Wimbledon: Eindstryd vir Kevin Anderson ná langste halfeind

Kevin Anderson (Foto: Wimbledon, Twitter)

Kevin Anderson het die eerste Suid-Afrikaanse man in 97 jaar geword om na Wimbledon se eindstryd deur te dring nadat hy met die Amerikaner John Isner afgereken het.

Die agtste gekeurde Anderson (32) het die negende gekeurde Isner 7-6(6), 6-7(5), 6-7(9), 6-4, 26-24 geklop om sy plek in die eindstryd te verseker. Anderson sal óf teen Novak Djokovic óf Rafael Nadal te staan kom.

Djokovic en Nadal pak mekaar na verwagting Vrydag om 21:00 Suid-Afrikaanse tyd om die ander plek in die eindstryd.

Die twee langerate (Anderson is 2.03 m lank en Isner 2.08 m) se wedstryd was ʼn uitmergelende naelbytstryd wat meer as ses en ʼn half ure lank geduur het. Anderson en Isner het saam altesaam 102 kishoue gemoker.

Dit was die langste halfeindstryd vir mans enkelspel in die geskiedenis van Wimbledon. Die vorige rekord was vier uur en 43 minute tussen Djokovic en Juan Martín del Potro in 2013.

“Dit was baie moeilik vir ons albei, maar iemand moet wen. John is regtig ‘n oulike ou en ek voel jammer vir hom,” het Anderson in ‘n onderhoud ná die wedstryd gesê. “Dit lyk dalk nie nou of ek opgewonde is nie, maar ek het soveel gemengde gevoelens.”

Anderson is die eerste Suid-Afrikaanse man om na die eindstryd deur te dring sedert Brian Norton dit in 1921 gedoen het.

Anderson staan nou die kans om groot prysgeld los te slaan. Indien hy tweede kom, gaan hy met £1,125 miljoen (amper R20 miljoen) huis toe. Indien hy die eindstryd wen, kry hy prysgeld van £2,25 miljoen (byna R40 miljoen).

Anderson het sy plek in die halfeindstryd verseker nadat hy die eerste gekeurde Roger Federer van Switserland met 2-6, 6-7(5), 7-5, 6-4, 13-11 geklop het.

Anderson het die Fransman Gaël Monfils met 7-6, 7-6, 5-7 en 7-6 gewen om sy plek in die kwarteindronde te verseker. Anderson het vroeër met die 25ste gekeurde, Philip Kohlschreiber van Duitsland, die Italianer Andreas Seppi en Norbert Gombos van Slowakye afgereken.

Kevin Curren het in 1983 tot die halfeindstryd deurgedring toe hy nog ʼn Suid-Afrikaner was. Curren het in 1985 ook na die finaal deurgedring, maar was in daardie stadium reeds ʼn Amerikaanse burger.

Wayne Ferreira het in 1994 tot die Wimbledon-kwarteindstryd deurgedring.

Isner se tenniswedstryd in 2010 by Wimbledon teen die Fransman Nicolas Mahut is steeds die langste tenniswedstryd ooit. Die wedstryd het 11 ure 5 minute lank geduur. Albei spelers het verskeie Wimbledon- en tennisrekordsverbeter met meer as 100 kishoue elk.

* Angelique Kerber van Duitsland en Serena Williams van die VSA kom Saterdag na verwagting om 15:00 in die vroue enkelspel-finaal teen mekaar te staan.

Ander Suid-Afrikaners in aksie by Wimbledon

Raven Klaasen (35), van King William’s Town in die Oos-Kaap, en sy dubbelspelmaat Michael Venus (30) van Nieu-Seeland, kom Saterdag teen die Amerikaners Mike Bryan (40) en Jack Sock (25) te staan.

Kgothatso Montjane (32), die eerste swart Suid-Afrikaanse vrou wat aan Wimbledon deelgeneem het, is Vrydag uitgeskakel. Sy het aan die enkelspel rolstoeltennistoernooi deelgeneem. Sy het in die halfeindstryd teen Diede de Groot van Nederland vasgeval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

mirrie ·

dis dae soos vandag dat jou hart wil skree kyk wat doen die ssuid afrikaners. kevin en die klaasen outjie speel hul harte uit terwyl mede landgenote alles vernietig. kan hulle sien met harde werk kan jy enige hoogtes behaal. welgedaan julle twe manne. ek is vrek trots op julle

Alwyna ·

Jou doring Kevin. Jy het ons vanaand sooo trots gemaak. Ongelooflike tennis. Wens jou net die beste en baie kishoue toe vir die eindstryd!!!

Wessel ·

Hy moes nooit teen Federer gewen het nie, Federer het gewag dat hy soos oudergewoonte die bene laat afkom, en toe skrik Federer nie betyds wakker nie. Volgende keer sal dit ‘n ander storie wees.

Koos ·

Wessel watse bene praat jy van? Nee ek reken Federer is nou vrekbang vir Kevin.

Valerie ·

Super! Hy is in die finaal en het dus ‘n kans om te wen. Pragtige onderhoud na die tyd ook.

Francois le Cochon ·

Wat ‘n spel tennis, Ons het eers 21:00 begin om aandete te maak!

Klappertoon ·

Fenominaal!

Hy moet net nie nou hier grond koop met daai R20 miljoen nie.

Pieter van der Merwe ·

Baie bly. Maar waar kom julle aan die twak van 1e Suid Afrikaner in 97 of 95 jaar in Wimbledon finaal. Kevin Curren was in finaal in1985!

Sune van Heerden ·

Dagsê Pieter

Kevin Curren was in daardie stadium reeds ‘n Amerikaanse burger.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Sune van Heerden ·

Dagsê Pieter

Kevin Anderson het verblyfreg in die VSA, maar is steeds ‘n Suid-Afrikaanse burger.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Garath ·

Kevin Curren was ook destyds ‘n VSA burger, maar het dubbel burgerskap gehad. Weens die sport boikot, soos ek verstaan, kon hy nie as SA deelneem nie. Die rekord boeke dui hom dus as ‘n Amerikaner aan. Vandaar die 97 jaar berekening, wat korrek in die artikel is.

Lyn ·

Curren was wel Suid Afrikaans maar het weens die vorige regime se belaglike apartheidswette weens isolasie as n Amerikaanse burger deelgeneem.

Pieter ·

Baie geluk Kevin. Jy maak Suid-Afrika trots!
Ons staan styf after jou vir die eindstryd! ?

33jaar ·

Dit is nie korrek nie, Kevin Curren het in 1985 verloor teen Boris Becker, in die finaal.
Dié foutiewe inligting is van internasionale beriggewing gedupliseer!

Sune van Heerden ·

Dagsê

Kevin Curren was in daardie stadium reeds ‘n Amerikaanse burger.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Lean ·

Baie geluk. SA het sterre nodig in die donker. Anderson en Klaasen dankie vir die liggies wat julle vir ons bring. Sterkte vir julle volgende wedstryde.

Eish ·

Fenomenale prestasie!
Ek het dit glad nie verwag nie.
Hoe ouer, hoe beter!
Nou vir die laaste hekkie!

Nico ·

Hoekom moet daar altyd gesê word ‘n persoon kry in hiertdie geval soveel pond en in randwaarde die masiewe bedrag.
Mense hierdie man bly in USA dus gaan hy dollars betaal word wat blyk ook meer as pond is is maar nie die astronomiese rand waarde nie.

Johan ·

Ek weet nie war jy bly nie Nico maar die Engelse Pond was nog altyd sterker as die Dollar. Ook die Euro was nog altyd sterker as die US Dollar.

Richard ·

Lyk my nie jy verstaan hoe werk geld en wisselkoerse nie, Nico.

Die prysgeld is in pond. Maak nie saak waar jy woon nie, as jy prysgeld by Wimbledon ontvang, is dit in pond. Jy kan dan self besluit of jy dit wil omskakel na watter ander geldeenheid jy wil. Of jy kan besluit om dit nie om te skakel nie. Jou eie keuse.

Verder, die “massiewe bedrag” in rand is eenvoudig omdat die rand so swak is. Dit bly dieselfde bedrag geld, maak nie saak in watter geldeenheid dit uitgedruk word nie. Onthou, iets wat in Suid-Afrika tien rand kos om te koop, kos nie in Londen tien pond, en in die VSA tien dollar nie.
As jy 1000 pond na Suid-Afrika toe bring en jy gaan bank toe om dit na rand om te sit, gaan die bank vir jou huidiglik R17 500 gee, nie R1000 nie.

Manie ·

Wat my trots maak van die man is daar was nie sport politiek, BEE, of kwotas betrokke by sy prestasie. Gaan vir die grote Sondag

Caroline ·

Tel Suid-Afrikaanse vroue nie as Suid-Afrikaners nie? Sandra Reynolds Price, meanwhile, is the only South African woman to reach the final at Wimbledon, she finished runner-up in 1960.

erwin ·

die suid afrikaners maak Wimbledon die jaar. Federer is so n halwe suid afrikaner dus daar was 75% van ons op die baan en nou is Klaassens ook nog daar. not too shabby Nige!!!!

B ·

KA se aansoek om VSA burgerskap is al paar jaar terug ingedien, is dit al toegeken?

Nita ·

En drie maal sies vir SABC, wat nie hul weg oopsien om die wedstryd te beeldsend nie. Ook niks oor die radio nie. Sokker tot op RSG ook!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.