Wim de Villiers se kop geëis ná ‘nepotisme’

Prof. Wim de Villiers. (Foto: Twitter)

Die Universiteit Stellenbosch (US) kan nie langer Wim de Villiers se spoor van vernietiging en nepotisme bekostig nie.

Só sê dr. Leon Schreiber, DA-LP en lid van die universiteit se raad, nadat dit die afgelope naweek aan die lig gekom het dat De Villiers, rektor van die universiteit, ingegryp het om toelating tot mediese studie by Maties aan ‘n familielid toe te staan.

Die toelating wat die familielid gekry het, was danksy een van die rektor se drie diskresionêre plasings vir voornemende studente. Luidens die US se webwerf word die rektor se diskresionêre plasings gedoen op grond van “strategiese redes, soos versoek deur die rektor”.

Rapport het Sondag berig die plasing is teruggetrek nadat ʼn skoolmaat wat beter punte as die hy behaal het, maar nie toelating tot mediese studie gekry het nie, vrae oor sy keuring aan die US gerig het. Die familieverwantskap tussen die persoon en De Villiers het daarna op die lappe gekom.

“Ons sien by herhaling hoe die universiteit besig is met die ondermyning van Afrikaans onder die dekmantel van transformasie, maar die enigste Afrikaanse mense wat kwytgeskeld is van transformasie is die rektor se familie,” sê Schreiber.

“Uit die 30 000 aansoeke [vir toelating tot mediese studie] is daar 120 plekke beskikbaar en die rektor het besluit om sy nefie, wat nie gekwalifiseer het nie, bo meer uitnemende en minder bevoorregte aansoekers te bevoordeel.

“Daarmee ondermyn hy die verbintenis tot die transformasie wat hy gereeld preek.”

In korrespondensie met die voornemende student sê dr. Ronel Retief, registrateur by die US, volgens Rapport dat sy verantwoordelikheid vir die gebeure aanvaar en dat sy die rektor oor diskresionêre plasings raad gee. Retief sê luidens die berig dat De Villiers te goeder trou opgetree het toe hy die persoon geplaas het.

Die plasing is intussen onttrek om die “integriteit van plasings in hierdie kategorie en die keuringsproses in die geheel” te verseker, het Retief luidens Rapport gesê.

Die US se uitvoerende komitee het in reaksie op die kwessie gesê hy is bewus “van ʼn aangeleentheid wat verband hou met ʼn klagte dat die rektor en visekanselier in Oktober 2022 ingevolge die US se toelatingsbeleid sy reg uitgeoefen het om na sy eie goeddunke vir ʼn familielid van sy vrou ʼn plek in die MBChB-program vir 2023 aan te bied”.

Volgens die US is die aanbod egter dieselfde maand teruggetrek, voor registrasie vir vanjaar se studie.

“Hierdie saak word intern aangeraak en sal by die agenda van die komende raadsvergadering ingesluit word.”

Die uitvoerende komitee sê voorts die universiteit volg ʼn duidelik gedefinieerde toelatingsbeleid en dié beleid “maak uitdruklik voorsiening vir die rektor se diskresionêre plasings”.

“Die rektor erken hoewel hy te goeder trou en in ooreenstemming met die huidige riglyne opgetree het, was dit ʼn misskatting. Die rektoraat sal die riglyne vir diskresionêre plasings ingevolge die toelatingsbeleid hersien.”

De Villiers moet bedank

(Foto: Universiteit Stellenbosch/Facebook)

Schreiber het in reaksie op die jongste gebeure gesê De Villiers het – met verwysing na die verbod op Afrikaanse studente om dié taal te praat – menseregtevergrype teen Afrikaanse studente toegelaat, terwyl hy sy eie familie korrup voortrek en dit “ten koste van die transformasie wat hy so besing”.

“Hy moet gaan,” sê Schreiber.

Schreiber het reeds ʼn mosie van wantroue teen De Villiers by die US-raad ingedien en sê daar moet nou seker gemaak word dat dit slaag. Die mosie spruit uit die Menseregtekommissie (MRK) se verslag oor menseregteskendings by die US, waarin onder meer bevind is dat die universiteit die menseregte van studente geskend het deur hulle te verbied om Afrikaans te praat.

Die familielid se aanvanklike toelating sal ter versterking van dié mosie gebruik word. ʼn Tweederde-meerderheid van alle raadslede is egter nodig om só ʼn voorgestelde mosie te laat slaag.

Schreiber sê as daar “ʼn eerbare been” in De Villiers se liggaam is, sal hy voor die volgende raadsvergadering bedank.

Die mosie dien op 17 April voor die raad en sou dit aanvaar word, word De Villiers dadelik van sy amp onthef. Die US sê in sy jongste verklaring die voorval sal by die agenda van die komende raadsvergadering ingesluit word.

Schreiber sê nadat die voornemende student se plasing herroep is, was daar egter al twee raadsvergaderings waar nie ʼn woord oor die saak gerep is nie. “Dit is duidelik dat De Villiers en die registrateur, Ronel Retief, albei bewus was van die storie en dit van die raad weggehou het.”

Hy sê die terugtrekking van die toelating is ʼn skulderkenning deur De Villiers en dat hy daarmee sou wegkom, sou die fluitjieblaser nie vrae begin vra het nie.

Schreiber sê boonop is nie net die vrou, wat vrae oor die plasing gevra het, in die proses geviktimiseer nie (onder meer omdat die skuld vir die terugtrek van die toelating op haar gepak is); die ander persoon self is geviktimiseer omdat hy betrek is by hierdie “vuil besigheid”.

“Hy moes die teleurstelling verwerk om wel ʼn plek aangebied te word, waarna dit egter net weer weens die nepotistiese aard daarvan onttrek is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Carel ·

Nepotisme is nie sy grootste sonde nie??
Verraad teen sy eie taal & mense is sy gróót sonde, wat altyd sy “NALATENSKAP” sal wees.

Piet Snot ·

As De Villiers “te goeder trou” nepotisties optree, het hy duidelik nie die oordeelsvermoë om sy pos te vul nie. Hasta la vista, Wimpie!

Andrè ·

Hoe se die ingelse spreekwoord….”what gies around,comes around” Ek het geen simpatie met hom nie,kry wat hom toekom

piet ·

Slim vang sy baas, uitgevang. Nepotisme is egter so oud soos die berge. Baantjies vir boeties, weet nie hoe mens dit ooit sal kan verhoed nie, hierdie tipe ding word baie subtiel gedoen en in sommige gevalle sommer oop en bloot vir aslmal te wys wie’s baas en wie kan doen wat hulle wil.

Johann ·

Bantjies vir Boeties Dis nou maar hoe dit nog altyd gewerk het

Mariana ·

Hy moes lankal die trekpas gekry het maar word telkemale beskerm.

DJ ·

Wimpie is Afrikaans se grootste vyand by US. Sy ‘môre en aand’ praatjies stem nie ooreen nie. Dit is tyd dat hy gaan.

Catherina ·

De Villers is an embarrassment to Maties. What happened to the Uni we were so proud to be part of. Natuurlik sal hier niks van kom nie

Jaco ·

Dit was in die ou SA ook maar so: Broederbonders se kinders het die beste studiebeurse gekry.

JohanR ·

Ja ek dink is tyd om totsiens te waai. Net te veel omstredenheid in sy tyd.

miavos ·

De Villiers het nou al genoeg skade in Matieland aangerig.

John ·

Wat het julle van die man verwag? Ek het n gevoel daar gaan nog baie ander dinge uitkom as jy begin grou. So tipies

Onnie ·

Ek het gewag dat hy self in die gat val wat hy vir Afrikaners gegrawe het.

Elma ·

Dit gebeur konstant by elke tersiere instansie in hierdie land. Dis mos elke man vir homself. Glo my, hierdie verskoning van n mens is nie die enigste een wat homself skuldig maak aan nepotisme nie.

Nettie ·

En so byt dit hom aan die agterent. God slaap nie. Miskien as de Villiers geveg het vir ons Afrikaners, ons taal, ons mense en die Afrikaner-geskiedenis en -tradisies van die US, sou daar vandag plek vir sy susterskind gewees het. Maar nou is daar nie, oor de Villiers “transformasie” met soveel oorgawe ondersteun en bevorder het. Ten koste van Afrikaners. Ten koste van sy eie susterskind se toekoms.

Dankie aan die mense wat hierdie aan die lig gebring het. Veral die medeleerling wat ook nie plek gekry het nie en sy/haar familie.

Africangrey ·

En so word studente met goeie punte geweier, siësta man!

SomeOne ·

wim se kop word op die tafel gesit, MMAAAAARRR, wat van die stupid regering van ons, alles van bo-af tot onder by die straat veërs is alles nepotisme, niemand probeer eers ‘n saak daarteen maak nie

annie ·

Die storie oor en van en deur Wim het al lankal op die kassie begin rol. Hy en sy baas by die US is dik tjommies en sy baas was grootkop by die grondwethof. Daai storie ken ons van. Is Wim dus onaantasbaar? Eintlik moes ons in Ingels geskryf het want Wim verstaan net Engels. Hy was ook mos ‘n gesiene genees-heer. Maar nou is almal siek en sat vir hom?

piket ·

Niks beter as sy regerings beamptes nie. Kwade dag as die sogenaamde “hoofopvoeder” van jongmense hom skuldig maak aan kriminele aktiwiteite. SIES JONG!!!!

Carolina ·

Wie het vir slim wim daar aangesteld, ek dag hy is al lankal terug gepos!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.