Wildbewaarder-kamp: Hof lewer uitspraak

Raymond Buys Foto: news.grouperly.com

Raymond Buys Foto: news.grouperly.com

Die Vereeniging streekshof het Vrydag uitspraak gelewer in die saak van Alex de Koker en Michael Erasmus ná die afsterwe van Raymond Buys (15) weens gebeure by ʼn wildbewaarder-kamp.

Landdros Retha Willemse het Alex de Koker (49), die eienaar van die weermag-tipe kamp, en sy medebeskuldigde Michael Erasmus (20) skuldig bevind aan moord, kindermishandeling en aanranding. Die klagtes hou verband met dade wat in 2011 by die Echo Wild Game Rangers-kamp tot die dood van Buys gelei het.

Wilna Buys, Raymond se ma, het die skuldigbevinding verwelkom. “Ek het gemengde gevoelens, maar ek is tevrede dat albei skuldig bevind is en dat die saak tot ʼn einde gekom het,” het Buys gesê.

Sy het gesê die vier jaar sedert haar seun se dood het ʼn groot impak op die familie gehad en dat hulle eers nou weer begin om die stukkies op te tel. “Ek dink hy [Raymond] sit daar bo en glimlag vir ons, en is trots op alles wat ons gedoen het,” het sy gesê, en in trane uitgebars. “Dit was nie maklik om al die tyd hier te wees nie, maar ons het ʼn belofte aan Raymond gemaak.”

Erasmus se pa, Casper, het gesê hy voel skuldig dat hy sy seun na die kamp toe gestuur het. “Alex [De Koker] het my ʼn rat voor die oë gedraai. Ek voel skuldig omdat ek Michael gedwing het om te gaan,” het hy gesê. “Maar gelukkig het ek nog my kind. Die Buys-gesin het nie meer hul seun nie. Dit is ʼn nagmerrie.”

Erasmus se stiefma, Betsie Erasmus, het gesê hulle is bly dat die verhoor byna afgehandel is. “Michael was ook nog net ʼn kind toe hy na die kamp toe gegaan het. Hy was maklik beïnvloedbaar,” het sy gesê.

Tania Otto, operasionele bestuurder van Women and Men Against Child Abuse, het die skuldigbevinding verwelkom.

Die vonnisoplegging vind eersdaags plaas.

Lees alle vorige berigte oor Echo Wild Game Rangers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pierre Celliers ·

De Koker is ‘n gowwe boelie van natuur en kan gerus maar in die tronk sit en daar vergaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.