Winkelsentrum deels ontruim ná storm Jhb tref

Die storm in Lenasia en omliggende omgewings. Foto: Twitter via @CityofJoburgEMS.

Paramedici is laat Saterdagmiddag na verskeie tonele in die suidelike en westelike dele van Johannesburg uitgeroep ná ʼn swaar storm.

Dele van die dak by die Trade Route winkelsentrum in Lenasia het ook inmekaargesak.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê hul paramedici is net voor 17:00 uitgeroep na ʼn toneel in Lenasia waar die strukturele komponente van ʼn gebou inmekaargesak het.

Volgens Vermaak is sommige van die mense reeds na nabygeleë hospitale vervoer teen die tyd dat die paramedici by die toneel opgedaag het. Volgens hom was daar ook plaaslike nood- en brandweerdienste op die toneel.

Volgens ʼn personeellid van African News Agency wat toevallig ten tyde van die voorval in die winkelsentrum was, is sommige mense gevra om van die winkels en flieks te ontruim.

Volgens die personeellid is die Food Lover’s Market veral erg geraak toe groot dele van die dak as gevolg van die swaar reën inmekaargesak het.

“Die water was tot by ons enkels soos hulle besig was om die boonste verdieping op te ruim. Die onderste verdiepings is nie erg geraak nie, net ʼn paar plasse water,” het die personeellid gesê.

Vermaak het gesê ses mense is ook in ʼn taxi-ongeluk beseer ten tyde van die storm.

Die voorval het op die N12 naby Impalaweg plaasgevind. “Verskeie van die passasiers het diep snywonde en beenbreuke opgedoen,” het Vermaak gesê. Volgens hom is talle berigte van ander geringe ongelukke tydens die storm ook ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

hendrik ·

Dit lyk soos sneeu maar nerens in die berig word van sneeu gepraat nie.

Nie sneeu nie ·

Hael storm gewees

Dit gaan ‘n rowwe Januarie 2018 wees . . . dis DAN wanneer die land sy maksimum temperature bereik & die tropiese siklone Madagaskar & Mosambiek “gas gee” vanweë die abnormale hoë temperature
TV Nuus voorspel dat Pretoria 37°C gaan bereik op Nuwejaarsdag . . . hier kom ‘n ding

Thea Gerber ·

Ek het ook gewonder waar kom fie sneeu/hael vandaan, want die berig praat net van swaar reën

Oorsaak ·

Nie die reën maar die hael wat bly lê wat dan die ineenstorting veroorsaak.

Dafer ·

Vrinne ek oordeel maar net op die bostaande drie fotos. Ek sien nerens ‘dele van die dak wat inmekaar gesak’ het nie. Net plafonne wat ineengestort het. Die dak staan nog!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.