Wildtuinbesoekers oor trop leeus gewaarsku

Argieffoto: KNP

Die bestuur van die Krugerwildtuin het besoekers gewaarsku teen ʼn trop leeus wat “abnormale gedrag” rondom voertuie toon.

Glenn Phillips, die wildtuin se uitvoerende hoof, het gesê dit wil voorkom of ʼn trop leeus noord van Satara begin gewoond raak het aan voertuie en onder meer voertuie se bande byt.

“Besoekers wat op leeus afkom wat dié soort gedrag toon, moet verseker dat die voertuig se ruite toe is. Mense wat op oop safari-voertuie ry moet seker maak dat hulle stil bly en hul arms en koppe ten alle tye binne die voertuig se struktuur hou,” het Phillips in ʼn verklaring gesê.

“Ons het inligting van verskeie toeriste ontvang wat dié tipe gedrag aanskou het. Ons doen ʼn beroep op al die bestuurders van oop safari-voertuie om op die uitkyk vir die leeus te wees, aangesien die trop se gedrag kommerwekkend is en ʼn gevaar vir besoekers mag inhou.”

Phillips het gesê een van die leeus in die trop sal ʼn halsband kry sodat sy gedrag en dié van die trop gemonitor kan word.

“Besoekers wat foto’s of video’s van soortgelyke voorvalle het, word versoek om dit op die wildtuin se sosialemediaplatforms te deel sodat die wildtuinbestuur kan vasstel of dit ʼn spesifieke leeu is en of die hele trop dalk die gedrag aangeleer het.”

Besoekers wat ʼn foto van die leeus kan neem, word versoek om die leeus só af te neem dat hul merke of ore sigbaar is om sodoende die leeu te kan identifiseer.

“Besoekers moet egter nie te naby aan enige van die diere gaan om die beeldmateriaal te neem nie,” het Phillips gewaarsku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Erica ·

Diere raak moeg vir mense en ek neem hulle nie kwalik nie – veral in die wildsreservate tree van die besoekers teen die reels op.Lawaaierig, hang by voertuie uit,ry tot teenaan die diere,versteur hulle ruimte ens.By sommige mense is daar geen respek vir die natuur nie.

Monica ·

Ja, dis tyd dat die diere ook teenoor die wrede mensdom opstaan.

wielie ·

Geen respek vir die diere … dan sal die mense as versnappering geniet word deur die leeus!

Alida ·

Ja wel baie “besoekers” gaan wildtuin toe vir partytjie hou en nie vir die doel waarvoor die wildtuin daar is nie. Mens kan nerens meer gaan sonder hierdie afskuwelike gedrag nie.

Anna ·

Waarvan praat jy? Nerens word genoem van mense wat swak optree nie. Ons kom nou net terug van n week in d wildtuin en het nooit enige swak gedrag gesien nie. Almal was baie respekvol teenoor die natuur en ander besoekers.

IK ·

Jy bedoel seker jou voertuig se wiele? Die leeus pas maar net aan by die golf van misdaad in die land.

Dankie ·

Dankie Maroela dat julle die artikel objektief, soos joernaliste veronderstel is om dit te doen, oordra. Julle sit nie enige senasionele stertjies by om die leeus as monsters af te maak en nuus te probeer genereer wat daar nie is nie. Vergelyk die artikel met die artikel van die linkse massamedia aanlynkoerant wat dit na vals nuus laat swenk, als vir hulle sensasie.

Anoniem ·

Leeus is soos huiskatjies, altyd ondersoekend ? Aanvaar dit net, en bly in Julle voertuie soos wat die Parkeraad se reëls sê !

marous ·

Die parke raad se begroting laat nie toe dat hul kundiges self gaan kyk en dit monitor nie , want hulle het nie fondse om bande te vervang nie …..

Natuurliefhebber ·

Die bestuurders van safari voertuie moet ook die passasiers/toeriste inlig om stil te wees op die voertuie. Hulle (safari voertuig besturders) moet ophou om te maak asof park (die wild) aan hulle behoort en ons as besoekers te jaag om ook wild te sien.

Carlien ·

Respekteer ten alle tye die wildtuin se reels en hou die diere op n veilige afstand dop.. Leeus is nuuskierig en as daar n goeie afstand tussen mekaar is behoort dit gladnie n probleem te wees nie. Dis omdat mense tot so na as moontlik aan die diere probeer kom dat hulle bande gekou word. Ek het in Phalaborwa gebly en weekliks ingegaan wildtuin toe en moes menig maal aanskou hoe onrespekvol mense teenoor diere optree, olifante tart met hulle toeters en op diere afjaag, geen saak met die reels en spoedgrens nie. Sulke mense moet eerder ver van die wildtuin wegbly..

Willie Gouws ·

Verban hierdie oop safarivoertuie uit die wildtuin , die bestuurders dink die park behoort aan hulle ,geen respek vir mens of dier .

Hansie Slim ·

Ag nee, hoeklm eet die leeus bande?
Daar is seker iets “beter”…

Netso ·

Wonder net of leeu se kind nie agter kom daar kom kos uit van die voertuie uit? Hoekom nou skielik so belang stel in iets wat 100 jaar lank daar verby kom?

Che Guavara ·

Daar is baie bobbejane wat “abnormale” gedrag rondom voertuie toon. Wonder wat ‘n mens in dié gevalle moet doen? Fotos neem om hul ore te identifseer? Bobbejane bly maar bobbejane!

dup ·

Anna jul het iets besonders belewe as almal hulle gedra het , Ons was twee weke gelede daar en die een gids(oop safari voertuig) het gesteun soos ‘n leeu in ‘n poging om ‘n slapende leeu te laat opstaan vir sy gaste,Ander gids het op die Afsaal hoofpad uit sy voertuig geklim en aan sy gaste ‘n lesing gegee oor ‘n skelet wat daar lê , op ‘n vraag hoekom klim hy uit sy voertuig vertel hy selfvoldaan ,hy mag want hy is ‘n “guide”. …Terloops hy is nie eers ‘n Sanparke gids nie.

Nita ·

Nou gaan hulle seker die trop leeus sommer uitwis. Want hulle gedrag pas nou nie die besoekers nie. Wees bly julle sien nog n paar leeus. En besef die diere in die Wildtuin is wild.

Diefie ·

Moet asseblief nie die leeus skiet nie! Dis ons mensedom wat hulle land oorgevat het en nou moet hulle in hokke of op ‘n paar hektaar grond lewe. Dan word hulle nog deur mense uitgemoor.

Hansie ·

Ek het hierdie tendens by Krugersdorp se leeupark ook gesien, en ook opgemerk dat hulle net sekere voertuie se bande betrek. Ek het daar al gewonder of iets soos byvoorbeeld n hond, nie die band “gemerk” het, of dat die voertuig deur iets gery het wat n reuk afgee wat die gedrag veroorsaak

Lank Lewe die Krugerwildtuin ·

Die Wildtuin is vir die natuur en die diere wat daar bly. Die diere het alle regte daar en die mens geen. Die mens is net ‘n besoeker daar wat liefs hul arrogante, materialistiese en Belangrike EIE Ek houding by hul huis moet los. Dankie tog dit is een van die laaste plekke in SA vir die diere waar jagters nie welkom is nie.

“An animal’s eyes have the power to speak a great language.” – Martin Buber.

Lizl ·

Tyd om Satara toe te gaan… Ek sal moor om `n video te neem van `n leeu wat `n wiel byt. Sal wel na die tyd `n taamlike probleem he as my man weier om die wiel te ruil !
Solank SAN Parke net nie die leeus van kant maak nie. Dis hulle plek, nie die toeriste sn

Etienne ·

Wat die berig nie noem nie is, as die leeus sulke gedrag toon of net mik na jou wiele, moet jy net stadig vorentoe of agtertoe beweeg, Moenie net stilstaan nie. As jou voertuig bly beweeg sal hulle jou wiele uitlos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.