Willie Esterhuizen wil Afrikaanse TV terug in sitkamers sit

Willie Esterhuizen. (Foto: verskaf)

Die Afrikaanse sitkom-legende, Willie Esterhuizen, wil Afrikaanse programme goedkoop genoeg maak sodat dit in elke Afrikaanse sitkamer geniet kan word.

“Mense kan dit nie meer bekostig om in te teken vir Afrikaanse TV-programme nie. Dit is ongelooflik tragies vir my,” het Esterhuizen aan Maroela Media vertel.

“Die meeste mense in ons land wat Afrikaans praat, kan nie eens Afrikaanse TV kyk nie.”

Hy benadruk dat hierdie situasie ’n tragedie vir die Afrikaanse taal is.

“Kan jy dink hoe die taal sal ontplof as mense gratis toegang tot Afrikaanse inhoud het?”

Dit blyk vir Esterhuizen dat die toekoms van die vermaakbedryf in stromingsdienste lê.

“AfriForumTV is iets waarin mense belangstel. Hulle kan kyk wat hulle wil, wanneer hulle wil.”

Hy is bekommerd oor die voortbestaan van Afrikaanse televisieprogramme.

“As ons dit nie bekostigbaar vir die alledaagse, Suid-Afrikaanse huishouding maak nie, is ek bevrees dat die Afrikaanse vermaakbedryf stadig maar seker tot ’n einde gaan kom.”

Hy sal ook graag weer Afrikaanse kinderprogramme op die kassie wil sien.

“Daar was destyds sulke wonderlike kinderprogramme. Dink net aan Liewe Heksie, Mina Moo en Wielie Walie. Ons het elke oggend tien verskillende Afrikaanse kinderprogramme nodig.”

As daar een ding is wat Esterhuizen graag wil hê wat Afrikaners van hom moet weet, is dat hy maar net ’n vriendelike ou is.

“Ek wil mense maar net laat lag, so maklik soos dit.”

Dié komediant het al op ’n baie jong ouderdom geweet dat ’n loopbaan in dié bedryf vir hom bestem is.

“As kind het ek daarvan gehou om mense te laat lag. Ek het toe al geweet dat ek in die movies wil wees.”

Esterhuizen as jong seuntjie. (Foto: verskaf)

Hy vertel skertsend hoe hy as kleuter sy familie laat skaterlag het nadat hy gesê het dat hy “boggelol” vir Kersfees wou hê.

“Die grootmense het gelag en ek het die woord blykbaar oor en oor gesê.”

Esterhuizen het grootgeword in ’n tyd waar Suid-Afrikaanse huishoudings nog nie TV’s gehad het nie.

“Ek het gedink dat ek eendag net rolprente sal kan maak, so dis al waaroor ek gepraat het.”

Sy ma het hierdie borrelende passie vir die vermaakbedryf raakgesien en voorgestel dat Esterhuizen sy lyf balletdanser moet hou.

“Sy het in ’n tydskrif gelees dat daar ’n balletgeselskap in die Kaap is wat ’n salaris betaal as jy daar gaan dans.”

So is hy sak en pak Kaap toe om deel te word van die Universiteit van Kaapstad se balletgeselskap. Dis hier waar Esterhuizen egter uitgevind het dat daar ’n opsie is om drama te studeer.

In die vroeë 1970’s het hy weer sy tasse gepak, dié keer om twee jaar lank drama in Londen te gaan studeer.

Esterhuizen het nooit verwag dat hy so ’n indruk op die vermaakbedryf sou maak as wat hy op die ou end wel gedoen het nie.

‘n Foto wat tydens die dae van ‘Orkney Snork Nie’ se verfilming geneem is. (Foto: verskaf)

“Ek het dit natuurlik nie verwag nie! Ek het dit gedoen omdat dit lekker was vir my; ek het my nie oor ander mense bekommer nie.”

Hy vertel verder hoewel mense aan die begin van sy loopbaan neergekyk het op die soort werk wat hy gedoen het, ag Afrikaners nou tog sy bydrae tot die vermaakbedryf as waardevol.

“Hulle het dit uitgekryt as rommelwerk – en nou is dit volksbesit.”

Esterhuizen in 1973 as balletdanser. (Foto: verskaf)

Esterhuizen staan trots in die feit dat hy onbeskaamd bloukraag-komedie doen.

“Ek is op my gemaklikste wanneer ek by mense is wat met hulle hande werk. Aan die mense wat my werk kritiseer en sê dat ek nie kuns skep nie – wat verwag hulle? Ek is die seun van ’n myner,” het hy skertsend vertel.

Esterhuizen het ’n YouTube-kanaal waarop sy bekende sitkom, Orkney snork nie, se episodes gelaai is.

“Al die Afrikaners wat in die buiteland sit, is mal daaroor om die reeks weer te kyk. Hulle verlang terug na die dae toe dit op TV was.”

Esterhuizen is juis vroeër vandeesmaand in ’n ope brief, geskryf deur Carla Kargaard wat sedert 2015 saam met haar gesin in Noorweë woon, bedank vir die feit dat sy haar verlange deur sy werk kon kanaliseer.

“Ek het haar pragtige woorde so waardeer. Dit was vir my ’n riem onder die hart om dit te lees.”

Esterhuizen verlang na die dae waar die verfilming van sitkoms voor ’n gehoor plaasgevind het.

“Dit is só lekker as mense daar is en dadelik reaksie toon. Dit het ongelukkig deesdae te duur geword om so iets weer te kan verfilm.”

Hy word soos ’n ou vriend in talle Afrikaanse huishoudings verwelkom en wanneer mense hom in die openbaar raakloop, is dit vir hom alte heerlik.

“’n Tannie keer my nou die dag voor net om vir my te sê: ‘Jou rowwe bliksem!’ Dis ’n voorreg om so deur mense geken te word; ek sal altyd waardering hê vir die mense wat my ondersteun.”

Esterhuizen saam met sy dogters. (Foto: verskaf)

Dis vir hom belangrik dat hy elke aanhanger respekteer.

“Jy moenie vieslik wees nie; dis die mense wat jou ondersteun wat jou ’n werk gee. Dit maak my vies wanneer ek hoor dat bekendes onbeskof met hulle aanhangers was.”

Hy vertel van ’n brief wat hy van ’n weduwee af ontvang het in die jare waartydens die sitkom, Molly en Wors, nog op televisie was.

“Sy het vir my dankie gesê vir ’n halfuur waar sy van haar hartseer kon vergeet, waar hulle net kon lag. Dis ongelooflik om te weet dat ek daardie soort invloed op iemand se lewe gehad het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Christine ·

Met ‘n van soos Kargaard wonder ek of sy ‘n fiktiewe karakter is! Hahaha…. Grap net. Ek geniet sy programme, sit bietjie lawwe humor in die lewe terug wat tog so ernstig en vol misdaad en hartseer is. Solidariteit mag nie eens hul advertensie uitsaai nie. KykNet is vol engelse en vreemde advertensies. Dankie vir die wat opstaan vir ons pragtige taal, wat tog so ‘n bedreiging vir ander is.

Papsak ·

Baie dankie aan Willie jy is darem nog daar vir afrikaans ons sal dit so waardeur om bietjie iets op tv in ons taal ook te kan kyk en sien want jy sien net ander se tale masr nooit meer AFRIKAAN nie bravo vir jou

Vinny ·

Willie ons geniet jou programme, dis ‘n lekker ligte afleiding van die mislike wereld daarbuite.
bring asb vir ons nog programme tv toe.

SjN ·

Baie dankie Willie, jou humor is presies soos dit is en moet wees, geniet jou werk baie, doe so voort.

Madz ·

Ons is almal afhanklik van ‘n bietjie “afrikaner-humor” om ‘n vaal dag op te kikker! Ek het jare terug al die “Orkney Snork nie”, “Vetkoekpaleis” (wat ons almal se gunsteling was!) asook “Molly & Wors” DVD’s aangekoop. Nodeloos om te sê hulle is al tot in “vas-haak” toestand in gekyk/hanteer maar dit bly ‘n gunsteling by oud en jonk!

Christelle ·

So bly iemand dink aan ons Afrikaanse kykers. Dankie Willie, ek geniet van kindsdae af jou werk.

Swerwer ·

Willie , jy is ‘n man so na aan elke Afrikaanssprekende se hart

Nierkie ·

Ek wag nou al jare vir Willie om weer ‘n properste afrikaanse sitcom te maak. Een wat in ‘n studio voor ‘n regte gehoor gemaak word wat regtig lag. Maar ja die geld vir die soort produksies word nou vir sepies gebruik. Ons mis die gelag van die gehoor Wilie!

Rita ·

Ai Willie, ek weet almal gaan my stenig. Maar wanneer doen jy weer iets soos Orkney Snoknie of Molly en Wors?Poena steek wat my betref maar sleg af. Asseblief ons smag na iets ordentlik Afrikaans om te kyk, maar nee, Poena voldoen nie aan ons verwagtinge nie. Diè karakters verteenwoordig nie die algemene Afrikaanse publiek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.