ʼn Roudiens is Donderdag vir ʼn wildbewaarder gehou wat verlede week in die noordelike dele van die Krugerwildtuin doodgeskiet is.
Shando Mathebula (36), wat vir tien jaar ʼn bewaarder in die wildtuin was, is tydens ʼn roerende diens deur sy kollegas gegroet.
“Vandag word gekenmerk as een van die hartseerste oomblikke vir die bewaringspan in die Krugerwildtuin,” het Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, gesê.
“Ons vereer ʼn held wat tot sy heel laaste dag gewerk het, maar geen woorde kan die mate van waardering beskryf wat ons het vir jou toewyding nie, Shando. Rus in vrede, held.”
Mathebula is op 4 Mei in die Shangoni-gebied van die wildtuin dood aangetref.
Die omstandighede rondom Mathebula se dood is steeds nie duidelik nie, maar die Suid-Afrikaanse Polisiediens en SANParke werk nou saam om die gebeure op daardie dag uit te pluis.
“Vir ons as organisasie waak die wildbewaarders oor ons fauna, flora en wild, so wanneer ons iemand verloor is dit asof ons ʼn vegter verloor het wat die natuur beskerm het,” het Phaahla aan Maroela Media gesê.
“Ons is baie hartseer oor sy heengaan en ons hoop dat sy siel in vrede kan rus.”
Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur oor vordering in die ondersoek, maar wag nog op terugvoer.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
7 Kommentare
Rus in vrede jy n goeie soldaat van Jesus gewees sterkte vir familie
‘Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur oor vordering in die ondersoek, maar wag nog op terugvoer.’ Kry julle ooit terugvoer?
Rus in vrede jong man .
RIV Shando.
is dit nou die ou wat eers beweer is, is deur die buffel gedood?