Wildekus kap terug oor ‘dodelikste’ Oos-Kaap

Die Wildekus-toerismegemeenskap sê hy is reg om besoekers te verwelkom. (Foto: keimouth.co.za/Facebook)

Die Wildekus-gemeenskap in die Oos-Kaap het laer getrek ná ʼn onlangse nuusberig van die Britse nuuskanaal ITV waarin beweer word die gebied word wêreldwyd die swaarste deur Covid-19 getref.

Die berig fokus op die Oos-Kaap, veral die provinsie se landelike gebiede, en lui “wanneer dit kom by die koronavirus, is hierdie die dodelikste plek ter wêreld”.

Dr. Ben Gaunt, kliniese bestuurder by die Zithulele-hospitaal in Mqanduli, sê die boodskap dat arm mense in die gebied swak toegang tot gesondheidsorg het, is geldig. Hy sê egter die bewering dat die gebied die dodelikste plek op aarde is, is ʼn verdraaiing van ʼn veel ingewikkelder kwessie.

“By die Zithulele-hospitaal het ons sedert die einde van Februarie nie ʼn enkele positiewe Covid-19-diagnose gehad nie. Dit is ses weke sonder enige gevalle,” sê hy.

Volgens die jongste syfers wat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, daagliks bekend maak, kom 12,5% van die land se Covid-19-gevalle in hierdie stadium in die Oos-Kaap voor. Tans is daar net 201 aktiewe gevalle en tot dusver is 11 465 sterftes in die provinsie aangemeld.

Lynne Wilkinson, verbonde aan die Bulungula-ontwikkeling in die Mbhashe-munisipaliteit, sê die TV-span het twee dae in die gebied deurgebring om ʼn beter begrip te kry van die uitdagings om Covid-19-entstof op landelike en afgeleë dele van die provinsie te kry.

Bulungula het onder meer ʼn klein kliniek in die gebied geopen om makliker mediese sorg aan inwoners te bied.

Wilkinson sê in teenstelling met die berig, het die dorpies wat in die beeldmateriaal gesien kan word tydens die hoogtepunt van die tweede vlaag infeksies in Desember en Januarie vyf sterftes ondervind.

Prof. Alex van den Heever, ʼn gesondheidsekonoom verbonde aan Wits se Skool vir Regeerkunde, stem saam dat die data in die berig bevraagteken kan word, omdat dit nie “appels met appels” vergelyk nie.

Hy sê talle lande meld nie hulle oortollige sterftesyfers aan nie, wat beteken ʼn vergelyking met ander bestemmings is bykans onmoontlik op enige ander grondslag as bevestigde gevalle.

Van den Heever sê die gebruik van bevestigde gevalle is eweneens problematies omdat dit algemeen aanvaar word dat virusgetalle in talle wêrelddele onderrapporteer word.

Uitwerking op toerisme

Dit is egter die uitwerking van die stelling op die toerismebedryf wat die Wildekus-gemeenskap onthuts het.

Gaunt sê ʼn buitelandse besoeker gaan nie naastenby geraak word deur dieselfde oorsake van dood wat inwoners wat in armoede – kilometers van gesondheidsorggeriewe – leef, in die gesig staar nie.

“ʼn Mens wil nie die baie werklike uitdaging, met plaaslike gemeenskappe wat steeds sukkel om toegang tot gesondheidsorg te kry onderspeel nie, maar ons moet baie duidelik wees oor die boodskap en nie wydstrekkende, sensasionele bewerings maak nie,” sê hy.

“Inteendeel, as iemand soek na ʼn veiliger plek waarheen om te ontsnap, is dit moeilik om ʼn beter plek as ʼn Wildekusstrand voor te stel waar daar nie ʼn enkele ander siel in sig is nie.”

Gaunt sê reisigers moet gesonde oordeel gebruik en voldoen aan die gesondheid- en veiligheidsmaatreëls wat internasionaal ingestel is.

Indien dit gedoen word, is dié bestemming waarskynlik een van die veiligste ter wêreld, sê hy.

Ook Johann Stadler, stigter van Mdumbi Backpackers in die hartjie van die ou Transkei, sê daar is verskeie goeie landelike hospitale.

Hy sê ʼn toeris met sy eie vervoer kan boonop maklik mediese sorg in Mthatha en selfs Durban of Oos-Londen ontvang, indien nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tiptol ·

Ek stem. Gebruik jou eie oordeel. Jammer dat die Wildekus deel is van die Oos Kaap en onder dieselfde kam geskeer word.

Nico ·

Wat het hierdie geval met die Britte te doen, het die Britte nie alreeds genoeg skade aan Suid Afrika berokken nie. Vroue en kinders is in die Britse moord kampe vermoor, die Britte het beslag gelê op die grond stowwe beslag gelê en het nog nooit apologie aan geteken nie. Die Britte het nog nooit liefde vir die boere volk gehad nie.

Karina ·

Onder die 9 provinsies, het Oos Kaap die minste aktiewe gevalle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.