Wimpy-hawelose wat bid: ‘Die les was soveel meer’

Foto: Jacques Roelofse/Facebook

Foto: Jacques Roelofse/Facebook

ʼn Foto van ʼn hawelose man wat alleen in ʼn Wimpy in Hartbeespoort sit het, het só opslae op sosiale media gemaak dat donasies vir hom nou van regoor die land instroom.

Jacques Roelofse, ʼn pastoor van Waterval net buite Rustenburg, het Woensdag ʼn foto van die man op Facebook gedeel en dit het sedertdien soos ʼn veldbrand versprei. Roelofse het aan Maroela Media gesê hy kon aan die manier wat die man met die kelners gepraat het sien hy kom gereeld daar.

“Die man was net besig om ʼn glas water te drink, maar die kelner het my vertel hy kom al vir die afgelope paar jaar elke middag daarheen om ʼn koffie te drink wat die Wimpy-bestuur vir hom gee,” het hy gesê.

Volgens Roelofse het die kelner aan hom gesê dat die man haweloos is en in die veld bly. Hy het die kelner gevra om ʼn hamburger en skyfies vir die man te neem waarvoor hy sal betaal, maar nie aan die man te sê waar die kos vandaan kom nie.

“Ek het hom dopgehou en hy was aangenaam verras toe die kos voor hom neergesit word. Hy het die kelner bedank en breed geglimlag, voordat hy deur sy ou, verslete beursie gegaan het om die kelner ʼn fooitjie te gee. Die kelner het natuurlik die fooitjie van die hand gewys,” het hy vertel. “Daarna het hy sy bril afgehaal en gebid. Nie so ’n vinnige gebed wat net ʼn paar sekondes neem nie. Hy het langer as ʼn minuut gebid voordat hy sy kos geëet het.”

Roelofse het gesê dié mooi oomblik het hom net weer laat besef hoe maklik ʼn mens kwaad raak wanneer goed nie volgens eie wil verloop nie. “Hier was iemand wat alles verloor het, maak nie saak wat die rede daarvoor is nie, maar steeds God bedank en eer,” het hy gesê. “Hoe maklik vergeet ons nie om dit in ons eie lewens te doen nie? Die les wat hy my daardie dag geleer het, is baie meer werd as die R50 wat ek aan die kos bestee het.”

ʼn Ander Facebook-gebruiker het intussen ʼn bladsy geskep waar donasies vir die man ingesamel word. Talle mense het reeds op die blad kommentaar gelewer en gesê hulle wil graag vir die man geld skenk. Volgens die bladsy is hulle in die proses om ʼn volwaardige nie-winsgewende organisasie te skep waardeur geld ingesamel en bestuur sal word om die man te help. Besoek gerus die blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Jana ·

Dit gee my sommer hoendervleis.. So is ons almal God se kinders of ons nou in die bos bly of in ‘n mooi huis..wees dankbaar.

Debs ·

Daar is die bewys. Deur alles het hy nog steeds gebid en dankie gese. Nooit het die man sy vertroue in ons God verloor nie. Dis wat geloof doen. Wanneer jy dink jy kan nie meer nie, daar is altyd ‘n helpende hand maak nie saak wie se hand dit is nie. Dankie vir hierdie mooi artikel wat gedeel is.

Ben ☺☺☺ ·

Nou net gister het almal uitgevaar teen die ouens wat by die stopstrate staan en bedel – hulle het ook seker nie geld nie, maar word afgemaak as dronkgatte en druggies. Nou kom die priester, wat nie sy naam wil openbaar nie, maar dit tog doen, en gee die ou `n groen lig. Nou samel ander mense al vir hom geld in. Ek weet darem nie of dit regverdig is nie.

Anita ·

@Ben: Dis juis die punt, hierdie man het nie gebedel nie en aan niemand opgedring. Sy behoefte was bloot opgemerk en die pastor het gehelp.

Dit is nie of dit regverdig is of nie, die punt is, wees dankbaar met die bietjie wat jy het en tel jou seëninge ten alle tye, goed of sleg.

Sterkte

nig ·

Anita jy is reg. Daar is ‘n groot verskil tussen dwelmverslaafdes en plein sleg luies wat bedel by robots ens en NIE kos wil aanvaar teenoor die man wat openlik dankbaar was vir die kos EN dankie gese het vir dit. GROOT verskil.

Babs ·

Ben, lees jy iewers in die berig dat hy gebedel het. Nadat die kelner die kos voor hom neergesit het, wou hy dankie sê met ‘n fooitjie. Bid jy oral waar jy eet en vra jy dan dat die minder bevoorregdes versorg sal word? Ek glo dit is wat die man doen.

Bertie ·

Ben, ek het geen kommentaar gesien waar mense bedelaars dronkgatte en druggies noem nie! jy stel dit baie kras. En ongelukkig is dit so, kyk na diegene wat bedel – hulle wil nie kos he nie; so, wat wil hulle he? Oja, daar is ‘n verskil tussen priester en pastoor. Die man het nie gestaan en bedel nie, hy kry ‘n koffietjie gratis (dankie aan die bestuurder van Wimpy) so waarom die afguns oor die geldjies wat hy skynbaar gaan kry?

ANDRE ·

Dit laat mens sommer goed voel as jy sulke berigte lees .Dit wys jou dat daar darem nog goeie dinge in die wereld is . ( dink ons kyk dit mis en fokus net op die slegte)

Sonra ·

Ben, die “priester” soos jy hom noem het sy naam gegee – Pastoor Jacques Roelofse. Lees gerus weer die artikel – die keer aandagtig.

Christo Visagie ·

Wens eerder die koerante kon vol van sulke stories wees as al die moord en doodslag wat ons samelewing kenmerk

Malinda ·

Prys die HEER – daar is vir ons almal n plekkeie in die son. Amen

Rienie ·

Somtyds plaas God mense op strategiese plekke om ons weer waardes in die lewe te reel. Om ons te leer wat dankbaarheid is. Om ons oe oop te maak en die mooi van die lewe raak te kan sien in plaas van die negatiwiteit. Ek stem saam so mooi en positiewe artikel, ons dank jul Maroela nuus. En dankie aan die Pastoor om hierdie stukkie waarde met ons te deel.

Leon ·

Die Skrif sê dat my Redder en God selfs vir die mossies sorg, hoeveel te meer is die mens nie as ‘n mossie nie. Prys Jesus, Skepper Verlosser God!

Maddox ·

Ai nou sommer ‘n knop in my keel gekry. Die het my onmiddelik laat dink aan die film “Conversations with God”. Dit is een van daardie moet sien films.
Ek dink in elk geval hierdie arme man het klaar geerf wat die meeste van ons net kan oor droom en voor bid.

Alf ·

Ek sou verwag dat n Pastoor met n gemeente agter hom, beter as net n hamburger kan doen, regtig ek glo iets meer standhoudend is nodig met spoed.

Dave ·

Alf, jy verdien nie ‘n antwoord. Jy is dit nie waardig nie.

Lizelle ·

Regtig Alf. Wanneer laas het jy iets vir iemand anders gedoen. Dit gaan nie oor wat jy gee nie maar met watse hart jy dit gee. Ons moet ophou vingers wys en begin kyk na ons die harte. Mag hierdie hawelose man en die pastoor vir ons almal ñ les wees. Baie dankie vir die mooi storie.

Dave ·

Net miskien is daar meer te leer uit die spesifieke insident as wat ooglopend die geval is. Die boemelaar het nie ‘n golfstel wat wag vir na werk want hy kan dit nie bekostig. Hy het ook nie vriende wat by die kroeg op die hoek wag vir ‘n laatmiddag drankie, want waar sal die geld vandaan wees? Net so min wag daar ‘n rekenaar by die huis waarop hy gaan sit en scroll want hy het nie die geld daarvoor. Hy het nie ‘n huis wat aandag nodig het en hy leef nie net naby maar bìnne in die natuur! God is met hom! Jesus is langs hom! Die Heilige Gees beskerm hom! Hy het nie vriende met wie hy sit en klets maar as hy wil gesels gebuik hy die Aller Beskikbare Netwerk en praat direk met die Koning..! Miskien is dìt die rede waarom dit vir hom maklik is om met die Koning van die konings te gesels te midde van ‘n kletsery rondom hom.

candice ·

Help nie mens vaar uit teen Ben nie. Dele van wat Ben is inderdaad waar. Mense wat by verkeersligte staan en bedel met hulle kartoffel neuse van al die drank soek geld vir dwelms en drank. Ek was nogam verbaas dat my seun van 11jr my eendag reg help toe ons verby ‘n klompie hawelose mense ry (by KFC se deur ry se betaal venster) en mense vra vir geld…. hulle maak jou sleg voel omdat jy hard werk om wegneem etes te kan bekostig nr 1… en nr 2… hulle soek nie eers kos nie. Hulle soek geld. My seun vra my toe hoekom staan hulle juis daar. En ek sê dis omdat hulle werkloos is en geld soek… my seun het na so minuut vir my gesê: nee mamma. Mense wat werkloos is, is mense wat werk soek en nie werk kry nie. Mense wat so staan en bedel is net pleinweg te sleg om iets vir hulle self te doen…
Hoe waar is dit.
Daar is ongelukkig baie van die “slegtes” daar buite dat wanneer ons iemand sien wat “werkloos” is, ons hom of haar onder dieselfde kam skeer. Ons moet soms minder sê en meer oplet. Die lewe is swaar, baie mense verloor hul besittings a.g.v. gebeure buite hul beheer en baie gooi dit weg. Niemand van ons weet wat die oom deur was nie en hoekom hy is waar hy is nie. Wat ek wel in die berig opgelet het, is dat die oom baie respek getoon het teenoor die kelners. Dit sê genoeg van sy gesindheid. “Slegtes” het nie altyd respek vir jou nie en jak joh af as jy hom weier en raak lelik.

Dis ‘n baie mooi storie en mens kan sien as iemand iets waardeur en dit klink my die oom het. His way just might be paved in gold… gun hom dit.
Baie mooi storie.

Peet ·

Dankie Dave,dit laat mens net weer besef hoe goed die Here vir ons is.Dis was net R50 gewees,maar watter groot impak het die goeie daad nie gemaak nie!

charmaine ·

My seun het ook al vir n behoeftige persoon in Maxis Kos gekoop. N mega koffi hamburger en chips. Die man kon ook net n Klein koffie betaal. Ek was so bewoee en trots my seun ek het net omgedraai Om n traan af Te vee. My kind so oe en hart is oop en as Jy goed doen aan ander kry Jy dit terug. Di man het so mooi geglimlag toe di kelner di Kos vir hom gee. En my seun se kommentar was: Shame kyk hoe Bly is hy vir die Kos. Die Here werk in mysteries maniere met elkeen van ons, some is ons blind en Te arrogant Om Te waardeer wat ons het.

Catherine ·

Mattityahu (Mattheus) 25 verse 34 – 40 Dan sal die Koning vir dié aan Sy regterhand sê: ‘Kom, julle geseëndes van My Vader, kom erf die Koninkryk wat vir julle voorberei is vanaf die ontstaan van die heelal af, want Ek het honger gehad en julle het vir My kos gegee; Ek het dors gehad en julle het vir My te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling en julle het My ontvang; Ek was kaal en julle het My aangetrek; Ek was siek en julle het My versorg; Ek was in die tronk en julle het My besoek.’ Dan sal die onskuldiges Hom antwoord en sê: ‘Ons Meester, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors en te drinke gegee en wanneer het ons gesien dat U ’n vreemdeling is en U ontvang; of kaal en U aangetrek en wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ Die Koning sal antwoord en vir hulle sê: ‘Dit is waar, Ek sê vir julle, in die mate waarin julle dit gedoen het vir een van die onbelangrikste van hierdie broers van My, het julle dit vir My gedoen.’

Roseline ·

Watter mooi storie. Vader bly getrou aan hulle wat Hom gehoorsaam. Soms gebuik Hy mense soos Pastoor Roelofse. Ons moet ons laat lei deur die Heilige Gees op n daaglikse basis.

ig ·

Ongelukkig is dit ook so dat Christene uitgebuit word deur hulle goedgelowigheid en skelms en boemelaars weet dit.Hulle oefen om lang trane te huil sonder emosie.

Christie Joubert ·

Ek het die laaste ruk baie teespoed. Na hierdie berig, sit ek nou met n bloedrooi gesig. Ek is so kwaad en gefrustreerd met Hom. Wil nie eens bid nie. Wil nie met Hom praat nie. Alles wat gebeur is Sy skuld, bla, bla bla. En nou hierdie berig. Ek het n huis, n goeie werk, meer as een voertuig om mee te ry, kos om te eet, te veel klere. Ek skaam my morsdood vir myself. Dankie Maroela vir hierdie berig. Ek het baie om voor te gaan ekskuus vra….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.