit ook eens dat ons land van die beste boere ter wêreld het en al gaan dit moeilik, moet boere alle hulpbronne tot hul beskikking gebruik om meer effektief te boer. “Die regering moet ons ondersteun en veral die informele boere oplei om uit die staanspoor natuurbewaring toe te pas.”

Christo van Rheede, adjunk uitvoerende direkteur van Agri SA, pleit by die publiek en die private sektor om boere te ondersteun. “Agri SA het ’n droogtehulpfonds gestig juis vir die doel. Ons sorg dat die geld by die boere wat dit die nodigste het, eerste uitkom en dat dit regverdig uitgedeel word. Al die geld word direk aan die boere geskenk.”

Besoek gerus hul webwerf om boere só te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet Pompies

Ons hetmos nie Boere nodig nie – ons kan mos alles by Spar en Pick & Pay kry.

Hulle het duidelik nie Zimbabwe se les geleer nie

ore

Sekere deel van ons samelewing glo mos vleis,melk en groente kom uit die supermarkte uit en nie van die landbouers nie,Om te vlieg verleen status,want almal weet van jou.Jy word deur ‘n horde wagte beskerm en alaml sien hier is ‘n VIP maar op die plaas is dit maar net die boer en sy werkers.Geen glans daaraan om boere te beskerm nie,as daar nie kos is nie sal VVO help.Daarom is SAL belangriker as landbou.

Stefan

Indien die Suid Afrikaanse Regering wel hulp aan die kommersiële boer beskikbaar stel, sal dit ‘n wonderwerk wees. Sou so ‘n wonderwerk wel plaasvind, sal die hulp uiters beperk en selektief toegeken word – net om te kan sê dat hulle wel doe landbou ondersteun het. Die SA Regering is finansieel bankrot. Die mees prominente rede hoekom die SA Regering nie hulp aan die landbou sektor salvtoewys nie, vis deur die droogte en gepaardgaande ondergang, word die kommersiële boer outomaties van die plaas af gedwing. Die Regering kan finansiële bystand verleen, op voorwaarde dat dit gepaart gaan met swart ekonomiese… Lees meer »

Kraaibakke

Vlieg hier weg eet en worry later hoe kwater ,dis wat hulle oor worry.

Dries Bý

Reg Jan ek stem saam ,sorg vir jou self .Viva !!!!!