Wildbewaarder-kamp: Man was te bang om te praat

Raymond Buys Foto: news.grouperly.com

Raymond Buys Foto: news.grouperly.com

Michael Erasmus, medebeskuldigde in die moord van ʼn 15-jarige seun by ʼn weermag-tipe kamp, het Dinsdag aan die Vereeniging-streekshof gesê hy was te bang om vir enigiemand van die mishandeling by die kamp te vertel.

“Ek het hom [Raymond Buys] op bevel geslaan, maar ek was te bang om vir enigiemand te sê wat aangaan,” het Erasmus getuig. “Ek het niemand vertel nie, want ek wou nie probleme hê nie.”

Erasmus sê hy was die enigste een by die kamp wat toegelaat was om ʼn selfoon te hê en sy medebeskuldigde, die kamp se eienaar Alex de Koker, sou geweet het as hy hulp ontbied het. Hy sou gevolglik in die moeilikheid beland het.

De Koker en Erasmus staan tereg op aanklag van moord, kindermishandeling en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig nadat Buys in 2011 in die hospitaal gesterf het ná hy by Echo Wild Game Rangers tuisgegaan het.

Erasmus het onder kruisondervraging deur Phillip Venter, vir De Koker, verduidelik hoe Buys mishandel en gemartel is deur homself, De Koker en ander natuurbewaarders by die kamp. “Indien iemand bly foute maak, het die natuurbewaarders hulle geslaan, dis hoe die kwessie aangeroer is.”

Venter het Erasmus daarvan beskuldig dat hy al die skuld op De Koker wil pak vir dit wat hy aan Buys gedoen het. Erasmus het dit ontken en gesê alles wat hy gedoen het, was uit opdrag van De Koker. Hy het ook vertel hoe ʼn medenatuurbewaarder, Gerhard Oosthuizen, gereeld op Buys sou pik, selfs nadat De Koker hom aangesê het om nie meer die kind te slaan nie, ongeveer drie dae voordat hy in die hospitaal gesterf het.

Die eerste en enigste keer wat Erasmus Oosthuizen geslaan het, was nadat hy gesien het hoe Oosthuizen Buys in sy gesig, naby sy mond skop. Hy het Buys se arm en been vasgehou en hom in die rondte geswaai om meer momentum te kry voor hy hom laat gaan het.

Die dag wat Buys bewusteloos na die hospitaal geneem is, het Erasmus gesien hoe Oosthuizen oor die seun staan. Hy het aan Erasmus gesê Buys het oor ʼn tentpaal geval.

De Koker het tydens die hofverrigtinge vir lang tye na Erasmus bly staar. Tydens die teebreek het hy sy vrou gesoen, omhels en met haar gepraat. Erasmus het by sy gesin bly sit.

Erasmus het Maandag aan die hof gesê Buys is kaal uitgetrek, aan ʼn stoel vasgemaak en water is oor hom uitgegooi. Hy is ook met ʼn skokgeweer geskok nadat hy wou weghardloop. Hy het die hof ook vertel van ʼn dag toe Buys tussen 16:00 en 17:00 aan ʼn vlagpaal vasgemaak is. Hy het gehoor die seun wou glo vir ʼn tweede keer weghardloop. Volgens hom het De Koker hom gevra om ʼn stoel, kettings, ʼn emmer, ʼn kussingsloop en ʼn skokgeweer te gaan haal en dat niemand mag weet wat hulle doen nie.

Die hof het gehoor dat buys elke aand op De Koker se bevel aan sy bed vasgeketting was omdat hy wou weghardloop.

Volgens die nieregerings-organisasie Women and Men Against Child Abuse was Buys uitgeteer, gedehidreer, het hy breinskade, skedelfrakture, ʼn gebreekte arm, kneusplekke en sigaretbrandmerke gehad as ʼn gevolg van De Koker se dade en bevele. Hy is glo ook gedwing om sy eie ontlasting te eet.

Die saak is tot Woensdag uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Echo Wild Game Rangers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elsabe Otto ·

Dis verskriklik en dit moes van hierdie kind n man maak. Hoeveel ander dra ook letsels. Ek glo nie hierdie arme ongelukkige kind was die enigste slagoffer nie.

Marius ·

Ek hoop hulle kry die straf wat hulle verdien en ook dat beide in die tronk te staan sal kom op n 50/50 basis, NEE WAG die ander 50 oordonderend en veglustig. Hoop nie hulle beland met opname alreeds in Hospitaal afdeling soos sekere mense nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.