Wildvanger steeds kritiek na helikopter val

Jason Badenhorst saam met sy verloofde, Lauren Senekal. Foto: Facebook

Jason Badenhorst saam met sy verloofde, Lauren Senekal. Foto: Facebook

Jason Badenhorst (27), ʼn wildvanger van die Noord-Kaap, is steeds in ʼn kritieke toestand nadat ʼn helikopter waarin hy ʼn passasier was, Donderdag geval het. Hy word nog in die neuro-waakeenheid van die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein behandel.

Esmarie Cronjé, woordvoerder van die hospitaal, het Maandag aan Maroela Media gesê Badenhorst word steeds geventileer en onder verdowing gehou. “Sy toestand is kritiek, maar hy is gestabiliseer,” het sy gesê. Sy wou nie oor die aard van sy beserings uitbrei nie.

Volgens Cronjé het die ongeluk Donderdag naby Richmond in die Noord-Kaap plaasgevind. “Volgens paramedici wat hom behandel het, het die helikopter glo geval toe die nette wat hulle uitgeskiet het om wild te vang, in die stert-rotor van die helikopter verstrengel geraak het. Die vlieënier het wonderbaarlik ongedeerd van die ongeluk af gekom, maar Jason is baie ernstig beseer.”

Badenhorst se verloofde, Laura Senekal (22), het aan Maroela Media gesê sy wil eerder nie kommentaar lewer totdat daar meer duidelikheid rondom Badenhorst se toestand is nie. “Ons wag nog om presies uit te vind hoe erg hy beseer is en om te sien wat gaan gebeur. So ons wil net eers kyk hoe hy op die behandeling reageer voor ons verder iets sê,” het sy gesê.

Maroela Media wag nog vir kommentaar van die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.