Wildrit-voertuig omgegooi; olifant nié van kant gemaak

Olifante by die Nkomazi-wildreservaat. Foto: Nkomazi/Facebook

Olifante by die Nkomazi-wildreservaat. Foto: Nkomazi/Facebook

Die Nkomazi-wildreservaat in Mpumalanga het ten sterkste gerugte op sosiale media ontken dat ʼn olifantkoei en haar kalf van kant gemaak gaan word weens ʼn voorval verlede maand waar ʼn wildbesigtingsvoertuig omgegooi is.

Nick Webb, ʼn direkteur van Nkomazi, het die voorval aan Maroela Media bevestig. “Gelukkig is die gaste, personeel en dier nie ernstig beseer nie,” het Webb gesê. “ʼn Ondersoek na die voorval het ongelukkig tot voortydige spekulasie en hoorsê gelei. Daar is geen rede om die olifant van kant te maak nie. Die olifant het al in die verlede aggressiewe gedrag getoon maar ons monitor die situasie deurlopend.”

Volgens Webb sal daar na verskeie alternatiewe gekyk word indien die olifant se aggressiewe gedrag voortduur en die dier ʼn bedreiging inhou vir die reservaat se gaste of personeel. “Verskeie opsies is onder oorweging insluitend die moontlikheid om die olifant na ‘n groter reservaat te skuif waar daar minder kontak met mense is.”

Webb het gesê daar steek ook geen waarheid in gerugte dat die wildbewaarder wat die voertuig bestuur het, tussen die olifantkoei en haar kalf ingery het of te naby aan hulle stilgehou het nie. “Ons is tevrede dat daar aan al die nodige bedryfstandaarde en -riglyne rakende wildbesigtiging voldoen is en die voorval helaas plaasgevind het as gevolg van aggressie deur die olifant.”

Volgens Webb is die veiligheid van hul gaste en diere die reservaat se eerste prioriteit. “Met dit in oorweging moet ons na al die moontlikhede kyk om te verseker dat daar nie ʼn herhaling van die voorval is nie. Dit sal absoluut die laaste uitweg wees om die dier van kant te maak en so besluit sal deur ervare en hoogs gekwalifiseerde kenners gemaak word in samewerking met die provinsiale parke-owerheid en om die rede word alle ander uitvoerbare alternatiewe geëvalueer.”

Die gerug wat op sosiale media versprei is, het aangevoer dat ʼn werknemer van die reservaat afgedank is nadat hy inligting oor die voorval aan die media uitgelek het. Volgens Webb is die werknemer meegedeel dat daar ʼn ondersoek sal wees na sy gedrag waarna hy glo vrywilliglik bedank het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LOU VAN DER MERWE ·

EK IS DANKBAAR DAT DIE OLIFANT NIE SUMMIER VANKANT GEMAAK WORD NIE. DIT IS JAMMER DAT NIE AL DIE MENSE SO OPTREE NIE.

Theresa ·

Ek hoop dit is waar en dat hulle NIE van kant gemaak is nie. Dit is NOOIT die diere nie. Dis die mensdom wat hulle gebied betree en dink hulle is kaas. Dis instink. Hulle verdedig net hulself en natuurlik was daar ‘n kalfie betrokke. Enige ma sal haar kind beskerm. Wens die mense wil dit in hul koppe kry.

Asjas ·

Ek wens somige mense wil meer soos diete optree wanneer dit by hul kinders kom …

Asjas ·

Ek wens somige mense wil meer soos diere optree wanneer dit by hul kinders kom …

Charmaine ·

Ek stem saam met Theresa, diere kan nie praat nie so die enigste manier om te kommunikeer is deur geluide en optrede. Ons almal vat ‘n risiko as ons naby enige dier gaan. Ons is hier om hulle te beskerm en nie dood te maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.