Wind beskadig elektrisiteitsnetwerk in Wes-Kaap

Lugfoto van die Paarl in die Wes-Kaap (Drakenstein-munisipaliteit) Foto: Andres de Wet (eie werk) via Wikimedia Commons

Lugfoto van die Paarl in die Wes-Kaap (Drakenstein-munisipaliteit) Foto: Andres de Wet (eie werk) via Wikimedia Commons

Gure weersomstandighede het Maandagaand skade veroorsaak aan veral die elektrisiteitsnetwerk in die Drakenstein-munisipaliteit in die Wes-Kaap. Die hele Paarl en Mbekweni se kragtoevoer is hierdeur geraak.

“Sterk winde het tot gevolg gehad dat die dakplate by die Dalweide-substasie afgewaai het,” het Mart-Marié Haasbroek, woordvoerder van die munisipaliteit, in ʼn verklaring gesê. “Die dakplate het binne-in die 66 kV-stasie te lande gekom. Dit het ʼn kortsluiting veroorsaak wat die Eskom-skakelaars omstreeks 18:40 laat uitklink het.

Volgens Haasbroek is die skade dadelik herstel en die kragtoevoer was teen 20:52 weer aangeskakel.

“Verskeie ander kragonderbrekings is ook aangemeld waar die wind bome of takke op hoogspanning- en laagspanningslyne laat val het. Die wind self het ook skade aan hoog- en laagspanningslyne in Paarl, Wellington en Mbekweni aangerig.”

ʼn Bushalte se dak, naby die Dal Josafat-stadion, het ook afgewaai. Die installasie is weens veiligheidsredes eers verwyder.

“Die Munisipaliteit gebruik tans ʼn kontrakteur wat help om die foute so vinnig moontlik te herstel. Drakenstein-inwoners word aangemoedig om enige elektriese foute so gou moontlik aan te meld deur 021 807 4665 te skakel.

Intussen het EWN ʼn video op sy webwerf gelaai van die wind wat Maandag by die Burgersentrum in Kaapstad só gewaai het dat ʼn paar voetgangers gesukkel het om staande te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Die liefderyke omhelsing van ‘n lamppaal. Dit moet Jan van Donk wees aan’t werk?
Dink net hoe mooi skoon gaan die ou wêreld wees na dese.

Theresa ·

En die wind het nog nooit in die verlede (ou tyd) gewaai nie. Daar was nie gure weer en storms nie……………………..????

Hendrik ·

Dit is nou die tyd om baie elektrisiteit te ontwikkel vir die kragnetwerk. Ek hoop nie die wind is te sterk vir die windturbines nie. Dit is beslis ook nie die tyd om ‘n pruik te dra nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.