Wildvanger sterf: ‘Hy was ʼn legende en ʼn yster gewees’

Coena Smith sr. Foto: Verskaf

Die bekende wildvanger van Limpopo wat Dinsdagmiddag in ʼn helikopterongeluk dood is, word volgende week Woensdag gegroet.

Coena Smith sr. (69) van Waterberg-wilddienste in Vaalwater het gesterf nadat die Bell-47-helikopter waarin hy was buite Alldays neergestort en in vlamme uitgebars het. ʼn Passasier, Dean Oosthuizen, het die ongeluk oorleef en sterk in die hospitaal aan. Smith sr. en die passasier was besig om wild te vang toe die helikopter neergestort het.

“Hy het tot op sy laaste dag dit gedoen waarvoor hy lief was – hy het gevlieg en hy was in die veld gewees,” het Coena Smith jr., een van Smith sr. se drie seuns, gesê.

Smith jr. het gesê dit is nog nie presies duidelik wat tot die ongeluk gelei het nie, maar dat daar vermoed word die enjin het uitgesny. “Die helikopter het getol en hard die grond geslaan.” Volgens Smith jr. het Oosthuizen sy pa uit die helikopter getrek toe dit aan die brand geslaan het voor hy self sy bewussyn verloor het.

Die uitgebrande wrak van die helikopter. Foto: Verskaf

Smith sr. en Oosthuizen is op die toneel behandel waarna ʼn helikopter Smith sr. na ʼn hospitaal in Pietersburg sou vervoer. Sy toestand het egter versleg en hy is na ʼn hospitaal in Alldays geneem waar hy kort daarna beswyk het.

Smith sr. het meer as 45 jaar se ondervinding in die bedryf. “Hy was ʼn baie hardwerkende man wat altyd vriendelik was en plannetjies gehad het. Hy was ʼn baie goeie leermeester en ons sal hom ewig dankbaar wees vir dit wat hy ons geleer het.

“Hy was ʼn baie goeie en liefdevolle pa gewees en het baie openlik gepraat. Ons het altyd naweke as familie saamgekom en dan saam gekuier en gebraai en lekker gesels oor die bedryf.”

Coena Smith sr. (heel regs) saam met sy drie seuns. Foto: Verskaf

Volgens Smith jr. was sy pa passievol gewees en het hy alles voluit gedoen in sy lewe. “Hy was baie lief vir die wildbedryf en het respek vir diere en vlieg gehad. Hy het altyd vir ons gesê dat hy na al die jare nog nie alles weet nie en nog elke dag leer.”

Smith jr. het gesê dit is ʼn mate van troos dat hulle pa gesterf het op ʼn manier wat hy sou wou. “Hy was ʼn legende gewees, ʼn yster van ʼn man.”

Hy sou in Desember 70 geword het. Smith sr. word op 7 Augustus by die AWA-veilingslokaal in Vaalwater gegroet.

Marlene van Staden, burgemeester van Nylstroom (Modimolle), het Smith sr. ook as ʼn legende beskryf.

“Dit is ’n groot tragedie en verlies vir die gemeenskap. Daar is soveel staaltjies wat ek van hom kan onthou en wat ek kan oorvertel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Corroe Mali ·

Rus in vreede my ou maat. Sterkte vir julle wat agter bly want Coena was my held.

Wielspore ·

Alle eer aan ‘n persoon wat sy eie skoene vol gestaan het, sterkte aan die familie en vriende.

TN ·

Ons het die eerste keer op laerskool saamgespeel en later baie dae letterlik omgevlieg op ons wildsplaas wanneer ons getel en/of gevang het ___ Ou Coena , baie dankie vir al die mooi herinneringe !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.