Wildtuin se renoster-wesie sterk goed aan

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die baba-renoster wat ʼn paar weke gelede in die Krugerwildtuin gered is nadat stropers sy ma doodgemaak het, sterk tans goed aan by die ʼn rehabilitasiesentrum vir renosters in Mpumalanga.

Foto’s van die renostertjie, Baba Don, is wyd op sosiale media versprei nadat hy op 25 Julie in die wildtuin gevind is. Op die foto’s kan gesien word hoe die renostertjie homself teen ʼn motor in die Krugerwildtuin aanvly, skynbaar op soek na beskerming.

Baba Don, wat ongeveer twee maande oud is, is verdoof en na die Care for Wild Africa-sentrum in Mpumalanga geneem. Op pad daarheen moes die helikopter ʼn noodlanding doen toe Baba Don se hart gaan staan het. ʼn Veearts kon egter daarin slaag om hom weer by te bring en hy is suksesvol tot by die rehabilitasiesentrum vervoer.

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Petronel Nieuwoudt, eienaar van Care for Wild Africa, het Maandag aan Maroela Media gesê Baba Don was in ʼn baie slegte toestand toe hy by die sentrum aangekom het. Hy was erg gedehidreer en baie verswak. “Dit is ʼn baie traumatiese ervaring vir die renostertjies wanneer hulle hierheen vervoer word. Hulle het 24 uur sorg nodig wanneer hulle hier aankom. Hulle word dwarsdeur die nag gevoer, hul glukose-vlakke moet heeltyd bepaal word en hul gewigstoename word noukeurig gemonitor,” het sy gesê.

“Dit gaan nou baie goed met Baba Don. Hy het goed gewig opgetel en drink al baie mooi aan sy bottel.” Volgens Nieuwoudt word jong renosters eers op 18 maande gespeen waarna hulle na ʼn veilige gebied geskuif sal word waar hulle hopelik teen stropers beskerm sal wees.

Nieuwoudt het gesê ʼn intensiewe rehabilitasieprogram word gevolg om te verseker dat die jong renosters aangepas is by ander renosters en die natuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SNEL ·

Wat n ou pragtige diertjie, te oulik. Hoop hy bly veilig en kan nog lank die aarde bewandel.

tina ·

Ai..my hart is so seer van blydskap…so baie bly hul kon hom red…dit is diere-babas, wat nog te se van mense-babas..dankie aan al die mense-engele wat op die babas afkom. Elke verhaal soek ‘n held/heldin. Laat ons vir mekaar daar wees.
Miga 6v8: “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; EN WAT VRA DIE HERE VAN JOU ANDERS aa om REG te doen en LIEFDE te BETRAG en OOTMOEDIG te wandel met jou God”.
Kom ons wees verantwoordbaar en waardeer God se skeppingswerk.

Eliza-beth ·

Hoe oulik tog! Hoop hy herstel heeltemal en word ‘n mooi, sterk trotse dier!

J.Z ·

Die wereld is begaan oor een leeu,maar ek hoor niks oor die stroop van honderde renosters nie.kyk na die foto ,laat die wereld hiervan se wat hulle dink, een klein baba wat nie eens vir hom self kan sorg nie,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.