Wildbewaarder red joernaliste van grootpoot

Solomzi Radebe (Foto: ANA)

ʼn Wildbewaarder het Dinsdag tot die redding van ʼn groep joernaliste gekom wat behoorlik skrik op die lyf gejaag is toe ʼn olifantbul dié groep tydens ʼn wildbesigtigingsrit in die Manyane-oord buite Rustenburg, Noordwes, bestorm het.

Die wildbewaarder Solomzi Radebe (42) het egter die olifant in sy spore gestuit voordat hy die groep kon leed aandoen.

Die olifant was die eerste wilde dier wat die groep op hul rit naby ʼn dam in die oord gewaar het. Radebe het nader gery waar die 52-jarige olifantbul sy lyf teen ʼn boomstomp krap.

Radebe sê hy het egter gesien dat die olifant onrustig begin word waarna hy die groep se voertuig bestorm het. Radebe het in die doodsnikke “Buyela emuva! Buyela emuva!” geskreeu wat “staan terug” in isiZulu beteken.

Die olifant het gevolglik stil gaan staan waarna hy ʼn tree teruggegee het en toe eindelik weggestap het.

Radebe werk al 18 jaar by die oord en staan glo bekend as “Buffalo Soldier”. Hy word beskou as ʼn wafferse dierefluisteraar en het ʼn manier om met alle diere te kommunikeer, hoewel hy nie daaroor spog nie.

“Ek was nie bang toe die olifant die voertuig nader nie,” het Radebe gesê. “Ek doen dit al baie lank en kan sien wanneer hulle onrustig raak.

“Ek het vir [die olifant] gesê om te stop toe ek opgemerk het dat hy van plan was om die voertuig om te keer. Hy en al die ander diere is gewoond aan my stem en ons het ʼn verstandhouding,” het hy gesê.

Radebe het ʼn litteken tussen sy oë van ʼn vorige konfrontasie met ʼn swartrenoster toe hy ook toeriste van dié wilde dier moes red.

Hy moes ook vandeesweek die einste groep joernaliste red van leeus wat in die pad gelê het. Dit het Radebe sowat tien minute geneem om die leeus met die motor se kopligte te verjaag.

Die groep joernaliste is op ʼn vier dae lange toer deur die plaaslike munisipaliteit, Moses Kotane, om toerisme in die gebied eerstehands te ervaar wat verskeie wildreservate in die gebied insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hannah ·

Give that man a Bells.
Jy is bevoeg en kon die Bul se gedrag goed opsom…al bly n wilde dier onvoorspelbaar.
Baie dankie dat jy nie die Bul dood geskiet het nie

**anoniem** ·

Was so rukkie terug saam hom op ‘n wildsrit. Hierdie veldwagter ken sy storie en sy kennis rondom die omgewing en die diere is regtig uitstekend!! Welgedaan Solomzi Radebe AKA Buffalo Soldier!

CB ·

Baie oulike storie! Welgedaan! Sal graag saam hom op ‘n rit wil gaan.

Is “gewoond” in die 8ste paragraaf nie “gewoont” nie?

Mariné Lourens ·

Dagsê CB

Dankie vir jou boodskap. Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (6de Uitgawe, bladsy 352) is die spelling gewoond. Gewoond (b.nw): Vertroud met; iets gewoond wees.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Tau ·

Sjoe, goed om te weet olifante verstaan Zoeloe.
Die diere daar klink oor die algemeen erg gefrustreerd, of word daar net uit die staanspoor te naby aan hulle gekom?

Mooi storie ·

Hou van die storie.
Mooipraat werk ook. Mens hoef nie altyd trigger-happy te wees nie.

Andre ·

Wie het die mense in die gevaarsone gevat ? Hy het dit geweet dit is hoekom hy so kon skreeu.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.