‘Winde van verandering waai in SA’

Cyril Ramaphosa

Die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Dawie Maree, ʼn ekonoom by FNB, sê daar is goeie tekens wat uitgestuur word wat beleggersvertroue in Suid-Afrika kan herstel sedert Cyril Ramaphosa president van die ANC geword het.

Maree sê die stappe wat die afgelope week gedoen is, toon dat daar ʼn ommekeer oor korrupsie by staatsbeheerde ondernemings plaasvind. Volgens Maree kan dit die Suid-Afrikaanse span wat vandeesweek die Wêreld Ekonomiese Forum se beraad in Davos, Switserland, bywoon se taak vergemaklik. Hy sê beleggers wat skepties is oor die land sal nou met nuwe oë na Suid-Afrika kyk.

Maree waarsku egter dat die wiele van geregtigheid stadig sal draai voor alle staatsbeheerde instellings weer reggeruk sal word. Maar Maree is optimisties en sê sedert Ramaphosa in Desember verkies is waai daar winde van veranderinge in Suid-Afrika.

Van die besluite wat die afgelope paar dae ingestel is, is ʼn nuwe Eskom-raad wat aangestel is, die omstrede Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat wat deur die Nasionale Vervolgingsgesag ondersoek word en die Gupta-verwante maatskappye McKinsey en Trillian Capital Partners wat ook ondersoek word.

Maree sê vanuit die sakesektor is die aanstelling van Jabu Mabuza as Eskom-voorsitter ʼn goeie stap. Boonop sê hy dit stuur ook ʼn positiewe sein uit na graderingsmaatskappye wat kommer uitgespreek het oor staatskaping en korrupsie.

Hy sê die stappe wat Ramaphosa sover afgedwing het kan graderingsmaatskappye noop om verdere afgraderings van die land vir ʼn wyle uit te stel. “Die Ramaphosa-trein is besig om stoom op te tel. En dit kan net goeie dinge beteken vir die land,’’ het Maree gesê.

Maree sê hy is opgewonde omdat die stappe wat sover ingestel is ook die sakesektor se vertroue ʼn hupstoot kan gee. Volgens hom kan dit dalk net lei tot groter beleggersvertroue van plaaslike maatskappye. “Dit kan tot groter beleggings deur plaaslike firmas lei wat op sy beurt werkskepping kan aanmoedig,” sê hy.

Terwyl president Jacob Zuma die ANC-president was het verskeie kundiges kommer oor sy ekonomiese beleid uitgespreek wat onsekerheid veroorsaak het. Daar was ook kritiek op Zuma se verhouding teenoor die sakesektor en sy houding jeens staatskaping.

Ramaphosa word as sakevriendelik gesien. Maree sê dit kan dalk die knoop deurhaak dat Suid-Afrika reeds vanjaar die vrugte kan pluk van verbeterde beleggersvertroue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Grassie ·

Alles goed en wel, maar ek wonder of hierdie winde van verandering nog steeds onteiening van witmense se plase sonder vergoeding insluit. Ook of enige positiewe stappe geneem gaan word teen plaasaanvalle. Daar was juis die afgelope paar dae ‘n paar gruwelike aanvalle. Ek vertrou nie die paddaman nie. Die padda is steeds in die pot en hy kry warm….

Vryheid ·

Ek stem glad nie saam met Maree nie. Hy gryp na grashalms, geheel en al te vroeg om sulke afleidings te maak. Onthou tog net wie die leiers van ons land is en ook hul “track record “

Gemaskerde Sopbeen ·

Ou Dawie mik seker vir werknemer van die maand by (F)innigste (N)aaste (B)ottelstoor!!!

Rupert Ashford ·

Mmm, hierdie padda dink ook die water is nog lou, en hy dink ook dit het ‘n knertsie warmer geword sedert Desember, maar miskien voel hy net nie baie goed temperature nie. Onthou dit is dieselfde slang wat vervel het, en die Ou Groot Slang wat deesdae onder die kluite le (en oor wie die wereld so liries kan raak oor hy dan nou so ‘n morele reus was) het die vure vir die paddapot gestook terwyl die wapenskandaal (die oeroupagrootjie van die korrupsie in die NSA?) bekook is, so die grondslag is toe al gele vir hierdie potstokers. Sien is glo Cyril, sien is glo…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.