Winkelgroep bevorder plaaslike suiker

Werksgeleenthede in die suikerbedryf word deur goedkoop invoere bedreig. (Foto: ckaye, Pixabay)

Om verbruikers aan te moedig om plaaslik geproduseerde suiker te koop het die Shoprite-groep ʼn vennootskap met die Vereniging vir Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekers gesluit.

Hierdie vennootskap sal daartoe lei dat die Shoprite-groep, wat die grootste kleinhandelaar in Afrika is, plaaslik vervaardigde suiker in sy 1 189 Shoprite-, Checkers-, Checkers Hyper- en Usave-supermarkte in Suid-Afrika bevorder.

Die Suikerrietkwekersvereniging het einde verlede jaar sy Home Sweet Home-veldtog van stapel gestuur, met die doel om verbruikers op te voed oor die bedreigings wat die plaaslike bedryf in die gesig staar. Dit sluit goedkoop suikerinvoere in, wat plaaslike werksgeleenthede bedreig.

Die Shoprite-winkelgroep het derhalwe aan die begin van die maand begin om advertensies op hul suikerrakke te plaas wat verbruikers aanmoedig om plaaslike suiker te koop.

“Gegewe Shoprite se uitgebreide voetspoor, is die vennootskap ʼn groot stap vorentoe vir Suid-Afrikaanse suikerboere en die een miljoen mense wat deur die bedryf ondersteun word. Sy betrokkenheid sal ons in staat stel om meer verbruikers te bereik en te help om Suid-Afrikaanse werksgeleenthede en die oorlewing van die bedryf ​​te verseker,” het Andrew Russell, voorsitter van die Vereniging vir Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekers, gesê.

“Die suikerbedryf moes die afgelope dekade ernstige uitdagings die hoof bied, waaronder droogtes, toenemende produksiekoste, dalende wêreldsuikerpryse en die instelling van ʼn suikerbelasting. ʼn Verdere groot bedreiging is swak handelsbeskerming teen toenemende suikerinvoere, wat die plaaslike bedryf in 2019 alleen meer as R2,2 miljard gekos het.

“Hierdie uitdagings het 21 000 kleinskaalse boere, 65 000 regstreekse werksgeleenthede, 270 000 onregstreekse werksgeleenthede en die een miljoen mense wat die bedryf ondersteun, bedreig.

“Dit is waarom ʼn meesterplan vir die suikerbedryf se waardeketting deur die regering, die suikerbedryf en ander belanghebbendes ontwikkel is om sodoende die langtermynvolhoubaarheid en winsgewendheid van die sektor te verseker.”

Kragtens die meesterplan het kleinhandelaars hulle daartoe verbind om teen die einde van die eerste jaar van die plan se inwerkingstelling minstens 80% plaaslik geproduseerde suiker aan te skaf.

Russell sê dié bedryfsorganisasie verwelkom die Shoprite-groep se pogings om hierdie teiken te bereik, insluitend die vennootskap met sy Home Sweet Home-veldtog. “Ons hoop om te sien dat meer kleinhandelaars en ander belanghebbendes Shoprite se voorbeeld en toewyding sal volg, om ons te help om die toekoms van die bedryf en sy werkers te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nuustak ·

Ek het nog nooit op enige winkelrak ingevoerde suiker gesien nie. Ek ken nie een handelsmerk vir suiker wat NIE van SA is nie?

Lourens CFG ·

Suiker word in groot maat aangekoop, verpak in hul houers, en dan aan winkels verkoop.
So kan jy dit verpak as Nuustak suiker, en die volgende kommentator syne verpak as Shakespeare suiker, en dan versprei aan winkels.
So, waar die suiker in grootmaat vandaan kom, word nie altyd op die pakke aangedui nie.

Shakespeare ·

Suiker kom nie van boere af nie. P&P en Checkers maak dit. Berig misleidend.

Lourens CFG ·

Nee, winkels en winkel groepe versprei dit.
As ek reg onthou (was in 1970 daar as 1ste jaar appy), verwerk Hulletts die suiker riet na suiker, dan koop suiker verpakkers in groot tonnemaat die suiker, verpak dit dan in hulle “brand” verpakkings, en versprei dit dan na winkels toe waar ons dit koop.

Racheltjie Debeer ·

Ha, Ha, Ha. Baie skerp Shakespeare! Wonder hoeveel mense dit gaan verstaan???

Dr Pieter ·

Ek koop ook net vleis wat van ‘n slaghuis af kom. Ek eet geen diere nie☺

Mariana ·

Nou moet ek ook vra wat is dan SA suikerhandelsname. Op rakke is dan Selati, Huletts en dan nie sogenaamde no name brands van winkels. Suiker is een van die onbekostigbare items op winkelrakke, so jy koop normaalweg maar die goedkoopste.

capie ·

Ek soek net ‘n bietjie suiker in die Coke en dan sal ek weer Coke koop

Jack ·

Suiker bly ongelukkig soos alkohol en tabak groot geldmakers maar bewys dat dit nadelig is vir jou gesondheid. Matig of gladnie is die antwoord.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.