Winkels geplunder, entstofsentrums gesluit weens oproer  

Winkels is in Durban-middestad geplunder. (Foto: AFP)

Die ontvouende krisis weens gewelddadige betogings in Gauteng het Maandag nie net talle mense verhoed om by hul werkplekke uit te kom nie, maar ook om inentings teen Covid-19 te ontvang.

Betogings woed sedert die naweek in dié provinsie sowel as in KwaZulu-Natal onder die vaandel van oproepe dat Jacob Zuma, wat verlede week sy tronkstraf van 15 maande begin uitdien het, vrygelaat moet word.

Die Gautengse regering het Maandag gesê verskeie inentingsentrums moes noodgedwonge tydelik sluit aangesien die betogings ’n toenemende veiligheidsrisiko vir mediese personeel en lede van die publiek inhou.

“Aangesien die provinsie en land steeds in die middel van ’n dodelike pandemie is, is ons bekommerd oor die verdere verspreiding van die virus by openbare byeenkomste. Hospitaalopnames neem steeds toe en plaas enorme druk op die openbare sowel as private gesondheidsektor.”

Boonop verhinder die situasie nooddienspersoneel om op noodgevalle te reageer en hulle bestemmings te bereik.

Maroela Media het vroeër berig dat metrobusdienste in Johannesburg ook weens die betogings tydelik gestaak is.

“Ons doen ’n beroep op die mense van Gauteng om verantwoordelik op te tree en afstand te doen van wettelose gedrag wat broodnodige dienste onderbreek.”

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het intussen bevestig dat met ontplooiingsprosesse en -prosedures begin is om voortgesette geweld en oproer in Gauteng en KwaZulu-Natal te stuit.

Versoek vir strenger maatreëls; kommer oor jonges

Gauteng se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid het ’n beroep op wetstoepassers gedoen om strenger maatreëls in te stel om betogings in bedwang te bring.

Benewens die komitee se kommer dat dié voorvalle tot die verspreiding van die koronavirus kan bydra, is hulle ook diep bekommerd oor die hoeveelheid jong mense wat aan dié betogings deelneem.

“Ons is uiters bekommerd oor die blindelingse betrokkenheid van jong mense – wat veronderstel is om leiers van die toekoms te wees – by dié onwettige betogings.

“Dit kan ’n vernietigende uitwerking op hul toekoms hê aangesien hulle met ’n misdaadrekord kan eindig. Dít kan ook hulle kanse op toekomstige indiensneming beïnvloed,” sê Thebe Khumalo, woordvoerder van die komitee.

Khumalo sê voorts deelname aan dié betogings dui op ’n growwe verontagsaming van die wet en die oortreding van rampbestuursregulasies.

“Die polisie moet geen steen onaangeroer laat om te verseker dat die skuldiges in hegtenis geneem word en aan die pen ry nie,” sê Khumalo.

Onluste by tronk onderdruk

’n Brand wat by die Umzinto-gevangenis in KwaZulu-Natal uitgebreek het, is intussen in bedwang gebring.

Die departement van korrektiewe dienste sê dat die situasie ontlont is en dat alle gebeurlikheidsplanne in werking gestel is indien enige moontlike betoging sou uitbreek.

“Ons werk nou saam met die polisie in dié verband,” lui ʼn verklaring deur die departement.

AfriForum vra verhoogde waaksaamheid

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vroeër vandag sy 159 buurtwagte landwyd versoek om sigbaarheid in plaaslike gemeenskappe te verhoog.

AfriForum sê die onrus word deur misdadigers misbruik om te “plunder en te steel.”

“Die plunderaars is ’n kriminele minderheid van die bevolking, maar hulle kan wel op sommige plekke groot ontwrigting veroorsaak.

“Die organisasie se beheerkamers en buurtwagte monitor die situasie landwyd en planne word in plaaslike gemeenskappe in werking gestel om dié gemeenskappe te help beskerm indien nodig.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het aangedui dat AfriForum en die Solidariteit Beweging nie betrokke gaan raak by die konflik nie, maar dat AfriForum sy buurtwagte gevra het om op bystand te wees, sigbaarheid te verhoog en om mekaar en die SAPD, sou die SAPD in sekere gemeenskappe dit versoek, te help waar nodig.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johann ·

Geen beter tyd as NOU om die “aanhitsers” te arresteer

Elize ·

Ons dring aan daarop aan dat Carl Niehaus direk verantwoordelik gehou word vir hierdie gemors en betaal vir die skade.

Peetjie ·

Moenie vir Ace vergeet nie… En dan ook zumpie se 2 kinders…

Pieter ·

Dit geld vir al die sogenaamde politieke “leiers”, wat hul volgelinge aanhits tot die tipe misdaad.

Willempie ·

Daar kan seer sekerlik nie meer plek in die tronke wees soos die SAPD nou arrestasies maak nie.

Stefaan ·

Jy moet mos ‘n misdaad rekord hê om in die parlement te kom

Hendrik Marthinus ·

Ongelukkig is die Polisie te min en tesame met weermag nie eens 2 % van die bevolking nie.
As die perde regtig Wil probleme maak is Hulle nommers ver te hoog en Kan hulle plunder met gemak.
Wat gaan Saps maak met 2 in n van met 500 honderd wat op Hulle toesak.
Ek weet wat almal van ons sal doen, so ek Kan nie Dink wat regtig Kan gebeur as Hulle nie Zuma Los laat nie.
Anders moet land Hulle weermagte in die duisende nee miljoene na ons stuur, en met covid en ald die BLM veldtogte is ons in moeilikheid.
Of dit nou Lockdown level 5 is wat Ramaphosa afkondig of nie, ons sal ons koppe nie by huise Kan uitsort in die Dae wat Kom nie.
Die geweld gaan na ons buurte toe Kom, en Niehaus lag nou Baie lekker

Francois ·

Kla Celle en Ramaposa aan vir minagting en weens hulle stilswye oor die land wat brand. Cele is n bondgenoot van Zuma daarom skitter hy in sy aanwesigheid

piet ·

Ek verneem met groot afwagting wat jou werkbare oplossing vir die land sou wees.

Pieter ·

Dit sal my nie verbaas as die werkloosheidsyfer ook nou gaan styg nie. Ek glo dat daar winkels is wat hierdie terroristiese plundery nie gaan oorleef nie, en nie weer sal kan sake doen nie. Daardie winkels se werknemers sal dan sonder werk sit, en geen inkomste hê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.