Wim de Villiers ondermyn MRK-verslag, sê DA

Prof. Wim de Villiers. (Foto: Twitter)

Die Demokratiese Alliansie het Donderdag die Menseregtekommissie (MRK) skriftelik in kennis gestel dat Wim de Villiers, rektor van die Universiteit Stellenbosch, die verslag oor Afrikaans by dié instelling ondermyn.

Maroela Media het vroeër berig die MRK het bevind Matiestudente, wat twee jaar gelede verbied is om Afrikaans in hul koshuiskamers, op WhatsApp óf selfs die parkbankies voor hul koshuis te praat, se basiese menseregte is destyds gruwelik geskend. Nie net is dié studente se reg op vryheid van spraak; taal en kultuur; gelykheid én menswaardigheid geskend nie, maar was die omstrede koshuisbeleid in die naam van inklusiwiteit ook in stryd met die US se taalbeleid van 2016.

Die MRK het versoek dat prof. Wim de Villiers, rektor van US, ʼn skriftelike openbare verskoning aan studente rig en onderneem dat geen student ooit weer verhoed sal word om in ʼn bepaalde taal te kommunikeer nie. Die verskoning moes dit ook duidelik stel dat hy erken dat US verantwoordelik is vir die optrede en beleid by sy koshuise en die menseregteskendings wat daar plaasgevind het; en dat die US sal onderneem om seker te maak dat koshuise nie weer enige beleide of praktyke sal instel wat van enige student sal verwag om ʼn spesifieke taal te praat of studente sal verhoed om ʼn spesifieke taal te praat nie.

Leon Schreiber, die DA se kieshoof vir Stellenbosch, sê dit is nou net een dag later en De Villiers het reeds die regstellende stappe ondermyn. “Hy het opnuut sy minagting vir die regte van Afrikaanssprekende studente bewys. In plaas daarvan dat hy ʼn verskoning uitreik, soos wat die MRK vereis, het De Villiers ʼn swak bewoorde verklaring vrygestel waarin hy sê dat indien daar hierdie verbod was, en as studente aangesê is om nie Afrikaans te praat nie, dit verkeerd sou wees. Die feit dat hy terme soos as en miskien gebruik met verwysing na hierdie feitelike verbod wat op Afrikaans geplaas is, is bewys dat De Villiers steeds nie erken dat Afrikaans onder sy beheer verban is by sekere koshuise nie.”

Die DA het reeds die MRK in kennis gestel dat De Villiers in minagting is van die regstellende stappe wat dié instansie, opgerig kragtens hoofstuk 9 van die Grondwet, vereis.

“Ons het die kommissie versoek om regstappe teen De Villiers te oorweeg oor sy minagting. Sy optrede dra verder by tot ons dringende mosie van wanvertroue vir sy versuim om aandag te gee aan die vergrype.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Nici ·

Die man het nie die vermoe om verantwoordelikheid te aanvaar vir wat gebeur het nie. Hys bo sy vermoens aangestel. Tensy Afrikaans afbreek, die omvang van sy job was. Maar ai daai hienna laggie van hom. …Wil hy nie maar permanent masker dra nie?

KB ·

Ek, as Afrikaner, het geen respek vir die vent nie…hy’s glibberig en ruggraatloos.

Jacobus ·

Nog ‘n persoon wat rustig die krokodil voer met die hoop …………. Dit laat mens wonder wat se siekte skielik die totale vernietiging van menslike ruggraat veroorsaak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dié man se ligte het die gees gegee.

AH ·

Hoe op aarde kan mens gedwing word om jou Whatsapps in ‘n taal van iemand anders se keuse te stuur? Dis verregaande! Die onderdrukking van Afrikaans is verregaande! Wim de Villiers behoort hom te skaam….Inderdaad rugraatloos!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.