Wimpy in Scottburgh danksy gemeenskap en AfriForum gered

Die Wimpy by die Beachfront Pavilion is Scottburgh. Foto: Southcoastherald.co.za

Die Wimpy by die Beachfront Pavilion is Scottburgh. Foto: Southcoastherald.co.za

Die gemeenskap van Scottburgh en talle ondersteuners het saamgestaan om te verseker dat die Wimpy-restaurant, ʼn landmerk by dié gewilde strand, se deure nie sluit nie.

Die sage het verlede jaar begin toe die plaaslike Umdoni-munisipaliteit besluit het dat die bestuur van winkels in die Scottburgh Beachfront Pavilion meer verteenwoordigend moet wees.

Cooky Myburgh van Faurco Investments, bestuur al nagenoeg 26 jaar lank die Wimpy, ʼn roomyswinkel en ʼn kroeg by die sentrum. “Umdoni-munisipaliteit het op 12 Mei 2013 ʼn kennisgewing in plaaslike koerante gepubliseer waarin hulle persone uitnooi om te bie om die persele in die sentrum te huur en bedryf,” het Chris Fourie, provinsiale koördineerder vir AfriForum in KwaZulu-Natal, Woensdag aan Maroela Media gesê. “Op 11 Julie 2013 het die munisipaliteit bevestig dat hulle die restaurantperseel aan Faurco Investments aangebied het, en Myburgh het die aanbod aanvaar.”

Volgens die voorwaardes in die tenderdokument moet die suksesvolle bieër ʼn franchise-ooreenkoms bekom vir dieselfde tydperk as die huurooreenkoms, dit is 9 jaar en 11 maande. Famous Brands, wat onder andere die Wimpy-handelsmerk bestuur, het aan Myburgh bevestig dat hulle die tydperk aan haar sal toestaan, mits sy teen 31 Mei vanjaar R2 miljoen se opknappingswerk by die Wimpy aanbring.

Myburgh het ingestem en aan die munisipaliteit gesê sy het ʼn onderneming van Famous Brands vir ʼn franchise-ooreenkoms. Umdoni het egter geweier om ‘n huurooreenkoms aan Faurco Investments te gee sonder ʼn amptelike franchise-ooreenkoms van Famous Brands. Famous Brands sou egter eers dié ooreenkoms uitreik wanneer die verbeteringe aangebring is.

“Myburgh wou nie R2 miljoen aan die perseel spandeer sonder ʼn geldige huurkontrak nie. Sy was deur die loop van die daaropvolgende paar maande in gesprek met die munisipaliteit en Famous Brands, maar is glo van bakboord na stuurboort gestuur. Famous Brands het uiteindelik ná druk deur AfriForum en die publiek op 23 Maart 2014 wel besluit om vir Faurco Investments die 9 jaar en 11 maande franchise-ooreenkoms te gee. Die ooreenkoms is aan die munisipaliteit gestuur, maar volgens hulle het die aansoektydperk reeds verstryk. Die munisipaliteit het bygevoeg hulle gaan nie vir haar ʼn huurooreenkoms toeken nie, en weer ʼn tender vir die perseel uitreik,” verduidelik Fourie.

Faurco Investments het nie daarin geslaag om hul roomyswinkel en die kroeg te behou nie. Die kroeg staan sedert Augustus leeg, en die nuwe eienaar van die roomyswinkel is glo reeds meer as drie maande agterstallig met huur.

Faurco Investments is aan die einde van April vanjaar ʼn uitsettingsbevel gegee wat gesê het die perseel moes teen 15 Mei ontruim word.

AfriForum het ʼn veldtog, #wimpystay, op 30 April van stapel gestuur en binne enkele dae het duisende mense dit gesteun.

Myburgh en AfriForum het by die Durbanse hooggeregshof ʼn aansoek ingedien teen die uitsettingsbevel en die hofsaak sou vandag [Woensdag] aangehoor word. Die Wimpy se deure kon sedert 15 Mei oop bly, hangende die uitkoms van die hofgeding.

“AfriForum is vandag verheug om aan te kondig dat die Umdoni-munisipaliteit en Faurco Investments buite die hof geskik het wat die tien jaar huurooreenkoms vir die huidige eienaar behels. Die munisipaliteit se regspan het Dinsdag in ’n brief bevestig dat Faurco Investments se voorstel aanvaar is,” het Fourie bygevoeg.

Hy het gesê die munisipaliteit het geen ander keuse gehad nie as om toe te gee onder die druk wat AfriForum, die gemeenskap en die media op hulle uitgeoefen het. “Ons het gewys dat die Scottburgh-gemeenskap nie sal toelaat dat politici die pragtige dorp in ’n spookdorp omskep nie,” het Fourie gesê.

Volgens Fourie is dit opnuut ’n bewys dat ’n gemeenskap wat saamstaan, dinge kan verander.

AfriForum wil die gemeenskap bedank vir hul volgehoue steun en nooi hulle uit om binnekort ’n gratis Wimpy-burger saam met die bestuur van AfriForum se Scottburgh-tak by die strand te gaan geniet om hierdie oorwinning te vier. Vir meer inligting hieroor SMS “Scottburgh” na 45267 (elke SMS kos R1).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.