Winkeleienaar, vrou en tienerseun vas vir moord op meisie (9)

(Argieffoto: Kent Williamson)

’n Negejarige dogtertjie van Edenpark aan die Oos-Rand is dood aangetref nadat haar ma haar na ’n snoepwinkel gestuur het.

Die eienaar van die snoepwinkel, dié se vrou en ’n tienerseun sal na verwagting Donderdag in die hof verskyn nadat hulle in verband met die meisie se dood in hegtenis geneem is. Die kind se liggaam is in die 16-jarige seun, wat as ’n assistent by die winkel gewerk het, se kamer aangetref.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê die slagoffer se ma het haar Dinsdag omstreeks 07:00 na die betrokke snoepwinkel gestuur. Dit was die laaste keer wat sy haar kind lewend sou sien.

Die dogtertjie het nooit teruggekeer huis toe nie waarna sy omstreeks 14:00 by die plaaslike polisie as vermis aangemeld is.

Polisiebeamptes is na die snoepwinkel waar hulle die winkelassistent ondervra het. Hy kon egter nie bevredigende antwoorde op die polisiebeamptes se vrae gee nie en sy slaapkamer is deursoek.

Die kind se liggaam is hier met ’n steekwond en  in plastiek toegedraai aangetref.

Die seun en die eienaar van die snoepwinkel (36) is gevolglik in verband met die moord in hegtenis geneem. Die eienaar was boonop in besit van ’n vals identiteitsdokument.

Die winkeleienaar se vrou is kort ná die inhegtenisnemings deur lede van die publiek aangerand en sy is in ’n hospitaal opgeneem.

’n Ondersoek het haar intussen ook aan die moord op die kind verbind. Sy is in hegtenis geneem en tans onder polisiebewaking.

Die winkeleienaar en die seun sal na verwagting vandag in die Palm Ridge-landdroshof verskyn in verband met die moord. Die vrou sal in absentia aangekla word.

Hulle staan tereg op aanklagte van moord, ontvoering en oortreding van die Immigrasiewet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wat op dees Aarde

Natuurlik is hulle buitelanders. Ons grense is mos wyd oopgegooi. Sal nie verbaas wees as hulle van Nigerië is nie.

Natasha

Dis uiters skokkend en wat dit erger maak is dat moordenaars al jonger en jonger is. 16 en jy moor klaar? My innige simpatie met die dogter se familie

Danny

Tragies..

Mieke

Hoe kry enige mens dit oor sy hart om ‘n onskuldige 9jarige kind te vermoor? Wat makeer die mense deesdae?

Johnny

Snoep winkel of Spaza Shop, daar is nogal ‘n verskil.