Windturbines op pad na Loeriesfontein

Argieffoto

Argieffoto

Die eerste van 1 098 windturbine-komponente is van Ngqura-hawe, 20 km noordoos van Port Elizabeth, op pad na Loeriesfontein in die Noord-Kaap.

Altesaam 122 windturbines by Khobab en Loeriesfontein, wat oor 6 653 ha strek, sal die grootste van sy soort in Afrika wees. Die windturbines sal saam 280 MW krag opwek, genoeg elektrisiteit vir ongeveer 240 000 huishoudings per jaar.

Die 53 meter lange windturbine-lemme, toringgedeeltes en ander komponente sal op die N10 via Uitenhage, Graaff-Reinet, Beaufort-Wes, Drie Susters en Carnarvon na Loeriesfontein vervoer word.

“Die komponente sal binne drie dae die 1 158 km aflê en teen ʼn gemiddelde spoed van 50 – 70 km/h reis,” het Leo Quinn, projekbestuurder van Loeriesfontein-windplaas, gesê.

Volgens Quinn mag die abnormale vrag nie snags, tydens skoolvakansies of op openbare vakansiedae vervoer word nie. So ver as moontlik moet spitstye ook vermy word deur Graaff-Reinet en Beaufort-Wes.

Die windplase se webwerwe bied reisskedules om reisigers te help: Loeriesfontein-windplaas en Khobab-windplaas

“Alhoewel ons alles in ons vermoë doen om verkeersopeenhopings so ver as moontlik te voorkom, doen ons ʼn beroep op padgebruikers om ekstra versigtig te wees wanneer hulle die abnormale vrag teëkom en aan alle verkeersmaatreëls te voldoen,” het hy gesê. Die voertuie is elk tot 57,5 meter lank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Roela ·

Ek wens ek kon gaan kyk hoe lyk dit. Ek is seker dit is n indrukwekkende gesig wees.

Johan 2 ·

280MW is maar min en dit vir 122 van daai goed wat die horison so ontsier…wat kos dit per MW in vergelyking met ander bronne? Hoekom nie eerder weer kyk na skoon(er) bronne soos die Kongo Rivier nie. Ek was laasjaar op n projek in die DRK waar hulle (n privaat maatskappy) krag opwek met net ‘n 30m val langs n rivier (en dit was in die orde van 50MW of selfs meer), mens sien dit amper nie en ek dink die impak is minder (?).

NEL ·

Johan 2, wil voorkom of jy nog nooit in Loeriesfontein en omgewing was nie. Dit is duisende hektare grond wat daar le waarop geboer word. Dit sal ‘n groot inspuiting wees vir die Boesmanland soos hy beken staan en kan jou waarborg dat geen horisonne versteur gaan wees nie, almal sien uit om die terbunis daar te he.

Nico K ·

Ek weet niks van elektrisiteit nie, en weet dus nie hoeveel daai krag gaan help nie, maar minstens probeer die regering. Die Kongorivier is baie ver en ons het geen beheer as daar weer oorlog uitbreek nie. (En daar sal weer oorlog uitbreek.) Buitendien is windkrag “skoon”! Daar in die Oos Kaap is al baie windturbines. (Daar waar die wind so baie waai.) En in die Noord Kaap is daar sonkrag panele wat hektare vol lê. (Weereens daar waar die son baie skyn.

Johan 2 ·

“Skoon” ek weet nie so lekker daarvan nie, waar word hul gemaak? Hoeveel energie vat dit om hul van Duitsland (?) tot in SA te kry, en dit v n paar MW, o ja en gaan loop gerus bietjie onder een en kyk hoeveel voëls jy kry wat dit nie gesien het nie. En wat se baat vind die (grootliks) ongerepte Boesmanland werklik daaruit. En “ten minste doen hul iets” as die regering more verdwyn sal ons hul nie mis nie want hul doen niks (behalwe om geld te mors nie). Goeie nuus sal wees navorsing deurbraak in Fisie-reaktore, son panele met n breër absorbsie bandwydte (soos wat die Ausies aan werk), gety (of maan) energie ontgunning, “pebble bed reaktor” (wat hul so lekker laat vaar het, in SA!), opwekking uit “Bio-brandstof”, ens….wind is te min, te laat en hoort naby aan die kus en naby waar hul gebou word…geniet maar jul “skoon” wind energie, dis n gejaag na wind..

Blou Lug ·

@Johan 2: Ons leef in ‘n tyd waar die see leeg getrek word deur dieselaangedrewe skepe, met steenkoolkragstasies so reg uit die eerste dae van die industriële rewolusie, met vuil tegnologie wat die opperhand het. Vergelyk dit met die minderheid stem in ‘n land waar die meerderheid hul eie rigting gaan. Jy gaan nie fisiereaktors in SA sien vir die volgende eeu nie. Dalk daarna eers as die Guptas se nasate ‘n belang in ‘n Chinese verskaffer sou hê, en die toekomstige Zumas (steeds) in hul sakke kan hê om uit te buit. So son en wind, is ‘n koel briesie in ‘n “goedkoop-is-koning” denkende wêreld, waar dit die norm is om ‘n vuur te maak eerder as om ‘n propeller in die lug te steek, of vir daardie geval dieselfde turbine in die see te druk. Wat is die kostes van al daardie vorige foute? En hoekom nie nou ‘n “skoon” fout voor betaal tot ons almal kragtoestelle kan kry wat deur CERN ontwikkel is nie? Gee my eerder ‘n miljoen windturbines wat 100000 mense werk verskaf in streke waar hul die grond andersins wil skeur vir olie . En hou op kla oor goeie goed.

Hendrik ·

Nee wat hierdie is alles goeie nuus en dit is beter om goeie landbougrond te vernietig om steenkool te myn vir kragstasies. Kyk maar ‘n bietjie hoe Oos-Transvaal se landbougrond vernietig is deur steenkoolmyne. Oor tien jaar is daar nuwe tegnologie om elektrisiteit te genereer. Dan kan hierdie turbines weer afgebreek word. Ten minste is jou natuur nog nie geskend en kan jy voortgaan met landbou produksie. Ten teendeel kan jy nog steeds in ‘n mate voortgaan met landbou om hierdie wind turbines.

Tiger ·

Ons woon in Noordwes en hierdie plek is die winderigste plek wat ons nog in gewoon het.Die wind waai sekerlik 360 dae uit 365 uit!Die vrugtebome en struike groei permanent almal na eenkant toe agv die konstante wind.Ek het fotos geneem van ons wasgoed op die waslyn wat amper horisontaal in die lug hang van die sterk wind en dit droog onder 20 minute !Langbroeke lyk soos windkouse langs ‘n vliegveld.So hier is beslis ook groot potensiaal vir ‘n windlaaier “plaas”.

Wat-ek-lees ·

Daar’s ‘n wind wat waai soos hy nou daar waai . . . . . ..

MaggiePringle ·

Maggie- Daardie wind turbines lyk ongelooflik mooi as dit so versprei staan op ‘n groot area.

Johan 2 ·

Het julle al in die velt gesit en die rustigheid aanskou…op my gunsteling plek staan daar nou n mensgemaakte gedrog…so skoon as wat hy voorkom het dit duisende ton CO2 geneem om hom te maak en daar neer te plak, en dit vir n paar nietige KW se energie (400kw om presies te wees)…gaan dink ASB weer daai goed is nie so skoon as wat jul dink nie. Jul klink eerder of jul in n paniek net weer aan jul neuse rondgelei word. Elke bron v energie wat ons in SA tans op groot skaal probeer is vuil of onbetroubaar. Hoekom sien ons nie meer Bio gas nie? Of EtOH nie? Dit is iets om oor opgewonde te word.

Elfie ·

Johan2 ek verstaan wat jy probeer sê. Die windturbines is blykbaar ‘n baie groot probleem veral vir voëls soos arendde wat dit nie sien en gereeld gedood word. Ek verstaan dus wat jy sê en ook oor die sg “skoon” van so projek. Baie mense verstaan nie altyd die hele storie agter die storie omdat hulle net die “goeie” hoor. Hulle verstaan nie dat die vervaardiging van sulke turbines (omgewingsgewys) nie opmaak vir die sg skoon krag wat dit verskaf nieDis soos met elektriese motors – brandstof is duur en veroorsaak lugbesoedeling so oens moet liefs elektriese motors gebrui. Waa kom krag vanadaan – gegenereer deur die gebruik van steenkool hoofsaaklik en ons weet hoe stenkoolmyne die natuur opvoeter.Ek weet ook nie wat se sg werk dit gaan skep nie – tydelik dalk om op te rig maar dis dan dit. Spannetjie om dit na te sien dalk maar groot werkskepping – dink nie so. Ek verstaan ook wel die ander kant se sentimente, krag is nodig en ja, hierdie klink na ‘n uitkoms. Soms dink ek egter nie genoeg navorsing oor verskeie maniere van krag lewer word goed nagevors nie. Leer by ander lande! So, ek noem hier maar net dat daar twee kante is en dat ‘n derde kant (eintlike oplossings!) dalk nog nie goed genoeg nagevors is nie. Ek sê net!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.