Winkeleienaar en assistent keer vermeende dief aan

(Argieffoto: Nico Strydom)

ʼn Dapper winkeleienaar en sy assistent het ʼn verdagte in Port Elizabeth aangekeer wat ʼn vuurwapen op hulle gerig en geld geëis het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Vrydagoggend omstreeks 10:00 in die Walmer- informele nedersetting plaasgevind. “ʼn Onbekende man het die winkel betree en ʼn bottel skottelgoedwasseep en ʼn bottel olie van die rak afgehaal. Toe die winkelier die items in ʼn plastieksakkie geplaas het, het die man skielik ʼn vuurwapen op hom gerig.”

Die winkelier het sy assistent geroep wat agter in die winkel was. “Die verdagte het geld geëis en toe hulle sy versoek weier, het hy die assistent met die vuurwapen oor die kop geslaan. Die winkelier en sy assistent het die verdagte aangeval en kon hom onder bedwang kry. Hulle het die vuurwapen weggeskop.”

Die winkelier het die verdagte vasgehou terwyl die assistent hulp gaan soek het.

“Die 20-jarige verdagte is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklag van sakeroof. Die vuurwapen is nie as gesteel aangemeld nie. Dit het aan ʼn oorledene van Mthatha behoort.”

Die man sal Maandag in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.