Wildbewaarder deur stropers doodgeskiet

Argieffoto ter illustrasie: SANParke

ʼn Wildbewaarder (34) van die Krugerwildtuin het Donderdag aan sy beserings beswyk ná ʼn skietgeveg tussen hom en stropers.

Ike Phaahla, woordvoerder van die wildtuin, het Vrydag in ʼn verklaring gesê die bewaarder en van sy kollegas het glo ʼn groep stropers nagespoor en op hulle afgekom. Die bewaarders is deur ʼn honde-eenheid vergesel.

“Dit lyk of hulle die groep genader het waarna ʼn skietgeveg uitgebreek het,” het Phaahla gesê. Die man is ernstig in die bolyf gewond.

Volgens Phaahla het die man se kollegas onmiddellik begin met noodbehandeling en is ʼn dokter per helikopter na hom gevlieg vir opvolgbehandeling.

“Die man is per helikopter na ʼn hospitaal gehaas, maar hy het ongelukkig op pad daarheen aan sy beserings beswyk,” het Phaahla gesê.

Die man se naam kan nog nie bekend gemaak word nie aangesien al sy familielede nog nie van sy dood in kennis gestel is nie.

Phaahla het gesê die oomblik toe die man per helikopter vervoer is, het die ander bewaarders weer die stropers se spoor begin volg, maar daar was nie meer genoeg daglig om met die operasie voort te gaan nie.

Fundisile Mketeni, die uitvoerende hoof van SANParke, het sy opregte medelye met die bewaarder se familie en kollegas uitgespreek en gesê SANParke se gebede is met hulle in hierdie moeilike tyd. “Ons het ʼn patriot aan diens verloor terwyl hy Suid-Afrika se bates beskerm het. Hy was goed opgelei om homself te verdedig, dis juis hoekom ons so geskok is deur die voorval.”

Mketeni het bygevoeg hul onmiddellike mikpunt is nou om die oorledene se naasbestaandes te ondersteun met hul behoeftes en berading.

Die polisie ondersoek ook die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Bernard Hellberg ·

In Botswana is die beleid duidelik (volgens ‘n gewese adjunk-president):

“It’s not our job to judge poachers, that’s God’s work – but we will arrange the meeting!” ?⚰️

Gemaskerde Sopbeen ·

As julle die heining tussen Kruger Wildtuin en Mosambiek herstel………..hoef julle NET ‘n heining te patrolleer en nie met troppe honde die hele wildtuin vol te hardloop en op mekaar te skiet nie………..

Santjie ·

Asseblief….. teen die tyd dat hulle aan die einde van die heining kom na patrollie, het daar klaar weer hoeveel deurgebreek en is dan in elk geval die wildtuin vol

Tania Heyns ·

Dagsê Wilma

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die vingerfout, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Heinrich van Zyl ·

Ek het gehoor (weet nie hoe waar dit is nie), dat selfs in Swaziland mag die weermag/polisie/bewaarders jou doodskiet as jy met ‘n vuurwapen in ‘n reservaat betrap word. Hulle hoef nie te arresteer nie, net ‘n doodgewone, goeie, outydse doodskiet op sig. Finish en klaar. Blykbaar ‘n bevel van hul koning.

Ek kan nogal glo dat daar waarheid in steek, want op ‘n onlangse besoek aan hul Hlane reservaat, het ons 15 witrenosters op een slag by ‘n watergat gesien, en dit was die watergat reg by die restaurant.

lee ·

ONBAATSUGTIGE DIENS – BAIE DANKIE , MAAR BAIE JAMMER OOR DIE AFSTERWE !!

LouE ·

Die problem kan maklik opgelos word as daar politieke wil is. Maar ons is gedoem saam met ons renoster vriende.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.