Winde van 110km/h voor die groot koue

Argieffoto.

Argieffoto.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Vrydag gewaarsku dat inwoners hulself vir ʼn erge kouefront, wat vandag die land tref, moet voorberei.

“Die kouefront gaan teen Vrydagmiddag die Wes-Kaap bereik en sal na verwagting swaar reënval veroorsaak,” het Vanetia Phakula, ʼn weervoorspeller, gesê. “Dit kan tot blitsvloede in Kaapstad, Overberg en die Kaapse Wynlande lei.” Die reënval sal na verwagting tot Saterdag voortduur.

Phakula het gesê sneeuval kan deur die aand en Saterdagoggend oor die hoogliggende gebiede in die Wes-Kaap voorkom, asook op berge in die suidelike dele van die Noord-Kaap.

Die kouefront sal oor die Oos-Kaap beweeg en teen Saterdag die sentrale dele van die land bereik. Daar kan ook sneeuval verwag word in die hoogliggende gebiede van die Oos-Kaap. Die front sal na verwagting KwaZulu-Natal teen Sondag tref en Gauteng teen Dinsdag bereik.

Chapman’s Peak-rylaan in Kaapstad moes Vrydag tydelik gesluit word weens sterk winde wat tot op 110km/h gemeet is.

Al-Ameen Kafaar, die woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van vervoer, het motoriste wat tussen Houtbaai en die Atlantiese kus wil reis, aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Volgens Phakula is dit normale weerstoestande vir dié tyd van die jaar, en sterk winde word gewoonlik voor kouefronte verwag.

Die weervoorspelling vir Saterdag se immergewilde Durban July is warm, met ʼn temperatuur van 29 grade Celsius. Daar is ʼn moontlikheid van geïsoleerde reënbuie. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.