Wilde leeu gesoek ná ontsnapping uit sleepwa

Die leeu wat gevang is. Foto: Verskaf

Owerhede en die gemeenskap het ʼn soektog van stapel gestuur na ʼn wilde leeu wat Sondagmiddag in die Magoebaskloof-omgewing ontsnap het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het gesê aanvanklik het twee leeus weggekom toe hulle uit die luik van ʼn wildsleepwa wat deur ʼn bakkie gesleep is by George Valley ontsnap het.

“Volgens ʼn ooggetuie het die twee leeus in ʼn denneboomplantasie ingegaan nadat hulle op ʼn manier uit die bewegende sleepwa ontsnap het. Die bestuurder van die bakkie beweer hy het die leeus van een reservaat na ʼn ander vervoer. Nadere ondersoek word nog gedoen om presies te bepaal van waar en waarheen die leeus op pad was,” het hy gesê.

Ngoepe het gesê een van die leeus het haar poot beseer toe sy uit die bewegende sleepwa gespring het. “Die leeu het teen die nat en modderige heuwel opwaarts gesukkel en is later daar gevind en gevang. Die ander leeu het na ʼn stroom aan die oorkant van die R528-pad gehardloop en is steeds soek.

“Lede van die meenskap word gewaarsku om versigtig te wees as hulle in die omgewing is of daarheen reis.”

Enigiemand wat die leeu sien, word versoek om die polisie se noodnommer by 10111 te bel.

Opvolg: Rondloperleeu opgespoor

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Thea Gerber ·

Jammer om te hoor, maar as hy dalk honger word, hoop ek hy loop ‘n avodadodief of twee raak in die boorde.

Kobus ·

Ek wonder hoe lyk die sleepwa as ‘n leeu met hom klaar is.

Louwrens ·

Ek dink die sleepwa lyk en ruik seker soos n mens se broek as jy skielik op die leeu afkom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.