Wilde diere gered ná maande se mishandeling

Die sleepwa waarin die luiperd gehou is. (Foto: Bloemfontein SPCA/Facebook)

ʼn Luiperd wat maande lank in ʼn sleepwa van 2 m by 1,5 m moes eet, slaap en in haar eie urine en ontlasting lê, is onlangs gered nadat die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) op die haglike toestande op ʼn wildsplaas afgekom het.

Intussen is nog 70 wilde diere van die betrokke wildsplaas in Verkeerdevlei gered nadat hulle ook forseer is om in dieselfde soort toestande te oorleef.

Reinet Meyer, hoofinspekteur van die DBV in Bloemfontein, sê ʼn 55-jarige man is reeds in hegtenis geneem en aangekla vir die oortreding van verskeie dierebeskermingswette. Aanklagte kragtens die Natuurbewaringsordonnansie staar hom ook in die gesig.

Volgens die DBV het inspekteurs die betrokke plaas einde Januarie besoek om ondersoek in te stel na bewerings van dieremishandeling.

“Niks het egter die gesoute en ervare inspekteurs voorberei op wat hulle sou sien nie,” sê Meyer.

“Die inspekteurs het op ʼn sleepwa afgekom wat op die wildsplaas parkeer is. ʼn Luiperd was in die sleepwa en die reuk van urine, ontlasting en ontbinde karkasse was oorweldigend.”

Dit het later aan die lig gekom dat dié luiperd al vyf maande lank in die sleepwa aangehou is. Sy is daagliks deur klein gate in die sleepwa gevoer.

Dassies was by die wildsplaas gehou. (Foto: Bloemfontein SPCA/Facebook)

Die luiperd, twee bakoorjakkalse en sewe ander jakkalse is dieselfde dag nog gered en van die wildsplaas verwyder.

Die luiperd is na ʼn plaaslike veearts geneem en sal eersdaags in ʼn wildreservaat hervestig word.

Die DBV het verlede week weer die wildsplaas besoek en in ʼn gesamentlike operasie die res van die diere op die roofdierteelplaas gered.

“Die DBV se inspekteurs, veeartsenykundige personeel en handhawingsbeamptes was geskok om te sien hoe talle inheemse wildekatte en bakoorjakkalse in vuil hokke gedruk is en aan ʼn magdom gesondheid- en welsynsprobleme ly,” sê Meyer.

“Die toestande waaronder daardie diere gedwing is om te leef, het ons harte gebreek.”

Die gespesialiseerde span kundiges het van die vroeë oggendure tot laat in die nag gewerk om te verseker dat elke dier veilig gevang, verdoof en ondersoek word voordat hulle in kratte gesit is. Al die diere sal so gou moontlik hervestig word.

Dié behandeling onmenslik

Jakkalse is ook gered. (Foto: Bloemfontein SPCA/Facebook)

ʼn Toonaangewende vereniging wat wildboere in Suid-Afrika verteenwoordig, Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA), het hom intussen uitgespreek teen die gru-mishandeling van hierdie diere.

“Ons wil die optrede van hierdie individu in die sterkste sin veroordeel en dit onomwonde stel dat hierdie soort behandeling van enige dier strydig is met alle standaarde van etiek en menslikheid wat ons van alle mense verwag wat die verantwoordelikheid aanvaar om vir diere te sorg,” sê Richard York, hoof van WRSA.

Wildboerdery speel ʼn deurslaggewende rol in Suid-Afrika se bewaringspogings en word erken as ʼn broodnodige deel van die land se ekonomie.

Volgens York word die bedryf se reputasie egter in gedrang gebring wanneer dieremishandelingsake soos dié aan die lig kom.

“Enige skade aan die bedryf – reputasie of andersins – stel nie net ons voortgesette werk vir bewaring in gevaar nie, maar ook die lewensbestaan ​​van meer as 400 000 Suid-Afrikaners in landelike gebiede.”

Die WRSA staan die betrokke owerhede by in die ondersoek na die saak.

York het ook ʼn beroep op boere in die bedryf en Jan Alleman gedoen om diere met die nodige respek te hanteer wat hulle verdien.

“Die publiek moet enige gevalle van dieremishandeling of -wreedheid by die betrokke owerhede aanmeld,” sê hy.

“Ons is ook daartoe verbind om bystand te lewer by sake soos hierdie sodat dit deeglik ondersoek word en die oortreders verantwoordelik gehou kan word vir hul dade.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

WILLEM ·

Wat was die man se intensies om onskuldige diere so te mishandel. Sit hom in ‘n sleepwa sonder kos of water vir ‘n week en sien wat gebeur. Sies!!

Johanna ·

Sluit hom op en gee hom die selfde behandeling wat hy die diere gee het

Mariana ·

Hulle moet die vuilgoed ook in so ‘n krat sit en kyk hoe hy daarvan hou. Hy is nie mens nie maar monster. Hoop hy word swaar gestraf.

Frikkie ·

Die ou moet lewenslank in ‘n sel met dieselfde afmetings aangehou word.

Elmarie ·

Hoekom lees mens so gereeld van sulke goed in Bloem of is hul DBV net meer paraat en snuffel die goed uit. Hierdie is nié mense diere so mishandel nie. Verskriklik. Dankie Bloem DBV! Ek dink alle wildplase moet gereelde inspeksies kry!

Lisma ·

Sluit hom ook toe in ‘n hokkie vir maande aaneen, voer hom deur ‘n gaatjie en laat hy in sy eie ontlasting en urine sit die hele dag!!! Mense is afskuwelik!

Strandloper ·

Is dit deel wees van die ronde anc koeie kader se plaas? Sal nie verbaas wees nie!

Prikkie ·

Daardie sleepwa is mos nou leeg, sit hom daarin en voer hom so dan en wan. Hy moet ervaar wat die luiperd ervaar het vieslike skepsel!!

Di ·

DIT is siek om diere so te laat ly!! Hoop die gemors kry tronkstraf want dit is ONAANVAARBAAR. Maak ‘n goeie voorbeeld van hom. Ons as gemeenskap moet hierdie tipe mishandeling aanmeld SODRA mens bewus word daarvan. Baie mense wil nie betrokke raak nie en laat toe dat hierdie tipe mishandeling net voortgaan.

Amelia ·

Onthou tog van minster wat diere laat dood gaan het sonder kos of water wat het van daardie saak geword (dink was nog varke en hoenders)

Delia ·

Amelia, dis nie nou ter sprake. Hierdie man moet Pa staan vir sy dade

antieklimaks ·

Wat word gedoen om te voorkom dat hierdie persoon weer dieselfde in die toekoms kan doen? ‘n Boete- beteken nie veel nie. Hy/sy kan mos net weer aangaan met dit hierdie “boerdery”.

Theunis ·

Ten opsigte van alle vorige diere mishandelinge, tiere en leeus wat toegelaat was om te ontsnap, is hierdie die geleentheid om daadwerklik en kras regstellende aksie te neem. Die beginsel moet wees ” Dit wat jy saai sal jy maai”

Carolina ·

Al hierdie sogenaamde Wilds plase wat dit doen vir bewaring moet met ‘n knippie sout gevat word, ek vertrou niemand van hulle nie, diere moet in Parke bly waar hulle vry is van mensen se inmeming!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.