Wildsbokke uitgesit weens onwettige vervoer

'n Sitatunga-wildsbok. Foto: Wikimedia

‘n Sitatunga-wildsbok. Foto: Wikimedia

Agt Sitatunga-wildsbokke wat op onwettige wyse van die Praag-dieretuin in die Tsjeggiese Republiek na Suid-Afrika gebring is, moes deur die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) van kant gemaak word.

Volgens die NDBV is die wildsbokke sonder die nodige papierwerk deur drie beheerpunte toegelaat, ondanks beperkings op die verwydering van enige wildsbokke uit Europa.

Die NDBV sê die diere, wat via Frankfurt in Duitsland vervoer is, het op 1 Augustus in Suid-Afrika aangekom en was vir die Johannesburgse Dieretuin en ‘n private individu bestem.

“Dit is ‘n tragiese voorval wat vermy kon word indien die regte protokol gevolg is,” het Wendy Wilson, inspekteur by die NDBV se spesiale ondersoekeenheid, gesê . “Die bokke was in verskillende stadiums van ontwatering en vier van hulle het reeds inmekaargesak. Daar was tekens van beserings aan die diere se gesigte en bene, en bloeding en kneusplekke op hul pote. Die diere het uit hul hokke probeer ontsnap en kon nie by hul waterbakke uitkom nie.”

Wilson sê die wildsbokke was “uiters gespanne” en dat dit “baie ontstellend” was om bloedspatsels in die hokke te sien.

Volgens haar was die waterbakke nie op die regte plekke nie en die diere kon gevolglik nie daarby uitkom nie.

Om die diere die land in te bring sou die bedreiging van siektes vir Suid-Afrika se ekostelsels beteken. Volgens die verklaring sou die departement van landbou, bosbou en visserye nie toelaat dat die wildsbokke hul bestemming bereik nie.

Wilson sê die diere moes teruggestuur word na hul land van herkoms of uitgesit word.

Duitsland wou nie toelaat dat die diere terugkeer nie en talle veeartse het om etiese redes geweier om die diere van kant te maak.

“Die gevolg was dat die diere in hul klein vervoerhokke moes bly, sonder dat hul eers kon omdraai. Hierdie hokke word nie ontwerp dat diere lank daarin aangehou kan word nie,” het Wilson bygevoeg. “Die wildsbokke was vir minstens vier of vyf dae lank in die hokke opgesluit.”

Die NDBV het sy ontsteltenis uitgespreek oor die lyding wat die wildsbokke tydens hul aanhouding by die Lufthansa-laairuim in die O.R. Tambo-lughawe ervaar het.

Die NDBV sê hy ondersoek die Johannesburgse Dieretuin se betrokkenheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.