Wildbewaarder-kamp: “Nuwe kar as jy sê dit was jy”

Raymond Buys Foto: news.grouperly.com

Raymond Buys Foto: news.grouperly.com

Michael Erasmus, medebeskuldigde in die moordsaak van ʼn 15-jarige seun by ʼn weermag-tipe kamp, het Woensdag aan die streekshof in Vereeniging gesê hy is gevra om die blaam te dra vir die mishandeling by die kamp.

Erasmus het onder kruisondervraging van staatsaanklaer Kobus Jacobs aan die hof gesê die kampeienaar, Alex de Koker, het vir hom gesê hy sal vir hom ʼn nuwe werk op ʼn nuwe plaas, ʼn motor en geld gee as hy die skuld sou dra vir Raymond Buys se mishandeling. Volgens hom het De Koker hom gevra om te sê dat hy (De Koker) nooit by die plaas was nie.

De Koker en Erasmus staan tereg op aanklag van moord, kindermishandeling en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig nadat Buys in 2011 tydens sy verblyf by die Echo Wild Game Rangers-kamp gesterf het.

De Koker het getuig hy was 60% van die tyd nie by die kamp nie. Erasmus het dit egter ontken en gesê hy was meeste van die tyd by die huis en het slegs die kamp verlaat wanneer hy sy kinders in die dorp gaan haal het.

Hy het ander getuies se bewerings, dat hy Buys met ʼn rubberpyp, ʼn graaf en ʼn sekel aangerand het, ontken. “Buiten die stok het ek nooit enige wapens gebruik nie,” het hy gesê. Hy het erken hy het Buys slegs geslaan, geskop en een keer met ʼn besemstok geslaan. “Dit was onnodig,” het hy erken.

Erasmus voer aan dit was alles in opdrag van De Koker dat Buys mishandel is en dat hy die seun slegs in De Koker se teenwoordigheid aangerand het. “As hy [Buys] nie wou regkom nie, moes ons hom ‘reg d*nner’, dit was Ales se woorde,” het Erasmus gesê.

Jacobs het aangevoer dat ander ooggetuies gesê het Erasmus het Buys uit sy eie mishandel wanneer De Koker nie teenwoordig was nie. Die getuies het aan die hof verduidelik hoe Buys bykans elke dag tydens sy twee maande verblyf by die kamp mishandel is. Hy het ook gesê Buys is by die kamp gehou ondanks bewyse dat sy linkerarm en ribbes minstens twee weke voor sy dood gebreek is en hy in ʼn hospitaal opgeneem is.

Buys het glo gereeld van pyn gekla en het sy linkerarm teen sy bors gehou. Erasmus het gesê hy het nooit vir De Koker gesê dat Buys dalk mediese behandeling moet kry nie, uit vrees dat hy aangeval sou word. Hy het gesê De Koker het hom aan die keel gegryp en geslaan as hy nie sy werk behoorlik gedoen het nie.

Erasmus het ook getuig hoe De Koker sy eie kinders met ʼn besemstok geslaan en ʼn glas na sy dogter gegooi het.

Jacobs het Erasmus daarvan beskuldig dat hy Buys se mishandeling op sy medenatuurbewaarder, Gerhard Oosthuizen, wou pak. “Julle almal se optrede het tot Raymond se dood gelei,” het Jacobs gesê.

Wilna Buys en Geys Negar, Raymond se ma en stiefpa. Foto: Carte Blanche

Wilna Buys en Geys Negar, Raymond se ma en stiefpa. Foto: Carte Blanche

Buys se ma, Wilna, het na die hofverrigtinge aan verslaggewers gesê hoe moeilik dit is om na al die getuienis te luister. “Dis vreeslik, vreeslik om na al die leuens te luister. Dis baie, baie moeilik.” Sy het gesê dit breek haar hart om te weet dat haar seun meer as een keer probeer het om van die kamp af weg te hardloop. “Dit breek mens. Hoe sit jy jou pyn in woorde?” het sy gesê. Sy het gesê sy wil net sien dat geregtigheid geskied.

Volgens die nie-regeringsorganisasie Women and Men Against Child Abuse, was Buys uitgeteer, gedehidreer, het hy breinskade, skedelfrakture, ʼn gebreekte arm, kneusplekke en sigaretbrandmerke regoor sy liggaam gehad as ʼn gevolg van De Koker se optrede en bevele. Hy is glo ook aangesê om sy eie ontlasting te eet.

Die saak is tot 19 Februarie uitgestel.

Die uitspraak word op 27 Februarie verwag.

Lees alle vorige berigte oor Echo Wild Game Rangers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marianna ·

Wat n skande! Om n onskuldige jong seun so te martel en nie een oomblik jammer te voel nie! Dan pak die slegte mans nog skuld op mekaar want hulle is te pateties om verantwoordelikheid te vat vir so n walglike daad…en hoekom stuur n ma haar kind na so plek en gaan kyk nooit hoe dit met hom gaan nie???? Die arme kind is aan sy genade oorgelaat en met sy lewe geboet…so jammer

schalk ·

Presies waaraan ek gedink het terwyl ek die berig gelees het. Het die ouers nie toegang gehad nie? Kon hy nooit sy ouers bel nie?

SNEL ·

Dis skandelik wat hulle aan die arme kinders gedoen het en ek glo daai ouers en kinders sou nooit betrokke geraak het by so plek as hulle geweet het wat gebeur nie. Elke ouer soek net die beste vir hulle kinders. Miskien was daar reëls, dat daar vir n sekere tyd geen kontak tussen ouers en kinders mag wees nie. Ek glo die ouers het meer as genoeg skuldgevoel en dit dryf hul teen die mure uit om te hoor wat hulle arme kinders moes deurmaak. “Pleks het” en “wat as” help mens niks en daai ouers sou beslis nie stilgesit het as hulle geweet het wat daar gebeur nie. Daardie ouers van daardie kinders wat deur die hande van daai monsters dood is het ons gebed en ondersteuning nodig, hulle het nie nodig om met hulle pyn en seer verder in die grond in getrap te word nie. Ek glo hulle wou vir hulle kinders ondersteun in n rigting wat hulle kinders wou volg en hulle almal het nie geweet wat gaan gebeur nie. Die skuldiges is beslis nie die ouers nie.

Sanet Venter ·

Wat van die ander twee persone wat ‘n paar jaar terug ook op dieselfde sogenaamde kamp oorlede is? Kom dit nie meer in tel nie? Dit is abstoluut wreed en onmenslik om dit aan mense te doen.

Chanel ·

Julle almal is altyd vining om die ouers te blameer. As mense daarop uit is om sulke walglike dinge te doen, gaan hulle ook uit hul pad uit om dit weg te steek.

Gaan lees op ander plekke ook, en julle sal sien dat die ma meer as eenkeer probeer het om met haar seun in verbinding te tree. Maar sy is geweier. En sy het eintlik geen rede gehad om te dink dat haar kind in gevaar is nie.

lillian ·

Dis siek! Hierdie vent wou dat ander die blaam dra, sodat hy kon voortgaan om kinders te mishandel.

Boeta jy kan bly wees dit is nie my kind nie, want dan het jy beslis nie in die beskuldigde bank gestaan nie … dan was jy ses voet ses!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.