Wimbledon: Djokovic klop SA se Kevin

Novak Djokovic (Foto: Wimbledon, Twitter)

Suid-Afrika se Kevin Anderson kon nie daarin slaag om Sondagmiddag die Serwiër Novak Djokovic op Wimbledon in die eindstryd vir mans te klop nie.

Djokovic het met 6-2, 6-2, 7-6(3) gewen.

Dit was Djokovic se vyfde eindstryd op Wimbledon en die vierde keer wat hy as wenner uit die stryd tree. Hy het nog net teen Andy Murray in 2013 vasgeval.

“Hy is regtig ‘n kampioen. Baie geluk aan hom en sy span,” het Anderson in ‘n onderhoud ná die wedstryd gesê. Hy het ook sy waardering uitgespreek vir die geleentheid om te kon deelneem. Hy het ook sy vrou en gesin bedank dat hulle die wedstryd bygewoon het. “Ek is vol vertroue dat ek weer die geleentheid sal kry om hier te kan speel. Baie dankie aan almal tuis in Suid-Afrika vir die ondersteuning en al die ondersteuners en Suid-Afrikaanse vlae op die pawiljoen.”

Die 32-jarige Anderson is die eerste manlike Suid-Afrikaner in 97 jaar om na Wimbledon se eindstryd deur te dring sedert Brian Norton dit in 1921 gedoen het.

Vir sy tweede plek gaan Anderson met £1,125 miljoen (ongeveer R19,75 miljoen) huis toe. Djokovic ontvang £2,25 miljoen (ongeveer R39,5 miljoen).

Die langeraat Suid-Afrikaner (hy is 2.03 m lank) het ʼn uitmergelende halfeind van ses uur en 36 minute teen John Isner van Amerika oorleef om sy plek in die eindstryd te verseker.

Anderson, gebore in Johannesburg, het verblyfreg in Amerika waar hy saam met sy vrou, die gholfspeler Kelsey O’Neal, in Delray Beach, Florida woon. Hy bly ʼn Suid-Afrikaanse burger.

Lees alle vorige berigte oor Wimbledon op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Koos ·

Kevin gaan terug Amerika toe so hy dink glad nie daaraan in randterme nie. SA het so te sê niks bygedra tot sy loopbaan nie. Djokovic bly bobaas en ek hoop hy hou nog lank aan speel. Een van die beste en menslikste spelers ooit. Kyk hoe deernisvol het hy sy seuntjie opgetel ná die tyd.

Krewel ·

Nee wat. ND het gevloek op die toeskouers. Trots op Kevin. Hy sal weer ‘n kans kry…

Cuda ·

Super trots op jou Kevin. Hou voete op die grond. Jy is beslis ‘n rolmodel..

Wessel ·

Maar ek kyk die gemenge dubbels, Azarnka is verseker op pad terug. Een van die dae is sy weer vroue nr 1.

pbotha ·

Was wonderlik Kevin! Jys geklop deur n meester…en deur jou vorige 2 wedstryde. Die liggaam kan net soveel uitputting verduur. Ons is steeds trots op jou

Henry ·

Bykans onmoontlik om betyds die fisiese en geestelike (in)spanning te bowe te kom van veral die veeleisende laaste twee wedstryde, waarna Kevin teen ‘n gemotiveerde en ervare kampioen soos Djokovic te staan gekom het.
Nietemin is dit wonderlik wat hy bereik het. Ek wil glo dat hierdie ervaring hom toerus om meer suksesvol te wees by die volgende groot geleenthede wat hopelik vorentoe op hom wag.

volla ·

Geen skande om teen so ‘n goeie speler te verloor nie. Ons is trots op Kevin se prestasie.

not in wonderland ·

Sit die TV op nuuskanaal. Daar sit ‘n dame wat kommentaar op die tennis lewer en moet toe noem dat tennis in Suid-Afrika ‘n “white elitist sport” is. Kan maar nie wen nie.

Ander Annie ·

Wel gedaan Kevin. Ons is tonne trots op jou. Dit was tog te lekker om Wimbledon te kyk met ‘n Suid-Afrikaner op die baan. Geniet nou jou welverdiende rus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.