Windenergie kan SA se ligte aanhou

‘n Windturbine. (Foto: Unsplash)

Windenergie kan ingespan word om tot agt keer meer elektrisiteit op te wek as wat Suid-Afrikaners jaarliks nodig het. Só sê dr. Gareth Erfort en Gordon Rae van die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Indien ons windturbines op verskillende dieptes langs die kus van KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap sou installeer, sal hulle moontlik in 15% van Suid-Afrika se jaarlikse elektrisiteitbehoeftes kan voorsien, of 800% indien dit in dieper waters geïnstalleer word.”

Dié navorsers het geografiese inligtingstelselmetodes gebruik om die eerste omvattende assessering van Suid-Afrika se aflandige windenergiebronne te doen.

Hul assessering sluit beskermde marinegebiede in om “geen-toegang-sones” te skep. Dié inligting is by die Wêrelddatabasis vir Beskermde Gebiede bekom.

“Dit was belangrik om hierdie geen-toegang-sones in te sluit, want dit wys watter deel van die eksklusiewe ekonomiese sone toegangklik sou wees vir windenergie wat in die see opgewek word.”

Gegrond op hul navorsing is die streke vir die ontwikkeling van aflandige windenergie hoofsaaklik in die omgewing van Richardsbaai, Durban en Struisbaai.

(Foto: Verskaf)

Volgens die navorsers is Suid-Afrika se jaarlikse produksiepotensiaal vir aflandige windenergie sowat 44,52 terawatt-ure (TWh) se elektrisiteit, indien die windturbines in vlakwater van minder as 50 m geïnstalleer word. Indien die windturbines in dieper waters van ongeveer 1 000 m is, bestaan die potensiaal om 2 387,08 TWh elektrisiteit op te wek.

Volgens Eskom gebruik ʼn tipiese Suid-Afrikaanse huishouding sowat 30 kilowatt-ure (KWh) per dag of 10 950 KWh per jaar. Dit beteken dat die 44,52 TWh wat deur aflandinge windenergie opgewek word, in teorie elektrisiteit aan ongeveer vier miljoen huishoudings per jaar kan verskaf. Net so kan 2 387,08 TWh rofweg 218 miljoen gemiddelde huishoudings per jaar van elektrisiteit voorsien.

“As ʼn mens in ag neem dat Suid-Afrika se jaarlikse elektrisiteitsverbruik sowat 297,8 TWh is, toon ons berekeninge dat die geskatte jaarlikse energieproduksie (JEP) wat deur 44,52 TWh beskikbaar is, teoreties gesproke in 14,9% van ons nasionale elektrisiteitbehoefte kan voorsien. Net so kan die geskatte JEP wat 2 387,08 TWh beskikbaar stel, na raming agt keer in die land se jaarlikse elektrisiteitsbehoefte voorsien.”

Erfort en Rae sê die assessering van aflandige windenergiebronne is noodsaaklik vir die ontwikkeling van plaaslike windindustrieë. “Dit bied waardevolle insigte in die beplanning van energiesekerheid op nasionale vlak en vir belegging deur die private sektor.

“Suid-Afrika se steenkoolenergievloot sal moontlik oor die volgende 30 jaar tot niet gaan. Dit skep die geleentheid om oor te skakel na aflandige windtegnologie wat ʼn skoon alternatief vir elektrisiteitsopwekking is en kragsekerheid vir Suid-Afrika beteken.”

Die navorsers wys daarop dat die ontwikkeling van aflandige windenergie wêreldwyd ʼn groeiende bedryf is, maar dat Suid-Afrika steeds agter is met die ontwikkeling hiervan.

“Hoewel die program vir die inwerkingstelling van onafhanklike kragprodusente in 2011 bekendgestel is om hernubare energieprojekte te verkry, het dit nog nie die oorvloed van aflandige windenergiebronne wat beskikbaar is, ondersoek en oorweeg nie.

“Deur hierdie bronne te ontgin, kan Suid-Afrika ook sy koolstofvrystelling aansienlik verminder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Roedolf Johannes ·

Wonder maar net wie die instandhouding gaan doen

Tino ·

Seker ingevoerde arbeiders, ons arbeiders sukkel op die swem front

JohanR ·

Praat ons hier van die wind wat Cyril Ramaphosa elke Maandag genereer met sy “message to the people?”

Francois ·

Vra vir Eskom om dit op te rig. Moet net nie verwag hulle gaan wil hê ons moet dit gebruik nie. Pay more – Use less is mos die beleid…

Adri ·

Hoekom in die see? Het ons nie genoeg wind binnelands nie en dit is baie goedkoper om te installeer en onderhou. Moet dit net nie vir Escom gee om te onderhou nie …

Hendrik ·

Nee daar is nie genoeg wind in die binneland nie. Die oprigting van die torings moet beslis deur die privaat sektor gedryf word en beslis nie geBEE wees nie.

Maalstroom ·

Uit ‘n strategiese-, beskermings-, bedryfs- en onderhouds- risiko-blootstellings-oogpunt, is groot wind turbine plase, veral aflandig, eenvoudig nie naastenby vergelykbaar met die betroubaarheid en basis elektriese kragvoorsienings kapasiteit en vermoëns van steenkool- en kernkragstasies nie. Geen nywerheidsland, wat enigsins hoop om te groei, kan tans hiersonder nie.

Steenkool is nie hernubaar is nie, maar steenkool is ‘n strategiese bron van ‘n verskeidenheid waardevolle produkte, soos Sasol se produksie bewys, en vir sekere prosesse. Daarom moet enige land sy beperkte steenkool- en ander petrochemiese reserwes met valkoë bewaar en suinig bestuur. Persoonlik dink ek steenkooluitvoere is een van die domste dinge wat ‘n land kan doen.

Die verpligte installering van huishoudlike windturbines (soos byv. die van Kestrel, HYEnergy, Bornay, ens.) tesame met foto-voltaïese en verhittings sonpanele, behoort na my mening verpligtend te wees vir die goedkeuring van alle toekomstige bouplanne.

Johanncb ·

Sal die regering asseblief Drs Erford en Rae se navorsing ter harte neem?

Rentia ·

Eskom wil dan ekatra belasting instel op met mooi alles. Of jy hulle gebruik of nie. As hulle dalk begin en die topbestuur se salaris verminder van R550 000 per maand per persoon kan ons dalk iewers begin kom.. en ja dis feite. Andre was goed en gaaf om ‘n paycut te vat van sy R18milj per jaar by Nampak. Google die feite. Ons het nou meer gereeld geen krag vir langer tydperke. Die openlike kennis, google die feite. Eskom sal nog seker die wind belas ook, sodat gierige mense se lang vingers kan aanhou steel., en deel in massiewe salarisse (wat nie verminder is in covid nie!!)

Mad Mike die Rhodesiër ·

As wind-turbines privaat geïnstalleer en onderhou word, en oorskiet energie aan Eskom verkoop word, kan beurtkrag afgeskaf word. Die probleem is dat Eskom nie graag sy monopolie will afstaan nie, maar as hy wil voortbestaan, sal hy sy trots in sy sak moet steek en konsessies uitreik veral aan groter entiteite soos Transnet en die mynwese. So kan SA vooruitgaan.

Cherokee ·

‘..Windenergie kan ingespan word om tot agt keer meer elektrisiteit op te wek as wat Suid-Afrikaners jaarliks nodig het. .’

Promisses..!! Beloftes maak skuld!

henndrik ·

Ek het al lankal hieroor gewonder want diepsee waai die wind baie meer egalig. Ek is ook van mening dat die torings dubbel doel kan dien as die brander beweging ook gebruik word

Blits ·

Dit beteken dan nie noodwendig dat elektrisiteit goedkoper gaan word nie

Keith ·

Another dim idea. S.A. should just get going with Nuclear power stations finished and klaar. Ignore the tree-hugging “environmentalists” and the question of where to dump the nuclear waste. I’m sure that some secret arrangement could be made to get rid of the problem. Wind turbines are very costly to build and they’re not as efficient as we are being led (by the nose) to believe. We all know who would end up paying for this mistake. S.A. is so poor and corrupt that it can’t even afford to pay attention. Better still, Eskom should stop breaking (and fix those that are) our once-trusty coal power stations, and do the job they’re being paid to do. They should also burn their ageing book of excuses.

Carel ·

Kan iemand net vir my verduidelik WAAR??? hierdie dieper waters is? Is dit 200km suid van Kaappunt in die “roaring 40’s” zone???. As julle dit nie kan identifiseer nie, glo maar eerder die 15%.

Karina ·

Vraag: wat van al die wind plase wat slegs hier in die Oos Kaap in-installeer is? waai hulle maar net omdat hulle moet waai, word daar krag opgewek, word dit herlei en waarheen en word dit verbruik? Ek sal graag wil weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.